Solidariteit is na die eerste speelvak van Tree Aan! oorval deur oproepe van teleurgestelde lede. Teleurgesteld omdat hulle nie betyds kaartjies kon kry om die musiekspel in die staatsteater te beleef nie. Ek het gister egter goeie nuus gekry. Tree Aan! gaan in Oktober weer op die planke wees! Solidariteit-lede wat die kodewoord “soltree” gebruik wanneer hulle hul kaartjies bespreek, kry 10% afslag!

Hier is Packed House se mediaverklaring wat die goeie nuus meedeel:

TREE AAN! TERUG VIR ‘N TWEEDE SPEELVAK

Die teleurstelling van vele teatergangers wat nie kaartjies kon kry vir die uitverkoopte musiekspel TREE AAN! nie, het die vervaardigers genoop om ‘n tweede speelvak te skeduleer. Dié speelvak begin op 8 Oktober in die Operahuis van die Staatsteater in Pretoria.

TREE AAN! was vir teatergangers ‘n emosionele gebeurtenis waar hulle gekonfronteer is met die bittersoet herinneringe van die tyd in die weermag tydens die grensoorlog. Die hartroerendste oomblik was vir meeste die ererol van name van almal wat op die grens gesneuwel het. Steve Hofmeyr het die ervaring so opgesom: “Ek het my eerste traan al weggeknip in die eerste toneel. Toe ek daai traan wegvee kom ek met elke ander toneel agter hoe vlak die onthou lê en dat ek meestal in geforseerde ontkenning leef van daardie 2 jaar. Dat ek elke karakter op die verhoog in my “gepolishde” kaserne in Pantserskool gehad het. Selfs die oorgewig Joodse laaitie en rebelse Soutie. Dat ek selfs hul name skielik weer onthou.”

Die musiekspel het natuurlik ook vir heelwat omstredenheid gesorg toe dit die debat oor die relevansie van die grensoorlog weer oopgekrap het.

Deon Opperman, hoof-uitvoerende beampte van Packed House Productions en vervaardiger van TREE AAN!, sê daar was soveel versoeke van mense wat nie kaartjies kon kry nie, dat hy besluit het om die produksie weer op die planke te bring. “Mense het gebel om te sê dat hulle dit nog nie gesien het nie, of dat hulle dit wéér wil sien, of dat hulle hulle familie en vriende wil bring – tot sover as van Bloemfontein en Mosselbaai af!”

Hy is baie opgewonde om die tweede speelvak in die Opera-teater van die Staatsteater – wat ‘n baie groter teater as die Drama-teater is – te kan aanbied. “Dit gee vir soveel meer mense die geleentheid om die produksie te sien”, sê hy. Opperman voeg by dat hy bewus is daarvan dat mense finansieël erg geraak word deur die huidige ekonomiese klimaat. Daarom het Packed House Productions besluit om vir hierdie speelvak die kaartjiepryse baie te differensieer, aangesien Opperman vir almal die geleentheid wil gun om hierdie moet-sien teaterskouspel te beleef. “Die feit dat die Opera-teater soveel meer sitplekke het, gee vir ons die finansiële ruimte om kaartjies teen baie bekostigbare pryse te verkoop. Elkeen kan nou die kaartjie koop wat sy sak en behoeftes pas”, sê hy. Kaartjiepryse wissel tussen R125 en R285. Daar is ook verskeie opsies vir familie – en groepbesprekings teen spesiale afslagpryse.

Die sterbelaaide rolverdeling dra by tot die sukses van TREE AAN!. Die romantiese manlike hoofrol word vertolk deur die opkomende ster, Vaughan Gardiner, wat tans op kykNET te sien is in die drama, Hartland. Vaughan maak ook later vanjaar sy rolprentdebuut in Sean Else se produksie, Platteland. Die Idols-naaswenner Willem Botha, wat in 2009 sy filmdebuut gemaak het in die Afrikaanse rolprent-musiekblyspel Liefling – Die Movie, speel die rol van die getroue vriend wat ‘n “Dear Johnie” kry en Altus Theart van Kruispad, Getroud met Rugby en Bakgat-faam, speel die rol van die breker Lappies Labuschagne. Die bekende akteur, sanger en pastoor Johan Scholtz, wat Schalk gespeel het in Getroud met Rugby, is die luitenant wat opreg bekommerd is oor sy troepe en Matt Stern, wat onder andere rolle in Invictus en 7de Laan vertolk het, is die windlawaai korporaal. Die Engelsman-karakter (Neil Andrews), wat briljant vertolk word deur Brendan van Rhyn, en die Joodse karakter (David Lipschitz), vertolk deur Adam Pelkowitz, sorg deurlopend vir groot Vermaak en skaterlag oomblikke.

TREE AAN! is weer vanaf 8 Oktober op die planke by die Staatsteater in Pretoria. Lede van Solidariteit kwalifiseer ook vir ‘n spesiale afslag van 10% op alle kaartjies. Die wagwoord vir lede-afslag is “SOLTREE”. Besprekings kan gemaak word by www.treeaan.co.za of Computicket takke landwyd.

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close