Algemeen, Nuus -

Suid-Afrika: Dubbele standaarde rondom rassisme en sosiale media

 

 

 

 

 

 

Die jaar 2016 het skaars die lig gesien of die herrie is los oor rassistiese opmerkings op Twitter en Facebook.  Die jaar waarin droogte die ekonomie lamlê, die staat die land in skuld dompel en almal planne maak om 2016 te oorleef, skop tegelykertyd af met ’n oor-en-weer moddergooiery.  Wie is die groter rassiste?  Wit mense is rassiste! Swart mense “fight” net die “struggle” en kan nie rassisties wees nie! Maar in werklikheid geniet net sekere opmerkings aandag en ander word onder die mat in gevee. Hierdie foutiewe persepsies word versterk deur die media, politieke partye en maatskappye wat op die rug daarvan ry.

Verlede jaar het Solidariteit in ’n skrywe aan die Universiteit van Johannesburg daarop aangedring dat daar dissiplinêr opgetree moet word teen 'n dosent wat toe reeds vir 'n geruime tyd snedige en afbrekende aanmerkings, spesifiek teenoor wit mense, op haar persoonlike Twitter-profiel gemaak het.  Na verskeie gesprekke en onderhandelings het die Universiteit ingestem en is sy na afloop van ’n interne ondersoek afgedank

foto

In Penny Sparrow se geval het sy behoorlik aan die pen gery.  Alhoewel Solidariteit geensins haar aanmerking ondersteun nie, is dit baie duidelik dat ander maatstawwe hier geld –  die dubbele standaarde wat in Suid-Afrika heers.  Verskeie politieke partye en maatskappye het klagtes teen haar ingebring en haar loopbaan en reputasie is daarmee heen.  Hoe kan so iets slegs vir een persoon van ’n bepaalde etniese groep geld, maar nie vir almal in Suid-Afrika nie?  Solidariteit en AfriForum kom daagliks op verskeie afbrekende kommentare af, wat geensins hierdie soort aandag geniet nie  (sien voorbeeld hieronder).

12495183_1000910016646970_6578421109555246216_n

Dr.  Eugene Brink, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het in Januarie 2015 ook ’n blog getiteld “Ligloop met stellings op sosiale media” geskryf.

Volgens Brink is die skade wat hierdie stellings aanrig tweërlei van aard. Eerstens berokken dit jou as indiwidu skade en kan dit jou professionele en persoonlike lewe verwoes. Tweedens word daar dadelik aan die skrywer van enige kommentaar se groep ’n bepaalde konnotasie geheg.

 

Die redenasie word dan ook geopper dat indiwidue geregtig is op hul mening en hulle dit in hul persoonlike hoedanigheid lewer.  Dit is egter nie so eenvoudig nie. In ons rasbewuste en rasbehepte samelewing word sulke kommentaar dadelik op daardie persoon se kulturele en etniese groep, asook hul taal, se brood gesmeer, sê Brink.

 

Brink dui aan dat dit skietgoed word om hulle almal by te kom en groepsgebaseerde diskriminasie en haat te regverdig. Die “rassis”-kaart word reeds kwistig en onbillik teen ons as Afrikaners ingespan en die laaste ding wat ons wil doen is om dit gestand te doen.

 

Dit is die geval met ekonoom van Standerd Bank, Chris Hart.  Hy het slegs ’n polities inkorrekte stelling gemaak, wat dadelik met rassisme verwar is en hy is summier geskors. In sy tweet het hy gesê dat die aantal slagoffers 22 jaar na apartheid vermeerder het, tesame met ‘n gevoel van toe-eiening en haat teenoor minderhede.

 

Ons by Solidariteit wil tog egter aan die begin van 2016 ’n pleidooi lewer om groter omsigtigheid in te span wanneer ons op die sosiale media en Internet kommentaar lewer. Die groei van die Internet het die media en die verbruikers daarvan met groter anonimiteit en meer seepkiste toegerus.

 

Laat daarom ook ander se rassisme van jou afrol deur dit af te lag, aan die kaak te stel of bloot net te ignoreer. Niemand het geldige aansprake op meerderwaardigheid teenoor ander nie en deur kwaad te word en terug te beledig, laat jy hulle wen.

 

Maar baie belangrik:  al hierdie vriendelike advies beteken ook nie ons moet onsself nie op die sosiale media en in Internet-kommentaarkolomme laat geld nie. Dit tel onder die vernaamste moderne openbare meningsruimtes en ons moet dit ten goede en onverskrokke gebruik. Maar laat ons deur ons juiste argumente en gevatte antwoorde die stryd om idees en harte voer en wen; nie deur banale beledigings, growwe veralgemenings, ad hominem aanvalle en goedkoop retoriek nie. Vryheid van spraak beteken nie vryheid van haat nie.

 

Vra jouself af voordat jy iets skryf: baat dit my? Baat dit my gesin, vriende en kollegas? Baat dit my kultuur en sy mense? Gaan dit enigsins iets verander? As die antwoord op enige van hierdie vrae “nee” is, gee jouself nog tyd om oor jou kommentaar na te dink en laat jou ergernis eers afkoel. Dit sal onskuldiges ’n etiket en pyn spaar wat hulle nie verdien nie en jou huidige werk en toekoms sal nie onnodig in die gedrang kom nie.

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close