Uncategorized @af -

Suid-Afrika se beleid bekommer tót die voormalige Venezolaanse minister en ekonoom, Ricardo Hausmann

Groot was my verbasing toe ek Woensdag 7 Maart 2017 se Business Day-koerant oopmaak en die volgende opskrif van 'n opiniestuk lees: “Fears SA is driving into a dead-end street” met die subopskrif: “Nation’s radical political turn and massive corruption alarm economist from Venezuela”.

 

Die artikel verwys na 'n besoek van die Harvard-ekonoom Ricardo Hausmann wat voorheen as Venezuela se minister van beplanning in die 1990’s gedien het.

 

As iemand wat ekonomiese sake dophou, is 'n aanmaning van 'n ekonoom oorspronklik van Venezuela nogal iets om oor te glimlag – of miskien eerder om oor te huil. Dit is sekerlik nie vergesog om te dink dat die huidige toedrag van sake in Venezuela vir meneer Hausmann stof tot nadenke is nie. Venezuela staan tans verseker nie uit as 'n baken van uitnemende ekonomiese beleid of prestasie nie. Inteendeel, sy ekonomie is deur jare en jare van skadelike beleid lamgelê.

 

Inflasie het weens 'n sentrale bank wat regstreeks geld druk die afgelope paar jaar die hoogte ingeskiet. Reuters het in Januarie berig dat Venezuela se bruto binnelandse produk (BBP) in 2016 met 'n enorme persentasie van 18,6% gekrimp het terwyl inflasie (wat moeilik is om akkuraat te meet) die 800% merk getref het.

 

Dié is natuurlik net syfers totdat jy die smart van die man en vrou op straat in Venezuela raaksien. In mediaberigte word lang rye by winkels gesien, kos en verbruikersitems is skaars – soveel so dat die gemiddelde persoon in Venezuela blykbaar al weens wanvoeding gewig verloor het. Sommige van ons sal dankbaar wees om 'n paar kilo’s af te skud, maar ek is seker, nie weens só 'n ekonomiese gyselaarsituasie nie.

 

Dit is as’t ware in sulke gevalle waar die spreekwoordelike tekkie die teer slaan – waar die teoretiese idees van politici en hul ekonomiese raadgewers tot 'n smartvolle gevolgtrekking kom. Uiteindelik kan jy nie politieke beloftes eet nie en is daar sekere ekonomiese wette wat nie omseil kan word nie.

 

Kortliks gestel – volhard met swak sosialistiese beleid en een of ander tyd gaan die kierankies uitbraai.

 

Venezuela se ekonomie, voorheen baie ryk aan oliekapitaal, is deur onverantwoordelike beleid só afhanklik aan oliemarkte gelaat dat dit nie die 2014-terugsakking in oliepryse kon teëstaan nie.

 

Wat gereeld uit die oog verloor word, is dat dit juis beleid is wat veroorsaak dat sommige lande so aan hulpbronmarkte, soos olie of minerale, uitgelewer raak.

 

Lande soos Hong Kong, Mauritius en Singapoer, wat min natuurlike hulpbronne het, kon in verskillende markte en produkte diversifiseer en sterk ekonomieë bou. Politici in dié drie lande het almal die regte stel reëls en 'n gunstige sake-klimaat toegelaat. Wat verhoed dan 'n land soos Venezuela (of Suid-Afrika) om dieselfde te doen?

 

Die sogenaamde “hulpbronvloek”, soos dit soms genoem word, is miskien nie 'n gegewe nie en is beslis oorkombaar, maar dit is nie oorkombaar in 'n beleidsraamwerk van skadelike sosialistiese beleid wat 'n diverse en produktiewe ekonomie lamlê nie.

 

Volgens meneer Hausmann het die radikale beleid wat sedert die Chavez-regering op Venezuela afgedwing is, 'n groot aandeel in die huidige smart gehad. Hy beskou die sogenaamde “radikale beleid” wat plaaslik in retoriek ook aan die toeneem is, as 'n groot risiko waarvan Suid-Afrika kennis moet neem – en by implikasie eerder moet vermy. Hy verwys ook na Zimbabwe wat 'n soortgelyke radikale beleid met katastrofiese gevolge onderneem het.

 

Na wat berig word, betreur Hausmann die feit dat die ANC-regering en die tesourie min ag geslaan het op ekonomiese voorstelle wat hy tesame met ander raadgewers in 2008 as deel van 'n internasionale paneel oor groei vir SA gemaak het. Verder noem hy tereg dat vrot ekonomiese en politieke denke plaaslik toegeneem het.

 

Hiermee kan ons saamstem. Die Solidariteit Navorsingsinstituut hamer gereeld op die noodsaak van 'n meer sakevriendelike, minder ideologies gelaaide sake-omgewing en samelewing. Gemeet aan die jongste begroting en die staatsrede val dié gedurige aanmanings van Solidariteit en ander soortgelyke instellings wat uit dieselfde mond praat, tans nog op dowe ore.

 

As daar dan nie na ons geluister word nie, sal daar enigsins op 'n ‘profeet’ van Venezuela ag geslaan word?

 

Hausmann se vrees vir Suid-Afrika is dat die land in 'n doodloopstraat sal opeindig vanwaar uitkoms moeilik is.

 

Gemeet aan verskeie elemente, soos die druk op die nasionale begroting, swak BBP-groei en die hernude risiko van 'n soewereine afgradering, is sy vrese gegrond. 'n Doodloopstraat is ook ons kommer en die rede hoekom ons sterk agiteer vir ware vryheid in die ekonomie en in die samelewing.

 

Uiteindelik, soos ons in Venezuela sien, dra skadelike beleid onvermydelike gevolge en dié gevolge hou gewoonlik die grootste nadeel in vir diegene wat die minste kan doen om hulself teen skadelike beleid te verskans.

 

Vir die meeste van ons is daar min opsies omdat ons tot 'n mate uitgelewer is aan die besluite van 'n meerderheidstem-regering en die gevolge van sy beleid, maar dit wat binne ons beheer is om te doen, moet ons met alle mag doen.

 

Vir die Beweging beteken dit die bou van ons eie veiligheidsnette en instellings waarin ons die storm van staatsverval en huidige radikalisering kan oorleef. Hoe groter die risiko’s raak, hoe harder en meer doeltreffend moet ons saamwerk.

  •  
  •  
  •  
Gerhard van Onselen Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close