Algemeen, Ekonomie, SNI -

Ter verdediging van die sogenaamde 1%

Eerstens, hoekom praat ek van die “sogenaamde 1%?” Wel, dis doodeenvoudig omdat hierdie 1% nie bestaan nie – ten minste nie soos wat baie mense dink nie. Die rede daarvoor is omdat daar mobiliteit is met betrekking tot inkomste. Mense binne die 99% skuif op na die top 1% en omgekeerd. Iemand wat voorheen skatryk was verloor miskien al hul geld, en armes begin weer besighede of bou hul vaardighede uit en skuif dan op. Om bloot net te verwys na die kategorieë asof dieselfde mense permanent in elke vlak geplaas is, is tog ooglopend waansinnig. 'n 22-jarige wat net begin werk sal feitlik altyd armer wees as 'n 55-jarige wat werkservaring in dieselfde bedryf het, maar oor 10 jaar is eersgenoemde veel beter af en laasgenoemde afgetree. Tog, as ons net kyk na die kategorieë word niks van hierdie skuiwe aangeteken nie. So skuif mense gedurig van plek-tot-plek in die inkomste-kategorieë.

 

Tweedens, hierdie ongelykheid is 'n goeie ding. Ons wil nie hê almal moet dieselfde verdien nie, want wat is dan jou aansporing om harder te werk of enigsins ambisie op te bou? 'n Funksionele samelewing wil hê dat goeie besluite beloon moet word en slegtes gestraf moet word. Die alternatief is dat almal maak wat hul wil sonder enige gevolge.

 

Dit is duidelik dat die mensdom 'n vorm van afkeer vir ongelykheid het, maar is hierdie afkeer logies? Myns insiens nie. As ons rykdom en welvaart nastreef en die hele land ryker kan maak, hoekom pla dit ons dat sommiges meer van daardie rykdom gaan kry. Ek bieg, 'n vryemark-ekonomie sal onafwendbaar ongelyk wees, dalk selfs meer ongelyk as ons huidige een. Tog, as almal ryker is, ons miljoene uit armoede lig en werkloosheid daal, is hierdie verskynsels nie inherent goed genoeg dat ons maar kan vrede maak met die idee dat daar ander sal wees wat baie ryker word, terwyl sommiges net bietjie ryker word nie?

  •  
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close