Bruin, Indiër, wit en swart vakbondleiers het vandag met 'n verenigde stem versoek dat die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming teruggetrek word. Die vakbonde het ook voorgestel dat die bewoording aangepas word sodat werkgewers volgens hul oordeel kan besluit of hulle die nasionale, provinsiale of streeksdemografie gaan gebruik.

Terugvoer op 702/Cape Talk en SAfm. Kyk eNuus.

Lees ook: Manyi geniet dit om te plunder.

Die groep sluit onder andere Khulile Nkushubana, hoofsekretaris van CONSAWU, Envor Barros, hoofsekretaris van die National Certificated Fishing en Allied Workers Union, René Govender van die Professional Educators Union, Nora Juries wat huishoudelike en plaaswerkers verteenwoordig, Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, Mervin Wessels, voorsitter van die South African Tourism and Tourist Guide Allied Workers Union en Rodney Damon hoofsekretaris van die Builders Workers Union.

 Die huidige bewoording van die voorgenome wysigingswet bepaal sonder twyfel dat die nasionale demografie van die ekonomies aktiewe bevolking (EAB) gebruik moet word by die toepassing van regstellende aksie. Die implikasie hiervan is onder andere dat sowat een miljoen ekonomies aktiewe bruin mense in die Wes-Kaap en sowat 300 000 ekonomies aktiewe Indiërs in KwaZulu-Natal oorverteenwoordig is.

 Die verduidelikings van president Zuma is nie goed genoeg nie. Die wysigingswet moet verander word. Indien 'n regter 'n uitspraak moet gee, sal hy na die spesifieke bewoording van die Wet kyk. Hierdie is 'n algemeen gebruikte beginsel in die uitleg van wette. Aangesien die wysigingswet nog nie teruggetrek is nie en die wysigings soos dit op die oomblik daar uitsien verdedig word, laat groot vrae oor die werklike betekenis van die wysigingswet.

 Die debat oor die rol van bruin mense in die Wes-kaap en Indiërs in KwaZulu-Natal skep groot onsekerheid onder werkers. Daar sal net sekerheid kom indien die departement van arbeid die voorstelle terugtrek.

Die groep vakbondleiers het briewe aan onderskeidelik die parlement, die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) en die departement van arbeid gestuur.

 Die groep versoek in hul skrywes dat die fokus van regstellende aksie sal verskuif van 'n uitsetgebaseerde benadering van rasteikens na 'n insetgebaseerde benadering van opleiding en ontwikkeling.

'n Nuwe wysigingswet, gegrond op hierdie benadering, is ook deur die groep bekend gestel. In die nuwe wysigingswet word geskryf dat die ontwikkeling van 'n opgeleide en vaardige werksmag wat bestaan uit burgers uit die aangewese en nie-aangewese groepe die enigste manier is om gelyke geleenthede en billike indiensneming te bekom om sodoende alle Suid-Afrikaners te bevoordeel.

 Die nuwe wysigingswet stel ook voor dat vaardigheidsontwikkelingsplanne as regstellendeaksie-instrumente gebruik moet word.

 Verskeie politieke partye, insluitend die ANC, DA, COPE, OD, IVP, Vryheidsfront Plus en die ACDP, is gevra om die nuwe wysigings te steun en aan die parlement voor te hou.

 Die vakbondleiers het dit beklemtoon dat hulle net een belang het en dit is om werkers te beskerm. Hulle het geen belang of behoefte om enige politieke party te bevoordeel nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close