Algemeen -

Tee in die see? Laat waai!

Waarskynlik die bekendste belastingprotes in die geskiedenis was die sogenaamde Boston-teeparty in 1773. Baie soos die Afrikaners van vandag was die Amerikaners ontsteld oor hulle belasting op tee moes betaal terwyl hulle geen verteenwoordinging in die Britse politiek geniet het nie. Nadat hulle toe al die tee op skepe in die Boston-hawe uitgegooi het, het die protes teen belastings aan 'n vyandige owerheid gelei tot 1776 se onafhanklikheidsverklaring van die Verenigde State van Amerika. Toe Jan van Riebeeck destyds hier aangekom het, was die VSA nog nie eens 'n droom nie.

Deur die eeue het sulke proteste egter nie altyd te goed uitgewerk nie. In die eerste eeu ná Christus het Jode byvoorbeeld protes aangeteken teen Romeinse tempelbelastings. Hoekom moet jou belastinggeld spesifiek betaal vir 'n ander geloof se monumente? Die uiteinde daarvan was dat die Romeinse Ryk Joodse tempels vernietig het.

Een van die groot redes vir die begin van die Eerste Anglo-Boereoorlog in 1880 was die Britte se beslaglegging op 'n boer se ossewa omdat sy belastingsrekening agterstallig was. Die Engelse het volgens die boer se vriende geen reg gehad om belastings van hom te hef nie, en 'n oorlog het begin. Anders as met die Tweede Anglo-Boereoorlog het die boere redelik vinnig gewen en die Vrystaat en Transvaal het vry gebly.

Net soos in die vorige drie voorbeelde is ons vandag in 'n situasie waar ons onderwerp word aan 'n regering wat nie regtig ons belange op die hart dra nie. Soos met die Boston-teeparty is daar “taxation without representation” deurdat bitter min belastingbetalers ook ANC-kiesers is. Anders as in die verlede word die huidige regering deur die res van die wêreld as regmatig beskou. Die ANC het nie sy mag op militêre wyse bekom nie. Hulle is demokraties verkies. Ons enigste opsie, ten minste vir nou, is om op 'n wettige wyse seker te maak dat ons so min as moontlik aan die regering betaal. En natuurlik om die regering te laat besef dat ons nie langer bloot gaan toekyk hoe hulle die belasting wat ons wel betaal, vermors nie.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close