Uncategorized @af -

Suid-Afrika se ekonomiese uitset per kop sedert 2007 swak – 2015 stel ook teleur

In die Januarie – Maart 2016-uitgawe van die Suid-Afrikaanse Arbeidsmarkrapport het ons kollega van ETM Analytics, Russell Lamberti, 'n vergelykende studie oor die groei in SA se BBP per capita (totale ekonomiese uitset per kop) teenoor ander lande onderneem.

 

Lamberti se waarneming in die eerste kwartaal van 2016 was kommerwekkend; sedert 2007 staan SA se BBP-uitset per kop in dollar gemeet bykans stil. Nog erger, dit het sedert 2013 in dollar begin afneem. (Wanneer ons in ag neem dat ons in SA baie produkte invoer, is 'n verswakking van ons BBP gemeet in dollar nie wat ons wil sien nie.)

 

Die Wêreld Bank-syfers, wat vir hierdie doel ontleed is, gee meer insig in hierdie verband. Oor die tydperk 2007 tot 2014 het SA se BBP per capita, gemeet in Amerikaanse dollar (USD), en aangepas vir inflasie, slegs met 3,1% toegeneem. (Die gemiddelde jaar-tot-jaar-groeikoers van die syfers was slegs 0,34% vir 2007 tot 2015.)

 

Volgens ons jongste ontleding van dié jongste betrokke syfers, wat op Lamberti se ontleding van K1 2016 voortbou en nou die 2015 Wêreld Bank-syfers insluit, vertoon die inflasie-aangepaste BBP-groei per capita gemeet in Amerikaanse dollar van 2007 teenoor 2015 selfs nog swakker.

 

Wanneer 2007 met 2015 vergelyk word, het die BBP gemiddeld per persoon met slegs 2,7% toegeneem (dit was 3,1% vir 2007 vergelyk met 2014). Aan die einde van 2015 het dié BBP-syfer per kop by 7 575 USD gestaan, swakker as die 7 604 USD per kop in 2014. Die volgende tabel verskaf 'n uiteensetting van SA se BPP per capita in VSA-dollar en aangepas vir inflasie met 2010 as basisjaar.

 

Sedert 2013 het mense in SA, gemeet aan dié bogenoemde maatstaf, gemiddeld verarm. SA se groei in BBP per capita sedert 2007 was baie swak, selfs in vergelyking met heelwat lande wat met dieselfde eksterne ekonomiese omgewing as SA te kampe het.

 

In die K1-ontleding is SA op dié bogenoemde maatstaf met groot ontluikende markte, lande met hoë ongelykheid en lande met groot blootstelling aan metaaluitvoere vergelyk. Lamberti se gevolgtrekking in die eerste kwartaal van 2016, en wat tans steeds geldig is, was soos volg:

 

Elke land het eiesoortige uitdagings en geleenthede. In Suid-Afrika se geval bied nóg sy hoë vlakke van ongelykheid, nóg sy kommoditeitsblootstelling egter ‘n voldoende verklaring vir die swak vertoning van die ekonomie. Ook het swak groei in die belangrikste ekonomieë wêreldwyd baie van die belangrike ontluikende markte nie naastenby in dieselfde mate aan bande gelê as wat na bewering die geval met Suid-Afrika is nie.

 

Die uitdagings vir Suid-Afrika, so lyk dit, is om beleid wat antagonisties is teenoor die sakewêreld, grootskaalse staatsinmenging en buitensporige regulering te bowe te kom. Wat in die besonder in Suid-Afrika uitstaan is regulatoriese onsekerheid, dreigemente oor eiendomsreg, die eskalasie van reëls vir swart ekonomiese bemagtiging, chroniese wanbestuur van groot staatsondernemings, en van die mees beperkende arbeidswetgewing ter wêreld. Al hierdie probleme vloei voort uit die etos van ‘n ontwikkelingstaat wat tans die land se ekonomiese beleid bepaal.

 

Uit ons jongste ontleding van die Wêreld Bank-syfers, is dit steeds duidelik dat nóg ongelykheid, nóg kommoditeitsblootstelling, nóg swak groei in die res van die wêreld SA se swak ekonomiese groei per kop voldoende kan verklaar, soos die opgedateerde (en nuwe) grafieke wat volg illustreer.

 

SA teenoor ontluikende lande

 

Wanneer Suid-Afrika se prestasie met selfs 'n groter aantal ontluikende lande as in die K1 2016-ontleding vergelyk word, val Suid-Afrika nog steeds naby aan die onderpunt van die lys.

 

Slegs ontluikende lande soos Slowenië en Griekeland, wat beduidend aan die Europese finansiële krisis blootgestel is; Venezuela en die Oekraïne, wat politieke krisisse en selfs konflik in 2015 beleef het; en die Verenigde Arabiese Emirate en Oman, wat sedert Junie 2014 uitsonderlik aan die daling van oliepryse blootgestel was, het swakker as SA presteer. Die groot meerderheid van die ontluikende lande het klaarblyklik vir SA ekonomies uitpresteer.

 

Afhanklikheid van grondstof- en metaaluitvoere

 

Verder sien ons dat afhanklikheid van grondstof- en metaaluitvoere nog steeds ook nie SA se swak prestasie voldoende kan verklaar nie. Die meeste lande met vergelykende hoë netto metaaluitvoere as 'n persentasie van hul BBP het beter as SA op dié betrokke BBP-groei per capita-maatstaf presteer.

 

Inkomste-ongelykheid

 

Hoë ongelykheid in inkomstes verklaar ook nie SA se swak BBP-groei per capita nie, soos die volgende grafiek van 'n aantal lande met hoë ongelykheid van inkomstes, gemeet aan 'n gini-koëffisiënt van meer as 0.5, duidelik maak.

 

SAOG-lande

 

Laastens is SA se groei  in vergelyking met die ander lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) ook insiggewend. SA is oor die betrokke tydperk beduidend deur 12 van die 15 SAOG-lande uitpresteer.

 

Gevolgtrekking

 

Uiteraard het eksterne faktore sedert die groot finansiële krisis 'n invloed op die prestasie van SA se ekonomie gehad, maar tog, wanneer die grafieke hierbo in ag geneem word, blyk dit dat die impak van eksterne faktore beduidend minder van 'n impak gehad het op ander lande wat as SA se eweknieë beskou kan word.

 

Dit benadruk weereens die feit dat die huidige interne beleidsomgewing met erns hersien moet word en dat hervormings in die rigting van vryer markte, sekerder eiendomsregte en 'n bestendiger sake-omgewing wat groter sekerheid aan binnelandse en buitelandse beleggers bied, dringend nodig is.

 

Dit word beklemtoon in die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s se jongste opdatering oor die SA-regering se kredietgraderingsvooruitsigte. S&P, wat tans 'n negatiewe vooruitsig vir SA se regering se kredietgradering handhaaf, en in Desember 2016 die regering se langtermyn plaaslike geldeenheid-gradering (nie die buitelandse geldeenheid-gradering nie) afgegradeer het, word aangehaal. Volgens S&P is die volgende nodig om SA se vooruitsig op S&P se boeke van negatief na stabiel te verander:

 

We [S&P] could revise our outlook to stable if we observed policy implementation leading to improving business confidence and increasing private sector investment, and ultimately contributing to higher GDP growth and improving fiscal dynamics.

  •  
  •  
  •  
  •  
Gerhard van Onselen Deur Gerhard van Onselen


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close