Algemeen, Kultuur, Nuus, Politiek, SNI -

Transformasie, kwotas en logiese gimnastiek

Die onlangse kwessie rondom Supersport-kommentator en rugbyanalis Ashwin Willemse het opnuut die gesprek oor transformasie, kwotas en die impak van hierdie vereistes op die sport sowel as die ondersteuners uitgelok. Maar wat is die daadwerklike impak van hierdie stelsels op die sport?

 

Breedweg gesproke is daar twee kampe wat betref die invloed van transformasie op rugby: Aan die een kant is daar die kritici van die sisteem wat meen dat die gebruik van enige kategorie buiten meriete noodwendig daartoe sal lei dat 'n swakker span gekies sal word; aan die ander kant is daar diegene wie meen dat ons 'n meer demografies verteenwoordigende span kan saamstel sonder om enige impak te hê op die uitnemendheid van die spelers wat gekies word.

 

Myns insiens is beide van hierdie sienings 'n teken dat transformasie in sport ten beste niks beteken nie en ten ergste 'n skadelike uitwerking het op die gehalte van die spelers wat gekies is. Dan praat ons nie eens van die sosiale onmin wat tussen rassegroepe gesaai word nie.

 

Die argumente vir laasgenoemde is duidelik. Ongeag wat die ander maatstaf is, as dit nie prestasie is nie dan sal dit skadelik wees. Kom ons aanvaar egter dat diegene wat transformasie ondersteun, reg is, naamlik dat die beste spelers elk geval gekies word.

 

As daar geen spelers is wat gekies word ter wille van die kwotastelsel nie en as almal net op meriete gekies word, wat is dan die punt van transformasie? As die huidige spankeuses op geen manier verskil van hoe die span in die afwesigheid van die kwotastelsel sou lyk nie, dan beteken die kwotastelsel niks nie. Wie is/was die kwotaspelers in die Springbokspan? As elkeen nog altyd verdien het om op meriete daar te wees en niemand word ingebring weens transformasie nie, dan kan ons mos maar netsowel oorgaan na 'n stelsel wat uitsluitlik op meriete gebaseer is.

 

Dit is egter nie die gevolgtrekking waartoe ondersteuners van die kwotastelsel kom nie. Volgens hulle het kwotas klaarblyklik geen invloed op wie gekies word nie, maar tegelykertyd is dit noodsaaklik dat ons die stelsel in plek moet hou.

 

Die keuses sluit mekaar dus wedersyds uit – óf kwotas lei daartoe dat ons swakker spanne kies om meer verteenwoordigend te wees, óf ons spanne lyk presies soos wat hulle in elk geval sou lyk in 'n bedeling waarin slegs meriete sou geld.

 

Hoe dit ook al sy, daar blyk min te wees om die instelling en voortsetting van kwotas in sport te regverdig, veral gegewe die negatiewe sosiale impak wat deur partye van alle rassegroepe ervaar word – selfs, so sien ons, deur voormalige spelers soos Ashwin Willemse wie se uitnemendheid deur die stelsel ondermyn word, en nié deur enige van sy kollegas nie.

  • 99
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close