Deur Paul Joubert

 

Die Amerikaanse koffiewinkelketting Starbucks gaan in 2016 sy eerste winkels in Suid-Afrika oopmaak. Die plaaslike kitskosgroep Taste Holdings, wat talle ander eetplekke in Suid-Afrika bedryf, het 'n ooreenkoms met Starbucks gesluit om dié koffiewinkels plaaslik oop te maak.

 

Starbucks is bekend vir 'n swetterjoel van verskillende soorte koffie wat teen astronomiese pryse verkoop word. In sommige wêrelddele is dit so gewild dat daar stadskernstraatblokke is met 'n Starbucks op elkeen van die vier hoeke is, ten spyte daarvan dat die koffie veelvoude duurder as by talle ander koffiewinkels is en natuurlik ook veel duurder is as om koffie self by die huis of kantoor te maak.

 

Waarom is Starbucks se peperduur koffie dan so gewild? Dit kan tog nie soveel lekkerder wees as ander koffie nie? Behoort dit nie dan verbied te word, sodat mense kan ophou om hul geld daarop te mors nie? Andersins, as dit dan wel so lekker is, behoort Starbucks nie die koffie goedkoper te verkoop nie, teen 'n prys wat nader aan sy insetkoste is? Met sy geweldige pryse maak die maatskappy mos wins ten koste van verbruikers?

 

Sulke vrae en standpunte word dikwels geopper, selfs deur mense wat hulself andersins as voorstanders van die vrye mark sal beskryf. Dit maak egter nie werklik sin nie. Enige maatskappy wat 'n spesifieke produk of diens lewer, kan enige prys daarvoor vra wat hy wil. Dit word dan aan die verbruiker oorgelaat om te kies om die produk of diens te koop of om eerder 'n mededinger se soortgelyke produk of diens te koop. Indien genoeg verbruikers aanhou om “belaglike” pryse te betaal, beteken dit dat die pryse nie werklik belaglik is nie. Dis een ding om oor pryse te kla, maar sonder om na 'n mededinger oor te skuif, beteken dit nie veel nie.

 

'n Voorbeeld hiervan is mense van Suid-Afrika wat jare lank al kla oor hoe duur Coca-Cola geword het, maar steeds weier om enige van die mededingende produkte te koop. Solank 'n maatskappy se verkope nie afneem wanneer pryse verhoog word nie, sal die pryse net aanhou styg. Verbruikers het die vryheid om te kies watter produkte hulle wil koop – deur dit uit te oefen, kan onverskillige gedrag deur maatskappye bekamp word.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close