Algemeen -

Stilbly is ook ‘n antwoord

Partykeer kan mense so onnadenkend optree.

Hulle val jou aan. Hulle sê iets wat seermaak. Hulle maak aanmerkings wat jou nie aanstaan nie. Hulle stuur boodskappe wat gevoelloos is. Die lysie gaan aan en aan…

Ja, ons almal het dit ook al self gedoen!

Ons maak ‘n “grappie” en lag daaroor – ten koste van ‘n ander. Ons sê soms te vinnig iets voordat ons aan die implikasie(s) dink.

In hierdie wêreld waarin dit voel of die minute al hoe vinniger verbysnel – moet ons vinnig praat, vinnig reageer, vinnig ALLES. Daar is nie meer tyd om stil te staan en te dink oor die dinge wat saak maak nie. Watwou te dink oor wat ons woorde aan ‘n ander se binneste kan doen.

Wanneer iemand so optree, wil jyself ook dadelik tot die aanval oorgaan. Terug seermaak en terug baklei. Dit word ‘n bose kringloop wat op die ou end niks goeds voortbring nie. Inteendeel.

Probeer in so ‘n situasie eerder om liewer net te glimlag (as jy kan) en stil te bly.

Om selfgeldend te wees, het natuurlik sy plek. Ek sê nie jy moet mense toelaat om bo-oor jou te loop en hulle te soebat om dit nog ‘n keer te doen nie!

Deur stil te bly en dalk tot by 100 te tel as dit moet, keer jy die verdere uitbarstings en tirades. Jy smoor dit in die kiem. Jy tree nie verkeerd op nie. Weliswaar sal jy kwaad word – maar ten minste sal jy nie die een wees wat nie gedink het voor hy/sy gepraat het nie. Sal jy nie later jou woorde en dade berou nie.

Die wyse Salomo het die volgende nie verniet gesê nie: ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam (Spr. 15:1).

Soos meeste van ons se Ma’s altyd vir ons geleer het: Stilbly is ook ‘n antwoord… ‘n Antwoord wat soms harder praat as ‘n lelike aanmerking.

Meestal voel jy self ook beter omdat jy liewer stilgebly het as om terug te baklei. Al is dit soms heelwat later.

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close