Algemeen -

Taalbewustheid op laerskoolvlak is 'n stap in die regte rigting vir SA se strewe na eenheid in diversiteit

Deur Annelise de Vries

Minister Angie Motshekga het vandeesweek tydens die departement vir basiese onderwys (DBO) se begrotingsrede vir 2019/2020 gesê dat sy die aanbeveling van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir die verlengde gebruik van huistaal as taal van onderrig en leer, ten volle ondersteun: “Chairperson, the NDP recommends that learners’ home language be used as a language of learning and teaching for longer.”

Motshekga het tydens dié toespraak ook daarna verwys dat al die amptelike Suid-Afrikaanse tale ingevolge die Grondwet en ondersteunende beleide, gelyke erkenning en aansien behoort te geniet: “It is important to remind South African languages are protected by our Constitution and our policies recognise this fact.”

Die minister se openbare bekentenis van die feit dat alle amptelike Suid-Afrikaanse tale, waaronder Afrikaans, deur die Grondwet beskerm word, is 'n vars briesie veral gesien in die lig van politici se onlangse uitlatings oor Afrikaans. Die mees onlangse geval is waar Tebogo Mokwele, parlementslid van die EFF, tydens die begrotingsdebat van die departement van openbare werke en infrastrukture, Afrikaans as 'n “walglike taal” beskryf het. Dan is daar ook die Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, wat nie te lank terug nie gesê het dat “dit sy verstand te bowe gaan” dat die stryd vir Afrikaanse skole steeds voortgaan en dat die aandrang daarvoor meer skade as goed doen. Lesufi het hierdie stellings later teruggetrek.

Verder blyk dit ook dat daar 'n politieke wil is om meertaligheid op skoolvlak te implementeer en nié net Engels verskans as meertaligheid nie. Die Incremental Introduction of African Languages (IIAL)-verslag is daarop gemik om sosiale kohesie te bevorder deur vaardigheid in voorheen gemarginaliseerde Afrikatale te verbeter en ouers en kinders te bemagtig om hulle moedertale te gebruik en te bevorder. Volgens Motshekga is die IIAL reeds in 2 132 van die 2 600 skole wat geteiken is geïmplementeer en word verskeie Afrikatale as vakke by hierdie skole aangebied.

Motshekga, het ook, soos President Ramaphosa tydens sy staatsrede, aandag geskenk aan die konseptualisering van leesmetodes wat spesifiek geskoei is op die ortografiese eienskappe van inheemse Afrikatale. In haar toespraak het sy beaam dat onderrig in 'n moedertaal 'n belangrike rol speel in die vaslegging van konsepte en die suksesvolle uitkomste van leesvermoë en -vaardighede. Iets wat akademici en kenners in die veld jare lank al bepleit.

Die minister se ingesteldheid teenoor meertaligheid en die rol wat basiese onderrig op die omarming van Suid-Afrika se ryke taaldiversiteit speel, is definitief 'n stap in die regte rigting. Die feit dat die implementering daarvan reeds onderweg is, is ook iets om oor opgewonde te raak, in teenstelling met talle leë beloftes oor die implementering van meertaligheid wat beleidmakers so dikwels verkondig.

Die belangrikste bestanddeel in die ontwikkeling van 'n taal is die wil van 'n spesifieke taalgemeenskap om hierdie taal tot op hoëfunksievlak te laat groei. Dit is die strewe daarna om jou taal vanaf primêre tot hoëronderwysvlak te kan gebruik; om jou taal in die howe, in die besigheidsfeer en in die kerk te kan gebruik. Dít versterk taaltrots en wanneer jy trots is op jou taal word 'n bewustheid vir die eienskappe van ander tale en die gebruikers van daardie tale  gekweek. Op hierdie manier vat wedersydse respek vlam en het dit sosiale kohesie (die strewe van die IIAL) tot gevolg. Basiese onderwys is inderwaarheid die beste plek vir hierdie kringloop om te begin. Indien 'n kind reeds van jongs af bewus gemaak word van die feit dat sy/haar taal waardig is en gebruik kan word om 'n suksesvolle bestaan te voer, sal hy/sy nie toelaat dat dit weggeneem word nie.

Tóg is die sukses van hierdie droom verbonde aan die inagneming van 'n paar faktore:

  1. Die mite dat inheemse Afrikatale nie geskik is vir akademiese gebruik nie, moet hokgeslaan word

Taalbeplanning vind plaas op vier oorkoepelende terreine, naamlik statusbeplanning (eksterne funksies soos politieke, ekonomiese en kulturele funksies), korpusbeplanning (interne funksies soos die bevordering van ’n taal se ortografiese, grammatikale en fonologiese funksies), taal-in-onderrigbeplanning (geskied merendeels deur ’n formele onderrigsisteem) en prestigebeplanning (aktiewe taalontwikkeling vir die beeld van 'n taal). Wanneer daar 'n bewustelike besluit gemaak word om 'n taal op hierdie vier terreine te bevorder, kan so 'n taal groei tot 'n hoëfunksietaal. Daar is immers al baie taalbeplanningspogings onderweg in die inheemse Afrikatale: Woordeboeke word tans ontwikkel en proefskrifte is ook reeds in tale soos Sepedi, isiXhosa en isiZulu gepubliseer.

  1. Makrotaalbeplanning

Daar moet 'n strewe en politieke wil wees om die inheemse Afrikatale as vaktale te laat groei tot die gebruik van hierdie tale as tale van onderrig en leer. Die onus rus hier op die regering, maar 'n gemeenskap het ook 'n rol te speel om aan te dring op die gebruik van hierdie tale as onderrigmedium.

  1. Mikrotaalbeplanning

Ouers moet die waarde van 'n moedertaal van jongs af in gesinsverband vaslê. Die moedertaal moet so ver as moontlik aangewend word as die primêre huistaal.

  1. Engels beteken nie meertaligheid of inklusiwiteit nie

Engels behoort nie die status quo in 'n land met 10 ander amptelike tale te wees nie. Die superstatus wat aan Engels verleen word, word gedoen ten koste van Afrikaans as gevestigde hoëfunksietaal en staan ook in die pad van die ontwikkeling van die ander nege amptelike tale.

Regspraak het die term “gelyke diskriminasie” geskep en dit geregverdig. Dit kom daarop neer dat dit heeltemal in orde is om Afrikaans as akademiese taal af te skaf omdat inheemse Afrikataalsprekers nie tans toegang het tot onderwys op die hoogste vlak in hulle tale nie. Gelyke ontmagtiging is nie bemagtiging nie.

  1. Afrikaans kan die voetsoldate wees en as voorbeeld dien vir die ophou van inheemse Afrikatale

Afrikaans het dit reggekry om in rekordtyd tot op hoëfunskievlak te vorder. Ja, daar word geargumenteer dat die sukses agter Afrikaans te danke is aan Afrikanernasionalisme, maar hierdie taalbeplanning het lank voor die opkoms van 'n Afrikaanse bestel reeds begin. Tog is die speelveld nou wyd oop. Afrikaanse moedertaalsprekers is lankal nie meer aan bewind nie, dit is nou die tyd om regeringshulpbronne te gebruik om Afrikatale, die moedertale van ons regeerders, tot op hoogste vlak te bevorder. Nie ten koste van Afrikaans nie, maar as haar gelyke.

Motshekga se pogings om meertaligheid reeds op die vlak van basiese onderrig vas te lê en erkenning aan al die amptelike Suid-Afrikaanse tale te gee, is verfrissend en heeltemal belyn met die strewes van die Grondwet, maar daar gaan dadels van kom as die bostaande faktore nie in ag geneem word nie.

  • 21
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close