Algemeen, Nuus, Politiek -

Strafklagte – uiteindelik meer as net simboliek?

Redelike Suid-Afrikaners weet hoe om op die beste te hoop terwyl jy jou op die ergste voorberei. “Erg” is dan nou natuurlik 'n relatiewe term. Vir sommige mense is dit erg wanneer hulle in die verkeer vasval. Vir ander is dit weer erg as 'n koppie koffie nie aan die verwagting voldoen nie. Ek dink dis erg dat die politieke elite in ons land saam met hul kaders in spogmotors rondry, terwyl die oorgrote meerderheid mense óf in armoede leef, óf daarnatoe op pad is.

Daar is egter nie 'n maatstaaf vir “erg” as dit kom by die misbruik en pad van verwoesting wat die afgelope paar jaar aan die orde van die dag is nie. Wat wel verkeerd is, is dat dit as normaal aanvaar word. En dit is verkeerd van sekere mense om te dink dat Suid-Afrikaners siende blind is. Die kruks van die saak is dan nou so: Sekere uitgesoektes het rojaal vir hulself uit die trog geskep, ten koste van Suid-Afrikaners, die mense teenoor wie hulle verantwoordbaar behoort te wees. Dit laat 'n mens soms eintlik wonder of hulle nie die meubels ook sou uitdra as dit nie fisieke inspanning geverg het nie.

As 'n mens dink aan hoe verantwoordbare politici lyk, is dit selfs vir die heel vindingrykstes onder ons moeilik om jou so 'n persoon voor te stel wat nie fiktief is nie, veral as 'n mens dink aan die keuse van Suid-Afrikaanse leiers waaruit ons kan kies. Die lys van teleurstellings is byna te lank om op te noem, maar daar is nou 21 teleurstellendes, waarvan 19 mense is en 2 maatskappye is. En daar is een Solidariteit.

Dit is maklik om jou geloof in die regstelsel te verloor, veral wanneer daar nie eers mense in ons regering is wat werklik hul duur karre, groot salarisse en vryheid buite 'n tronksel verdien nie. Wanneer nog 'n klag dus juis teen hulle ingedien word – wag, laat ek my net korrigeer – wanneer een organisasie hom aan sy woord hou en 'n klag indien om te verseker dat verantwoordbaarheid en geregtigheid geskied, is dit makliker om daaraan te dink as 'n klug as wat dit is om daaraan te dink as iets wat hulle moes doen.

Dit is die fout wat die liggelowiges en die beskuldigdes maak. Op die oog af kom dit voor of mense met die regte vriende, familie of kontakte werklik sonder enige gewetenswroeging net met hul lewe kan aangaan. Die waarheid is egter dat die opskudding van Solidariteit se klagte reeds skokgolwe uitgestuur het, en mense begin reeds bewe. Die Jacob Zuma-stigting, oftewel beskuldigde nommer een se stigting, het reeds gereageer deur aan te dring dat daar geen bewys van enige kwaadwillige optrede is nie. Nou hoe dan nou, meneer die voormalige president? Het almal nie die Zondo-verslag gesien nie? Is een plus een dan nou nie meer twee nie?

Die groot krisis is egter nie óf mense verantwoordbaar gehou gaan word al dan nie, maar oor hóé ons by 'n punt gekom het waar niemand meer omgee nie. Hoe is dit dan nou dat daar een stel reëls vir ons is en 'n ander stel vir hulle? Of het die mense net so gewoond geraak aan misdrywe dat dit so voel? Dit klink meer na die regte vraag. Daar is eerder 'n gedeelde gevoel van wanhoop onder 'n bevolking wat sien hoe dinge verkrummel sonder die moontlikheid of keuse om aan 'n verbetering mee te doen.

Die werklikheid lyk egter so: Wanneer 'n mens onverantwoordelik optree en Suid-Afrika se mense te na kom, kom jou dag ook. Soos my ouers altyd sê: “Die wiel draai stadig, maar gewis, my kind.” Nou ja toe, die wiel draai nou, al het dit aanmoediging benodig.

Mag ons almal eendag, in die nabye toekoms, aanskou hoe oranje oorpakke die peperduur pakke en ontwerpersuitrustings van die elite en hul kaders wie se name op hierdie klagstaat verskyn, vervang.

Sien die klagstaat hier.

  •  
  •  
  •  
Deur Franco van der Berg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close