My Werk -

Uitbranding weens ooreising

As ons van uitbranding in die werkplek praat, verwys ons na jou liggaam wat weens veelvoudige en aanhoudende druk en eise oor ’n lang tydperk ingee en tot ondoeltreffendheid en uitputting lei. Sodra mense nie 'n effektiewe werk-lewe-balans handhaaf nie of selfs 'n gebrek aan sosiale ondersteuning het, loop hulle die risiko om hulself te ooreis. Sodra mense hulself begin ooreis, sukkel hulle om bepalende besluite in hul werk te neem. Dit hou 'n rimpeleffek in wat uiteindelik tot uitbranding lei.

Uitbranding word nie altyd net deur stresvolle werk of té veel verantwoordelikheid veroorsaak nie. Huislike omstandighede en persoonlike situasies speel ook ’n rol, byvoorbeeld wanneer iemand ’n enkelouer is.

As 'n mens nie vroegtydig besef jy is besig om uit te brand nie, kan dit ’n verwoestende uitwerking hê op jou gesondheid, verhoudings en werkprestasie.

Neem kennis van die volgende simptome om só die waarskuwingstekens van uitbranding vroegtydig te identifiseer.

Uitputting

Sodra 'n individu emosioneel, fisies en geestelik gedreineer is en konstant uitgeput voel, is hy of sy stadig maar seker besig om uit te brand.

Bykomende simptome, soos chroniese hoofpyn, naarheid, borspyne en hartkloppings, gaan dikwels gepaard met hierdie gevoel van uitputting.

Sinisme

Pessimisme en sinisme is ook simptome van uitbranding. Mense wat aan uitbranding ly, is geneig om situasies waarna hulle gewoonlik uitgesien het, te vermy. Hulle sosialiseer nie meer soos vantevore nie en gryp nie meer nuwe geleenthede by die werk aan nie.

Afsydigheid

Mense wat aan uitbranding ly, neig om afsydig en alleen te wees en hulle betwyfel hul beroepskeuses.

Die simptome van uitbranding is aanvanklik subtiel, maar word met verloop van tyd erger. Daarom is dit uiters belangrik dat jy ag slaan op die tekens voordat dit te laat is.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Wilmarie Brits Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close