Algemeen -

Universiteitschaos: Afrikaans net ’n dwaalspoor

En daar vang slim Wim sy baas. Die Maties-rektor kon, nes ’n paar ander rektore, nie wag om toe te gee aan die skurke, vandale en boewe oor Afrikaans sodat hulle kampusse net weer vreedsaam sal raak nie. Afrikaans is toe – al die optimistiese beloftes en gerusstellings ten spyt – vroeër vanjaar vir alle praktiese doeleindes by die Universiteit van Stellenbosch (US) afgeskaf (en terselfdertyd ook by die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat) en almal het toe mos hul sin gekry? Klasse kan mos weer vreedsaam aangaan (in Engels natuurlik), navorsing kan geskied, studente kan weer veilig voel en daar sal heilsame harmonie op ons kampusse wees.

 

rhodesToe nou nie. En hoekom nie? Want die boewe het nog nie genoeg gehad nie en hulle het swakheid by Slim Wim en sy mede-visekanseliers geruik en nou soek hulle nog prysgawes. Nog baie. Die afskaffing van Afrikaans was bloot ’n red herring (dwaalspoor) om die universiteitsbesture se wil om toe te gee, te toets. Dit was ook eers ’n betreklik sagte teiken waarmee die gang van groter toegewings oor fooie, die wysiging van kurrikula en die wegdoen met wit dosente en personeel aan die gang gesit kon word. Dit het die rektore en studente ook die morele hoëgrond in die oë van baie gegee omdat hulle dan teen die nare “Apartheidstaal” opgestaan het.

 

Dit was daarom vir my glad nie verrassend om te sien hoe De Villiers onlangs deur veiligheidspersoneel begelei moet word na afloop van samesprekings met studente oor fooiverhogings nie. Die studente het trots die Lilion Ngoyi-huis beset en daarop aangedring dat De Villiers vir hulle antwoorde voor eerskomende Vrydag om 13:00 gee. “We have occupied Lilian Ngoyi House and that is our base at the moment. No classes will start on Monday and we will occupy until the meeting on Friday,” sê ene Ashanti Kunene.

 

Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, is ook onlangs in ’n biblioteek deur aggressiewe studente vasgekeer en antwoorde oor fooie en dies meer is by hom geëis. Klasse by die UK is vir die hele komende week afgelas oor betogings oor fooie. By die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) is biblioteke aan die brand steek en daar is klasse ook afgelas oor die gevare. By dié universiteite kon Afrikaans geensins die skuld kry nie want dit word nie eens as voertaal aldaar gebruik nie.

 

Die probleem met hierdie retireringstaktiek (gee wit simbole en verbintenisse prys om sodoende swart aggressie te probeer paai) is dat dit ’n bose kringloop word. As jy eers begin terugkrabbel en retireer, moet jy aanhou daarmee of die molesmakers se geweld en intimidasie teenstaan. Ons rektore het die weg van die minste weerstand gevolg en moet dus nou die volgende geveg met ’n onversetlike groep studente en ook ’n desperate regering veg. Rhodes het geval, Afrikaans het geval en standaarde het geval, maar Price en De Villiers kan daarom nie verstaan hoekom hulle lyfwagte benodig en hoekom die chaos op hul kampusse nie bedaar nie. Hulle besef nie (of wil dit nie besef nie) waaroor die ANC se Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) as hul ideologiese leidster gaan nie, nes hulle nie begryp dat die EFF en diesulkes niks van die universiteitswese af weet nie en universiteite bloot as kanonvoer in hul stryd om politieke gewildheid gebruik.

 

Wat hulle nie wil of kan insien nie, is dat hulle as wit manlike rektore – tesame met hul universiteite se akademiese standaarde en ander personeel – uiteindelik teikens van hierdie vlaag van chaos gaan word en hulle hul werke gaan kwyt wees oor hul lafhartigheid, naïwiteit en onkunde. Vra maar vir Jonathan Jansen, wat uiteindelik druipstert Amerika toe gevlug het (grappenderwys bekend as “Bundy-jumping”) toe dinge te warm begin raak het by Kovsies nadat hy Afrikaans as akademiese taal daar laat afskaf het. Mens hardloop nie weg na ’n ander land as jy vertroue in die universiteitswese en die regering se bestuur het nie en dit was beslis nie Afrikaanse studente wat hom gedreig en die kampus gevandaliseer het nie.

 

Price, De Villiers, Jansen en soveel meer se politieke gedienstigheid jeens die regering en ook die skurkgroepe op kampusse het dus net soveel persoonlike en professionele gevolge vir die rektore as wat dit skade aan hul universiteite en die hele konsep van tersiêre onderrig aanrig. Jansen was bloot die eerste slagoffer. Die geskiedenis gaan hulle nog hard oordeel: Oor die vernietiging van ’n amptelike taal as voertaal en die nie-uitbouing van ander amptelike tale as universiteitstale, maar ook omdat hulle gelate aan boewe en ideoloë toegegee het en daarmee langtermyngevolge vir die land se universiteite teweeg gebring het. Soos wat ek hier skryf wag die land in spanning oor wat Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, se aankondiging oor 2017 se fooiverhogings gaan wees. Een feit staan nietemin vas en dit is dat as jy nie genoeg ruggraat het om die skurke op jou kampus (en boonop ’n minderheid) vas te vat nie, kan jy nie groter toegewings van die regering verwag nie. Jy lyk swak, bang en kan nie ernstig opgeneem word nie. Soos Jan Heunis SC gister tereg in Rapport vra: “Waar sal dit eindig as mense hul sin kan kry deur af te dreig; nie deur die aanwending van hulle talente en harde werk nie, maar deur die dreigement van misdadige optrede?”

 

Ek sluit af met die politieke ontleder R.W. Johnson se onlangse kommentaar hieroor in Rapport: “Visekanseliers sal moet leer om self hul eie politieke vuur te absorbeer en nie politici te kry om dit vir hulle te doen nie. Dit is die prys vir outonomie, en onafhanklikheid is noodsaaklik vir universiteite.” Intussen gaan ons voort om ‘n Afrikaanse universiteit verder uit te bou – een behorende tot die Afrikaanse gemeenskap en wat onbeskroomd in diens van die gemeenskap staan. Een waar meriete en uitnemendheid nie deur aggressie en paaitaktieke getroef sal word nie.

  • 380
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close