My geld -

Vanwaar die gate in my begroting?

In studentegeledere het ek gereeld gehoor: “Ek het al weer baie maand aan die einde van my geld oor.” Die rede daarvoor was gewoonlik swak beplanning. In Potchefstroom kon dit beteken dat jy moontlik in die eerste twee weke van die maand ses keer by Bourbon Street ’n draai gemaak het, met die gevolg dat jy die laaste twee weke by die koshuis parkeer het en net-net ’n Iron Brew by die koshuis se snoepie kon koop.

 

Nietemin, indien daar gate in jou begroting is, beteken dit een van twee dinge: daar is ’n probleem met jou inkomste, of daar is ’n probleem met jou uitgawes. Die groot verskil tussen die twee is dat jou inkomste nie maklik ’n sneeubal-effek kan begin wat jou uit die moeilikheid kan help nie. Daarteenoor kan uitgawes, grootliks as gevolg van rente, buite beheer raak en die sneeubal rol heeltemal na die verkeerde kant toe. Wat wel aan die inkomstekant kan gebeur, is dat jy jou werk verloor en dus geen salaris verdien nie. Dit maak dan nie saak hoeveel beheer jy oor jou uitgawes het nie, die begroting gaan nie klop nie.

 

Die belangrikste beginpunt is om ’n begroting op te stel. My ondervinding by Solidariteit Finansiële Dienste is dat baie min van ons kliënte dit enigsins doen. Dit is onmoontlik om beheer oor jou finansies uit te oefen indien jy nie weet hoeveel geld jy uitgee, en op wat nie. Met  hedendaagse tegnologie is dit maklik om ’n eenvoudige Excel-werkblad op te stel en elke uitgawe daarin aan te teken en met jou inkomste te vergelyk. Uit ondervinding het ek geleer dat die grootste kwaaddoeners kontantonttrekkings en -uitgawes is, waarvoor daar geen bewyse bestaan om te staaf waar die geld aangewend is nie.

 

’n Begroting moet ’n eerlike dokument wees. Indien jou begroting op die ou einde nie ooreenstem met dit wat in jou bankstate weerspieël word nie, beteken dit dat jy nie eerlik genoeg was nie.

 

Die belangrikste raad wat ek kan gee, is om rente uit jou lewe uit te kry. Begin by die duur rente: kredietkaarte, klererekeninge, persoonlike lenings, ensovoorts. Om op skuld te leef en rente te bestee op iets wat jy nie kan wys nie, is die grootste rede hoekom Suid-Afrika op die oomblik ’n negatiewe spaarkoers handhaaf.

 

Rente op ’n huislening is ’n uitsondering, want ten minste word die rente op ’n bate betaal wat oor tyd in waarde behoort te vermeerder.

 

C.J Langenhoven het gesê: “Die kontantbetaler is baas van sy sak.”

 

Sonder ’n begroting sal jy vind dat die bank se kredietkaartafdeling, Edgars, Woolworths en vele ander die baas van jou sak bly.

  •  
  •  
  •  
  •  
Francois Smit Deur Francois Smit


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close