Algemeen -

Terug in die tuig

Dit is 'n nuwe jaar. Nuwe vooruitsigte, nuwe dinge, nuwe uitdagings.

Die vakansie is verby en al die werksaamhede begin weer van vooraf. Die gejaag van punt A na punt B het begin en meeste van ons is weer terug “hok” toe.

Dit voel of die jare mekaar al hoe vinniger opvolg. Die tyd vlieg, die kinders word groter, ons word ouer.

Tussen al hierdie dinge deur gaan die lewe sy gang.

Party van ons se tyd loop uit, ander hoor daar is 'n nuwe lewe wat in hulle groei. Sommiges moet deur 'n rouproses gaan terwyl ander die blydskap van 'n naderende troudag beleef.

Die lewe is maar bittersoet. Seer en lekker loop hand-aan-hand. Swaarkry, wanhoop en verdriet ry wipplank met goeie tye, vreugdes en opgewondenheid.

Die lewe is kort en onvoorspelbaar. Gesondheid is nie gewaarborg nie. Die toekoms is onseker.

Tóg kan ons vashou aan ons Vader se beloftes. Hy dra ons deur al hierdie dinge. Hy help ons in ons nood. Hy seën ons met soveel dinge waarvoor ons dankbaar kan wees. Hy is by ons.

Vandag is ek dankbaar vir soveel verskillende dinge. Vir my geloof. Vir my gesin. Vir my gesondheid. Vir my werk en my huis. Vir kos en water. Vir vriende en familie. Vir klere en vervoermiddels. Vir troeteldiere. Vir 'n ewigheidsblik. Vir klein en groot vreugdes. Vir liefde en geluk.

Buite skyn die son en alles is groen en vol lewe. Die jaar begin goed! Kom ons probeer om voluit te leef in 2018!

 

“Jy kan so besig wees met gister en môre dat vandag onbenut verbygaan. Die as van herinneringe en die groen hout van verwagtinge kan nie vandag se vuur laat brand nie. Gister, vandag en môre moet hande vat. Dis deel van een geheel. Die Bybel leer dat ons nie die verlede en hede mag vergeet nie, want God se toekoms begin nie eers môre nie. Ek het vandag al die ewige lewe omdat Hy dit lank tevore reeds vir my verdien het. En daarom moet die hemel vandag in my bewys word” – Johan Smit.

  •  
  •  
  •  
  •  
Carina Bester Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close