Teleurstellings is vir my moeilik om te verwerk. Die “hoekoms” kry my soms onder. Daardie hoekoms wat jou denke begin oorheers wanneer jy so naby aan daardie ding is wat jy so graag wil kry, maar dit dan net-net mis. Wanneer iemand anders voor jou bevorder word, wanneer jy die oproep kry wat laat weet dat jou werksaansoek nie suksesvol was nie. Wanneer niemand jou goeie werk raaksien nie. Wanneer die vooruitsig van ‘n babakamer maand vir maand leeg bly. Vir my is die grootste teleurstellings egter die wat met die mense in jou lewe verband hou.

Wanneer daardie mense wat jy eens vertrou het, al die tyd nie is wie jy gedink het nie. Wanneer jy in die rug gesteek word. Wanneer die vriende op wie jy eens kon staatmaak skielik vreemdelinge is. Wanneer die mat sonder waarskuwing onder jou voete uitgeruk word terwyl die na wie jy eens opgekyk het net toekyk.

Ja. Teleurstelling in mense is erger as die teleurstelling wanneer dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie.

Ek dink nou onwillekeurig aan die ongelooflike teleurstelling wat die Here Jesus op die kruis moes ervaar. Die teleurstelling toe die mense wat Hom kort tevore met palmtakke verwelkom het, ‘n doringkrans op Sy kop sit. Die teleurstelling toe al Sy dissipels hom in Sy donkerste uur verlaat. Die teleurstelling toe Petrus Hom boonop verloën nadat Judas Hom verraai het. En die teleurstelling en eensaamheid toe selfs Sy eie Vader Hom aan die kruis verlaat.

In die geskiedenis en toekoms van die wêreld, was daar en sal daar nooit weer so ‘n groot teleurstelling wees nie. En Hy het dit gedoen sodat God nooit in ons teleurgesteld sal wees nie.

Dalk is die teleurstellings in ons eie lewens daar om ons ‘n blik te gee op die groot omvang van die teleurstellings wat Jesus moes beleef?

Tog worstel ek steeds kort-kort met die hoekoms. En dan vra ek myself: Hoekom nie? As daar nie moeilike dinge oor my lewe kom nie, sal ek nooit werklik waardeer wat Hy vir my gedoen het nie. Sal Hy my nooit vorm tot ek die mens is wat Hy my wil maak nie. En die antwoord is dan altyd dieselfde. God se plan is groter en wyer en dieper as wie ek is.

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close