Swart Maandag, die Reformasie en die Afrikaners

Toe Martin Luther 500 jaar gelede op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings onder die aandag van die Rooms- Katolieke Kerk gebring het, het hy hoofsaaklik een resultaat ten doel gehad: om die tekortkominge wat hy in die katolieke kerk ervaar het, reg te stel en om die kerk sodoende te reformeer. 'n Mens vergeet soms dat Luther die toekoms wel binne die groter kerk gesien het en dat die besluit om 'n nuwe kerk te vestig, eintlik met groot hartseer geneem is. Luther was immers daarvan oortuig dat die misverstande opgeklaar kon word en dat die kerk weer op die regte pad kon kom. Die protestantisme het eintlik ontstaan vanweë die feit dat leiers binne die katolieke kerk geensins geneë was om hul doen en late te verander nie. Vandag lyk die kerkprentjie heelwat anders. Kerke werk saam. Hulle sien hul toekoms as een waarin hulle aan mekaar verbind is en hulle kies om hulself te identifiseer volgens dít wat hulle in gemeen het eerder as die kleiner punte waaroor hulle verskil. Uiteindelik het die skeiding tussen katolisisme en protestantisme daartoe gelei dat albei dieper teologiese vraagstukke op nuwe maniere kon benader. Die Reformasie was dus vir albei partye goed. Vra jouself af: Hoe sou die kerk gelyk het as Luther bloot sy besware aangeteken het, maar nooit stappe geneem het om die probleme reg te stel nie?

Maandag, 30 Oktober 2017 was Swart Maandag in Suid-Afrika. Vir my was die belewenis daarvan tegelyk ontnugterend en bemoedigend. Op dié dag het die Afrikanergemeenskap hul eie 95 stellings openbaar gestel. Almal is nou bewus van ons besware. Dit hou verband met die tweedeklasburgerskap wat 'n mens beleef in 'n land waar die president sê dat al die probleme van een groep afkomstig is, waar ander politieke leiers daarvan praat dat die groep geslag moet word, waar daar elke dag nuwe uitlatings gemaak word wat lui dat die mense van die bepaalde groep indringers is en nie hier hoort nie. Plaasmoorde, die brutale afmaaiing van boere en hul families, was een te veel. Die gemeenskap moes reageer. Ons het dit ook gedoen. Swart Maandag was vir my bemoedigend tot die mate dat ek kon sien hoe baie energie en wil daar steeds in ons gemeenskap is. Tog, vra jouself: Hoe gaan Suid-Afrika lyk as ons bloot ons besware bekendmaak maar nooit stappe neem om die probleme reg te stel nie?

Ons sit eintlik al 'n geruime tyd lank op die punt van politieke reformasie in Suid-Afrika. Dit is egter met ongelooflike hartseer, net soos in Luther se tyd, wat ek waarneem dat daar bitter min – indien enige – wil vanaf ons leiers is om die enige van die besware te takel. Dit blyk duidelik uit reaksies soos dié van die minister van polisie, of die gebrek aan reaksie vanaf ons president dat die leiers nie daartoe geneë is om hul doen en late te verander nie. Lees enige Engelse media – hulle gaan nie iets omtrent die tekortkominge doen nie. Hulle kyk na 'n bedreigde minderheid, soos boere, wat vermoor word teen 'n hoër tempo as die algemene tempo in 'n land wat alreeds baie gewelddadig is en hul dryf die spot daarmee.

Net soos die katolieke is hierdie mense nog nie reg vir verandering nie. Dit is regtig vir my hartseer om dit te erken. Daarom kan ons nie verleë wees oor hulle nie. As hulle ons enigste hoop was, dan was daar geen hoop gewees nie – ten minste nie vanuit die huidige milieu nie. Maandag was dit #OnsRou, maar tensy ons daardie selfde energie kan kanaliseer in 'n nuwe beweging waarin dit #OnsBou is, sal ons nie ver kom nie.

Die protestantse kerk is die resultaat van mense wat nie net probleme kon identifiseer en 'n lig daarop laat skyn nie; dis die resultaat van daardie selfde mense se vermoë, vasberadenheid en wil om aan hul eie toekoms te bou.

Dit gaan nie oor buitengewone dade van gewone mense wat geëis word nie. Dit gaan oor gewone mense wat almal saamstaan om buitengewone resultate te lewer. Dit gaan oor die versterking van familiebande, groter betrokkenheid by jou plaaslike gemeenskap, dit gaan oor buurtwagte, kerke. Dit gaan oor liefde vir mekaar.

Een van my gunsteling aanhalings kom van Augustinus waarin hy sy totale bydrae tot christelike etiek in een sin vasvang: dilige et quod vis fac.

“Hê lief, en maak dan nes jy wil.”

Wees dus net lief vir dié rondom jou, en doen dan al die stappe wat jy voel 'n toepaslike reaksie op daardie liefde is. Apatie, al is dit hóé aanloklik, is teenstrydig met liefde. Bou aan jou eie toekoms, dié van jou buurman, kinders en gemeenskap. Niemand gaan dit namens ons bou nie. Daar is, ten minste vir nou, bitter min simpatie vir ons. Dit is duidelik.

Net soos Martin Luther soveel jare gelede tot daardie besef gekom het, voel ek ook dat ons uitweg nie is om onsself aan die genade van die leiers oor te laat nie, maar eerder om te begin om ons eie stappe te doen ter herstelling van die resultate van ongeregtigheid. Natuurlik sal ons vir ewig besig wees om hand-en-tand te baklei as deel van die poging om die harte en gedagtes van die hele Suid-Afrika te verander, maar terwyl ons hierdie intellektuele geveg voer, moet ons as gemeenskap ook mekaar beskerm deur strukture soos privaat universiteite op te rig waar die regering se invloed beperk is.

'n Aanhaling wat dikwels aan Luther toegeskryf word, lui soos volg: “Jy is nie alleenlik verantwoordelik vir wat jy sê nie, maar ook vir dit wat jy nie sê nie.” Ons het nou ons sê gesê, en dit het hoofsaaklik op dowe ore geval. Ek sou dus die stelling effens aanpas om te sê dat jy ook verantwoordelik is vir dit wat jy nie doen nie, want ons sal nooit ophou praat nie. Praat is egter nie meer genoeg nie.

  • 109
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close