Die vakbond Solidariteit het vandag gevra dat die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming teruggetrek word.

Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, moet daar weer gekyk word na die formulering van die wysigings voor dit weer vir kommentaar vrygestel word.

 Verskeie belanghebbende partye het reeds aangedui dat die wysigings swak geformuleer is en tot onsekerheid lei. Die vakverbond Cosatu het vandag gesê hy is ontstoke oor die manier waarop die wetswysiging geformuleer is.

“Die departement van arbeid se pogings om die voorstelle te verduidelik, is niks anders as politieke gimnastiek nie,” verduidelik Hermann. “Luidens een van die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming sal slegs die demografie van die ekonomies aktiewe bevolking by die toepassing van regstellende aksie in ag geneem moet word. Hiermee word die verwysing na streeksdemografie uit die wet verwyder.”

 “Hoewel die departement van arbeid se hoofdirekteur van arbeidsverhoudinge, Thembinkosi Mkalipi, nou beweer dat die wetswysiging buigbaarheid vir werkgewers sal gee oor of hulle streeks- of nasionale demografie wil gebruik, is dit nie die geval nie. Die manier waarop dié wysigingswet geskryf is, maak geensins voorsiening vir buigbaarheid nie. Dit is die departement se vrye interpretasie van die wetswysiging en sal deur geen hof so geïnterpreteer word nie. Indien dit hulle bedoeling is om buigbaarheid te skep, moet die wysiging so geformuleer word,” verduidelik Hermann.

“Ons daag die departement uit om nie net te sê wat die bedoeling is van die wetswysiging nie, maar om dit duidelik in die wet te skryf dat maatskappye 'n diskresie het oor watter demografie om te gebruik,” sê Hermann. “Die departement van arbeid moenie poog om 'n swak voorgestelde wysiging reg te kommunikeer nie. Hulle moet om verskoning vra, dit verwyder en regstel.”

Die feit is dat indien die demografie van die ekonomies aktiewe bevolking toegepas word, soos wat die voorgestelde wysiging lees, is daar een miljoen ekonomies aktiewe bruin Suid-Afrikaners te veel in die Wes-Kaap en ongeveer 300 000 te veel ekonomies aktiewe Indiërs in KwaZulu-Natal.

“Die omstrede video van Jimmy Manyi waarin hy sê dat daar 'n oorkonsentrasie van bruin mense in die Wes-Kaap is en dat hulle dwarsoor Suid-Afrika moet versprei, gee die konteks van die voorgestelde wysiging. Hy het die opmerkings in sy hoedanigheid as direkteur-generaal van arbeid gemaak. Dit was dus die amptelike standpunt van die departement van arbeid toe begin is met die voorbereiding van die wysiging,” beklemtoon Hermann.

 Die video van die onderhoud wat Freek Robinson met Manyi in sy hoedanigheid as die direkteur-generaal van arbeid, en nie as president van die Black Management Forum soos hy beweer, gedoen het, is beskikbaar by You Tube en Stube.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close