Solidariteit Blog
Algemeen, Gemeenskappe, Politiek -

Stem, maar maak óók jou stem dik

In die opbou na 8 Mei word Suid-Afrikaners van alle kante beleër deur politieke partye en ontleders wat met verskeie teorieë en standpunte vorendag kom oor hoekom en vir wie jy moet stem en wat die uitwerking van jou stem, al dan nie, op die toekoms van die land gaan wees. Dit kan soms ingewikkeld raak om in hierdie moeras van inligting enigsins 'n idee te kry oor wat werklik die regte opsie is wanneer dit kom by waar en of 'n mens enigsins jou kruisie op verkiesingsdag moet trek. Dit is uiteraard nie moontlik, of wenslik nie, om vir mense te sê wat die beste vir hulle sou wees nie. Dalk kan hierdie artikel wel so 'n bietjie rigting gee te midde van die digte mis rondom die onderwerp.

Hoekom sou mens stem? Die media beklemtoon hoofsaaklik twee opsies: 1) dit is om vir jou voorkeurparty 'n setel in die parlement te bekom sodat hulle jou kan verteenwoordig en 2) dit is om te voorkom dat die regerende party, sou jy nie met hul beleid saamstem nie, nog meer setels ontvang. Dit is aan die een kant vreeslik ingewikkeld om die stemproses presies uiteen te sit, maar dit is aan die ander kant ook verspot maklik om die gevolge daarvan te verduidelik. Eenvoudig gestel, jy stem of vir 'n betrokke party, teen 'n ander een, of vir 'n kombinasie van die twee.

Ons almal verstaan die eerste opsie. Sou jou party kwalifiseer om 'n setel in die parlement te ontvang, beteken dit dat die party (hopelik) jou belange in die parlement sal verteenwoordig. Die tweede opsie is egter effe meer kompleks en hou verband met die kiesstelsel en die kwota wat gebruik word om setels in parlement te bepaal, naamlik die sogenaamde Droop-formule. Dit word algemeen aangevoer dat 'n stem vir een van die kleiner partye 'n stem is wat gemors is veral as die party nie genoeg, of selfs enige setels in die parlement bekom nie. Dit is egter onsin. Gegewe die manier waarop die kiesstelsel funksioneer, kan kleiner partye setels van die regerende party afrokkel, al word dié setels nie noodwendig aan daardie betrokke party gegee nie. As dit dus jou primêre beweegrede is om te probeer om die regerende party se invloed in die parlement te beperk, dan bereik jy hierdie doel bykans ewe goed ongeag vir watter party jy uiteindelik stem.

Daar is egter 'n derde rede hoekom 'n mens stem – een wat grotendeels geïgnoreer word in die openbare gesprek oor wat op 8 Mei moet gebeur. Tussen al die strategiese bepeinsing en pragmatiese afruilings val een redenasie deur die krake en dit is dat 'n mens doodeenvoudig net moet stem vir die party wie se beleid die meeste strook met jou eie waardes. Anders gestel – stem vir wie jy ook al voel jou belange deel en jou oortuigings verteenwoordig. Wat is immers die punt daarvan om vir 'n party te stem wat nie jou waardes deel nie? Hoe verteenwoordig hulle jou belange wanneer hulle nie eens daarop ag slaan nie? Natuurlik mag jy dalk voel dat nie een van die partye jou waardes volkome verteenwoordig nie. Elkeen moet dan vir hom- of haarself uitmaak of hulle bereid is om vir die naaste gangbare opsie te gaan, of om hul stem te weerhou. Myn insiens is die perfekte dikwels die vyand van die goeie en soms moet mens maar iets wat goed is aanvaar, al is dit dan nou nie perfek nie. Die vraag word dan: “Watter party wil die land nader bring aan my ideaal bring, al gaan die party dit nie noodwendig heeltemal verwesenlik nie?” Op 8 Mei begin al die partye op nul. Vergeet van die voorspellings en stem net volgens jou gewete.

Ek sluit af met 'n laaste punt en dit is dat ongeag hoe jy op 8 Mei stem, jy jou stem ook elders moet dik maak. 'n Beter regering is uit die aard van die saak meer wenslik as 'n swakker een, maar as jy gaan stem omdat jy glo dat dit van Suid-Afrika 'n beter land gaan maak, dan het ek 'n veel meer doeltreffende voorstel waarmee daardie beter land bereik kan word. Raak betrokke in jou gemeenskap. Help bou aan daardie toekoms wat jy graag wil sien. Moenie jouself blind staar teen die hoop dat een of ander vorm van politieke bevryding om die draai is nie. Indien ons volhoubare vryheid, veiligheid en voorspoed in Suid-Afrika gaan sien, dan gaan dit wees omdat gemeenskappe self daardie werklikheid gebou het en nie teruggesit het in die hoop dat politici dit namens hulle sal bewerkstellig nie. Stem asseblief op 8 Mei, maar doen meer as dit – maak jou stem dik vir die toekoms wat jy wil bou deur aktief betrokke te raak by inisiatiewe wat jy steun en deur aktief weerstand te bied teen verwikkelinge waarmee jy nie saamstem nie.

Daar is ongeveer 1 826 dae tussen verkiesings. Maak seker dat jy nie net op een van daardie dae betrokke is nie.

  • 133
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Back to top