Suid-Afrikaanse universiteite se “studente”

Dit maak my naar om in die media te lees van “studente” wat klippe gooi, afbrand, ontwrigting saai en personeel met rassisme teister by universiteite. Om nie eers te praat van studenteraadlede wat die voortou neem met hierdie onverskoonbare gedrag nie.

Waarom voel ek so? Die voor-die-hand-liggende rede: dit is teen my beginsels om af te breek, eerder as om op te bou. Dít is egter nie wat my die meeste ontstel nie. Wat my die meeste hinder is dat daar verwys word na hierdie betogers as studente.

Ja, letterlik gesproke, is hulle geregistreer by 'n universiteit om te studeer en is hulle tussen die ouderdom van 18 en 25, maar iemand wat geen respek het vir die instelling waar hulle studeer, en nie waarde heg aan kwaliteit onderrig en ordelikheid nie, kan tog sekerlik nie na verwys word as 'n student – in die volle sin van die woord – nie? Nee, 'n mens kan te verwagte wees dat 'n student wat tersiêre studies by 'n instelling wil aanpak dus nie die instelling sal verwoes nie. 'n Waardige student kan onmoontlik dink dit is aanvaarbaar om net eise te stel en dat, indien die eise vervul word, dit enige betekenis sal dra.

Óf, moet die betrokke universiteit se standaarde in twyfel getrek word? Sien, nuwe handelsmerke en taalbeleide – om polities korrek te wees – gaan dalk op 'n kortsigtige wyse die universiteit se leeftyd verleng, maar is die studente nie die produk wat universiteite uiteindelik moet lewer nie? En gaan die “produk” enige waarde hê as die term “student” verwys na al die jongmense wat gratis studeer en “nie akademies uitgesluit” word nie? Dan kan enige iemand mos 'n graad verwerf wat niks gaan beteken nie?

Studente (met die term in sy waardige gebruik), wat met erns en opoffering hul kwalifikasies wil verkry, moet vasbyt en hard werk. Hulle moet hulle bes gee om, terwyl hulle nog kan, 'n geakkrediteerde kwalifikasie by die tersiêre instellings wat met trots, meer as 100 jaar gelede, in ons land opgerig is, te verkry. Intussen kan privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech nie gou genoeg ontwikkel om hierdie volwaardige studente te ontvang nie. Ek hoop dat hierdie instellings, as lewende monumente van hoop, ook ander gemeenskappe sal inspireer om self te bou, wanneer daar in Suid-Afrika verder afgebreek word.

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close