Algemeen -

Stem Suid-Afrika se politici uiteindelik saam oor iets?

Daar is iets komies aan die gesprekke rakende verandering wat ons wetgewing in die gesig staar. Dit was juis daargestel om verbetering mee te bring, en tog is dit die einste ding wat dreig om ons oor die afgrond te druk. Suid-Afrika staan voor 'n nuwe stel hindernisse, en soos gewoonlik moet ons dit sonder die hulp van ons regering oorkom.

In Desember van 2021 stel die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) dit duidelik aan die regering dat breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en regstellende aksie ons land as geheel benadeel, en dat dit nie die regering se kamma-missie bereik om positiewe verandering vir die voorheen benadeeldes teweeg te bring nie. Ons kan vandag met oortuiging sê dat hierdie regering se doelwit van vereniging ten einde laaste 'n “ons” en 'n “hulle” geskep het – die steeds benadeeldes en die nuwe benadeeldes. Hierdie mislukte wetgewing laat die ekonomie agterbly, belemmer groei, en is uitsluitend eerder as inklusief – soos hulle dit sou wou voordoen.  Hulle verkoop die (vanselfsprekende goeie) idee dat ekonomiese geleenthede verbreed moet word, maar dan tree hulle op asof dit bloot net verplaas kan word. In plaas van almal insluit en welvaart skep, word alles net na kaders se sakke oorgedra.

Op 24 Maart 2022 heers daar 'n atmosfeer van verandering in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) oor die sukses al dan nie van die ANC-regering se BBSEB en regstellende aksie. En die algemene opinie? 'n Katastrofe. Die VF+, DA en IFP maak hulle standpunt duidelik – BBSEB en regstellende aksie faal.

Rasgedrewe kwotas heers in byna elke afdeling van ons ekonomie, en dit verseker dat positiewe ekonomiese groei onbereikbaar bly. Dit blyk egter te wees dat hierdie kwotas nie net die voortbestaan van ons land en deelname van die jeug in die ekonomie belemmer nie, maar ook seker maak dat slegs die politieke elite en hulle nabye verbintenisse verryk word terwyl die oorgrote meerderheid van ons land verarm. Hulle bevoordeel nie bloot een rasgroep ten koste van 'n ander nie; hulle raak skatryk ten koste van die res van ons. Die groot en klein hiervan staar almal daagliks in die gesig:
– As jy wil werk, is daar aanstellingskwotas waaraan voldoen moet word.
– As jy wil groei in jou beroep, is daar nog kwotas.
– As jy wil swot met 'n beurs, ja jy het weer reg geraai, daar is kwotas.
– En dan noem ons nog nie eers die feit dat selfs noodbefondsing om besighede tydens die piek van 'n verwoestende pandemie te red ook op grond van, ja, kwotastelsels toegepas is nie.

Die huidige stand van sake is gevolglik so: Die ANC se regulasies en burokrasie hou ons terug. Dit hou ontwikkeling en buitelandse belegging weg, staan in die pad van algemene vooruitgang, en maak net die koffers van 'n uitgesoekte groepie vol. Tussendeur die rompslomp wat in die pad van enige sakeonderneming staan, probeer jong entrepreneurs om iets van hulself te maak, jong mense probeer in die werksplek inkom, en die oorgrote meerderheid mense verarm.

In dieselfde NRP-vergadering op 24 Maart sê Fikile Majola, adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging, dat dit van geen nut is om die sogenaamde teëspoed wat sy party se wetgewing in die gesig staar, te opper nie. Volgens Majola is die probleem hiermee dan natuurlik nie hulle uitkyk, werk of toepassing van agterstevoor wetgewing om mee te begin nie, maar eerder Suid-Afrikaners wat in die pad daarvan staan, of enige rede wat dan nou aan die orde van die dag is en gemaklik as verskoning gebruik kan word. 'n Mens kan mos nie toelaat dat 'n simpel ding soos feite of gevolge in die pad van 'n mooi idee kom nie – veral nie as daardie mooi idee vir jou en jou vriende sulke oulike motors besorg nie. Dit alles terwyl hulle oor die ondergang van Suid-Afrika heers.

Ten spyte van hierdie traak-(my)-nie-agtige houding wat klou aan diegene wat “lei”, is daar vooruitgang in minderheidsgemeenskappe te bespeur. Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat hierdie vooruitgang ten spyte van, en nie te danke aan, ons “leiers” is nie. Daar vind onafhanklike ontwikkeling in die akademie plaas, mense wat saamstaan in die naam van dit waarin hulle glo verseker dat skole gebou word, en vooruitgang van dié wat deurlopend uitgesluit word, word verseker deur 'n onbeperkte passie en dryfkrag vir groei.

Die een ding wat hierdie ANC-regering wel regkry, is om 'n groep mense wat ideologies so uiteenlopend is dat hulle nooit doelbewus saam in dieselfde vertrek sou wees nie, wat nog te sê saamstem oor enige denkrigtings, kon laat saamstem teen hulle. Mense, dwarsoor grense, is besig om keelvol te raak. Hulle is besig om op te staan teen ongeregtigheid en hulle is besig om vas te skop teen die ANC se rasse-ideologie en sy benadeling van Suid-Afrika.

  •  
  •  
  •  
Deur Franco van der Berg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close