Algemeen -

Suid-Afrikaanse openbare onderwys is deur die bank in 'n krisis gedompel

Oor die waarde wat skole aan 'n samelewing bied, is daar al oor eeue heen boeke vol geskryf. Die Franse skrywer, Victor Hugo, het gesê: “Wie 'n skool open, sluit 'n tronk.” Die filosoof Aristoteles het gesê: “Die wortels van onderrig is bitter, maar die vrugte is soet,” en oudpresident Nelson Mandela het bygevoeg: “Onderrig is die magtigste wapen waarmee jy die wêreld kan verander.” Oor millennia, oor kontinente en grense heen is daar instemming dat die pad vorentoe met boustene van onderrig geplavei sal wees, en moet wees.

Waarom, as daar hierdie universele instemming is, is Suid-Afrikaners – en veral jong Suid-Afrikaners – besig om ons openbare onderrigstelsels aktief te vernietig? Tydens die #FeesMustFall-protesoptogte van 2015 en 2016 is miljarde rande se skade aan universiteite aangerig, skade wat op verskeie plekke jare later, en selfs vandag nog, nie herstel kon word nie. Die oortuiging dat daar mag in veelheid lê en dat die massa die reg in eie hande mag neem, het skynbaar oorgespoel na die skole toe. Nadat leerders van Zwelinjani Secondary School in KwaZulu-Natal op 4 Desember hul rapporte ontvang het, het die leerders na bewering hul eie skool aan die brand gesteek want hul punte was te swak na hul mening.

Die benadering van die student wat skool toe of universiteit toe gaan in nederigheid en hard werk om te presteer, of selfs net hard werk om beter te verstaan, is skynbaar as paradigma geheel en al verwerp deur die Suid-Afrikaanse jeug. Die paradigma is nou dat instellings ons sal dien; instellings sal in nederigheid doen wat hulle moet doen om vir ons die loopbaandeure oop te breek, anders sal ons die instellings breek – dit blyk die benadering te wees.

Natuurlik is dit nie net die fisiese bates wat beskadig word nie. Ook die gehalte word aktief afgetakel. 'n Video het onlangs op sosiale media gesirkuleer van studente wat begin dreunsing het tydens 'n eksamenvraestel omdat die vrae te moeilik was en daar gaan basies nie 'n matriekeindeksamensiklus verby sonder dat etlike vraestelle nie uitgelek het nie.

Hierdie beskadiging maak ons moedeloos. Dit haal die nuus en 'n mens skud die kop, maar daaragter lê 'n denkwyse wat geen goeie vrugte ooit kan dra nie. Om 'n skool af te brand toon reeds dat die leerling geen eienaarskap van sy skoolgronde neem nie en daar kan dus afgelei word dat daar geen trots is nie. Verder ontneem die vernietiging van 'n skool die volgende generasie van onderrig. In hierdie stadium kan skole soms herbou word, maar die finansiële stand van Suid-Afrika sal beteken dat ruïnes van skole eersdaags moontlik net so gelos sal word en dit dan dalk vir jare so bly.

Suid-Afrika sit met 'n jong generasie wat glo dat hy die reg het om te vat, al is dit dan ook met geweld. Hy mag universiteitsgrade vat, al is dit dan omdat geen eindeksamen ooit plaasgevind het nie. Hy mag die volgende generasie se skole vat en aan homself die eksklusiewe, eenmalige gebruik daarvan toeëien.

Laat my toe om 'n donker voorspelling te maak: Die tyd van openbare skole en openbare universiteite in Suid-Afrika is verby. Sommige skole, waar personeel nog ywerig is, en waar kinders die perseel en die gehalte nog genoeg respekteer, mag dalk nog vir dekades aanhou om goeie onderrig te bied, en dit is wonderlik en moet ondersteun word. Die meeste jongmense moet egter daarmee vrede maak dat ons kinders in privaat skole en aan privaat universiteite hul onderrig sal ontvang. Ons huidige regering het nie die vermoë of die wil om hierdie instellings op standaard te hou, of enigsins te verbeter nie, en ons huidige jong generasie in Suid-Afrika het geen agting vir onderriginstellings, of vir die onderrig van generasies wat ná hulle kom nie.

Om te vlug is nie die antwoord nie. Hierdie tendens van kampusgeweld, opstande in skole en dies meer, kom wêreldwyd voor. Daar is maar een antwoord – selfdoen. Gemeenskappe moet skole oprig wat hul gemeenskap onafhanklik van die staat kan dien. Gemeenskappe moet universiteite uitbou wat, sonder om bakhand vir belastinggeld te staan, met die bestes ter wêreld kan meeding. Hierdie selfdoen gaan geld kos, maar om niks te doen nie, gaan soveel meer kos!

Paul Maritz is die koördineerder van Solidariteit Jeug. Om by Solidariteit Jeug aan te sluit, besoek www.jeug.co.za

  • 382
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close