Bot oor die oorlog. Dit is hoe ek 'n goeie vriend van my wat op die Grens was, kan beskryf. Hy praat nie daaroor nie. Daar is 'n klomp emosies wat nou al meer as 20 jaar binne hom opbou. Dit is soos 'n kookpot, maar hy hou die deksel nog dig sodat die pot nie oorkook nie.

Dié vriend woon een aand saam met my 'n opvoering van die musiekblyspel Tree Aan! by. So uit die hoek van my oog hou ek hom dop. Hy vryf sy hande en skuif rond op sy stoel. Hy is senuweeagtig oor dit waarmee hy gekonfronteer gaan word. Die gordyne gaan oop en die vertoning begin. Ek hou hom steeds dop. Hy sit op die voorpunt van sy stoel. Hy word deel van dit wat voor hom afspeel. Hy lag vir die karakters wat stereotipes so realisties uitbeeld. Hy kyk skaam rond nadat hy hardop lag vir die troepe wat die randte van die beddens kou om die lyne reguit te kry vir die pynlike inspeksie. 'n Mens kan sien hy lag vir homself. Hy hou saam inspeksie, dril saam, hardloop saam om 'n blaar te gaan pluk en dan gaan hy saam grens toe. Hy beleef die patrollies en die wagstaan. Dan sien ek hoe hy doodstil sit. Sy makker word weer doodgeskiet. Daar op die verhoog sien hy dit wat met hom gebeur het, maar hy worstel daaroor. Wie sal dit onthou? En dan rol die name van die seuns wat die hoogste offer vir Suid-Afrika gebring het op 'n skerm af. Name en nog name, gewone name van jong seuns. Ek kyk om my rond, almal is doodstil, die meeste mense in die gehoor snik; party probeer dit wegsteek. Ek sien almal besef, almal gee erkenning, almal onthou. 'n Lewende monument vir hulle wat hulle lewens vir ons opgeoffer het, speel in die Staatsteater af. 'n Briljante vertoning wat niemand mag mis nie. Ek kyk na my vriend – hy huil, die pot kook oor. Hy huil, want hulle het toe nie vergeet nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close