Algemeen -

Tumi-rasherrie: 3 dinge wat ons geleer het

Die sage rondom die radio-omroeper en komediant Tumi Morake se rassistiese aanmerkings oor wit mense het weer 'n paar tendense toegelig. Die voorval is op sigself betreurenswaardig, maar daar is sekere goed wat opvallend is en daarom verder beklemtoon moet word:

 

1. Swart rassiste kom met baie meer weg as wit rassiste

 

Toe Penny Sparrow verlede jaar na swart strandgangers as “ape” op Facebook verwys het, was alle hel los op die sosiale en hoofstroommedia. Mail&Guardian, eNCA en City Press het haar behoorlik gekruisig daaroor. Sy is in die hof geruïneer deur die ANC, strafregtelik vervolg en ook finansieel uitgemergel. Matthew Theunissen het die k-woord gebruik om na swart regeringsleiers te verwys en daarvoor is hy deur Fikile Mbalula, toe nog minister van sport en nou minister van polisie, op Twitter geroskam. Die Menseregtekommissie het hom allerlei straf opgelê en sekere media het weer 'n aar gebars. Chris Hart was nie eens rassisties nie, maar sy politieke inkorrektheid het verlede jaar ook 'n storm ontketen en hom sy pos by Standard Bank gekos te midde van 'n mediaherrie.

 

Daarenteen het die Engelse media net oor die Morake-voorval berig om Solidariteit en Afriforum oor die kole te haal. Dit is mos groot organisasies wat 'n arme, onskuldige omroeper teister, lui die mantra van fopnuus-publikasies soos Huffpost SA. Hoewel baie wit mense kwaad was oor haar opmerkings, is my ervaring van sosialemedia-kommentaar hieroor dat swart mense ongeërg hieroor is of dit selfs verdedig. Dit was ook so in die geval van ander swart rassiste soos Tlou Molele en Steve Naale se bewese wandade.

 

2. Jacaranda veroorsaak self dat hulle ge-‘Spur’ word

 

As daar teksboek-gevalle is van hoe om nie sulke herries te hanteer nie, dan moet daar nie verder as Jacaranda of Spur gekyk word nie. In die nadraai reik Jacaranda die volgende kort holluidende verklaring uit: “Ons saai inhoud uit om belangrike en betekenisvolle gesprek aan te moedig ter wille van nasiebou. Ons glo dat hierdie noodsaaklike gesprekke 'n belangrike rol in die samelewing speel.” Selfs Huffpost SA het vandag berig die stasie wil nie navrae daaroor beantwoord nie.

 

Die verklaring spreek nie werklik die wandaad aan nie, maar borduur filosofies voort oor soetklinkende konsepte soos nasiebou en betekenisvolle gesprekke wat die samelewing glo bevoordeel, terwyl Morake se dade presies die teenoorgestelde bewerkstellig. Is hul idee van nasiebou een waar wit mense gestraf word en stilbly terwyl swart rassiste se gedrag gekondoneer en selfs aangemoedig word?

 

Spur het dieselfde gedoen, maar dit laat nie publiek vergeet dat daar met dubbele standaarde opgetree is nie. Spur moes uiteindelik die letterlike en figuurlike prys daarvoor betaal nadat hulle gedink het hulle gaan net hierdie storm uitwag. Alle altruïstiese plasings op Jacaranda se Facebook-blad oor liefde en medemenslikheid om die krisis te probeer ontlont, het in die kakofonie van regmatige woede weggeraak. Jacaranda moes eerder uit die Spur-voorval geleer het, maar nou is hulle op pad om dieselfde foute te maak. Dit gaan Jacaranda beslis nog heelwat Afrikaanse luisteraars kos en dit gaan uiteindelik 'n impak op hul advertensie-inkomste, die lewensbloed van feitlik alle media, hê. Hulle het haar die platform vir haar aanmerkings gegee en hulle moet ten minste haar opmerkings veroordeel en die volledige ontbytprogram beskikbaar stel en nie slegs die gesaniteerde weergawe nie.

 

3. Wit mense is uiters keelvol vir dubbele standaarde oor rassisme

 

Die laaste les is min of meer 'n opsomming van die eerste twee. Wit mense let op dat die media, die ANC en die MRK nie alle voorvalle van rassisme naastenby dieselfde hanteer nie. Hulle is ingelig en het taamlik lang geheues. Hulle weet Sparrow, Theunissen en Hart is met ander maatstawwe as Velaphi Khumalo en Julius Malema gemeet en gestraf.

 

Jacaranda en Spur het egter daarvan vergeet en in hul haas om enige prys vir meer swart luisteraars en kliënte te betaal, in dieselfde strik getrap. Hulle het geweier om swart rassisme met 'n geskikte skaal te meet en eerder die politiek korrekte uitweg gekies. Die vuilbekkige Rian van Heerden het ook sake vererger deur alle ontevredenes op sy Facebook-blad by te kom – met vloekwoorde en al en sonder om selfs net erken dat Morake verkeerd was. Dit gaan beslis nie ongesiens verby nie.

 

Dit help ook nie Morake tree rassisties op en probeer haarself dan ná die voorval verontskuldig deur bloot te sê sy is nie rassisties nie. Dade praat harder as woorde en dit geld almal.

 

Wit mense is moeg daarvoor dat ons die skuld vir alles in die land kry terwyl ons dit nie eens meer regeer nie. Ons is moeg daarvoor om die historiese skuld te kry vir die land se probleme terwyl vandag se leiers nie aanspreeklik vir hul huidige wandade gehou word nie. Les bes, ons het die volste reg om moeg vir swart rassisme te wees.

 

Foto: TimesLive

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close