Schoonder Sigt [www.flowerstreetvilla.co.za]

Op 17 Augustus 1779 het luitenant-kolonel Robert Gordon amptelik die naam “Oranjerivier” aan dié rivier toegeken.

Robert Gordon is in 1743 in Gelderland, Nederland gebore. Sy vader was van Skotse herkoms, maar ‘n toegewyde Nederlandse burger. As jong man het Gordon by die Skotse regiment in Nederland aangesluit en ook verder in die natuurwetenskappe gestudeer. Van 1773 tot 1774 het hy die Kaap die eerste keer besoek, deelgeneem aan ontdekkingsreise aldaar en met sy terugkeer springbokke vir die Nederlandse koning se versameling diere saamgeneem! In 1776 is Gordon aangewys as kaptein in die Kaapse garnisoen. Later sou Gordon aanvoerder van die garnisoen word – ‘n groot taak, want by tye het die garnisoen uit tot 3000 lede bestaan.
Na sy aankoms aan die Kaap in 1777, het Gordon aan vele ontdekkingsreise in die binneland deelgeneem. In die jaar het hy die eerste keer die Groot/Gariep/Oranjerivier gesien, en in 1779 na die riviermond gaan soek. Op 17 Augustus 1779 het hy die monding bereik en aan die rivier die naam “Oranje” gegee, ter ere van Willem V van Oranje, die Nederlandse koning.
Gordon word vandag onthou vir sy uitstekende kartografie, sketse, reisbeskrywings, eerste optekeninge van Khoi- en Santale, versamelings van fauna en flora en ook dat hy die wolbedryf in Suider-Afrika en Australië gevestig het met die invoer van Merinoskape na beide.
Na die Britse besetting van die Kaap in 1795, is Gordon valslik van verraad teen Nederland beskuldig. Dit was so vernederend vir hom, dat hy op 25 Oktober 1795 selfmoord gepleeg het. Sy vrou en hulle vier seuns het hierna die Kaap verlaat en hulle in Switserland – sy vrou se geboorteland – gevestig.
Gordon se huis, “Schoonder Sigt”, staan vandag nog en is nou bekend as Flower Street Villa, ‘n gerieflike gastehuis in Oranjezicht, Kaapstad. Dit en die naam “Oranjerivier” is van die mooi herinneringe aan die merkwaardige Robert Gordon.
Bronne:
www.flowerstreetvilla.co.za
C.J. Beyers (red.), Die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek IV, RGN, Pretoria, 1981.

  •  
  •  
  •  
Deur Alana Bailey


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close