Algemeen, Politiek -

Verdedig die media teen staatsonderdrukking

Deur Reon Janse van Rensburg

Die rol en vermoë van die media waar joernaliste vryelik verslag kan doen oor aangeleenthede van openbare belang, is 'n deurslaggewende aanduiding van demokrasie in 'n land. Wanneer die media werklik vry is en nie deur die regering beïnvloed of beheer word nie, word toegelaat dat burgers ingelig word oor die suksesse en ook die mislukkings van hul leiers, die behoeftes van die mense word aan die regering oorgedra en die media word ook as 'n platform gebruik waar mense verskillende idees kan bespreek en inligting met mekaar kan uitruil sonder dat sensuur toegepas word.

Wanneer hierdie vryheid wat die media behoort te geniet beperk word, ly alle burgers asook die regering daaronder. Leiers wat in demokratiese lande verkies is en wat veronderstel is om die verdedigers van mediavryheid te wees, is besig om in die 21ste eeu, waar inligting vrylik en maklik beskikbaar is, eksplisiete pogings aan te wend om stemme in die media stil te maak. Dit is 'n wêreldwye tendens en hou verband met 'n afname van die demokrasie self en die vryheid van die media is besig om te erodeer. Die erosie wat hier plaasvind, dra by tot die afbreek van demokratiese beginsels en instellings, en burgers in demokratiese en Westerse lande moet veral hieroor bekommerd wees.

Dit is egter nie slegs die burgers van hierdie lande wat daaroor bekommerd moet wees nie, maar ook die regerings omdat die vertroue wat burgers in die regering se vermoë om deursigtig te werk te gaan terwyl hulle deur die media gekritiseer en ook geloof word direk aan die vryheid van die media gekoppel word.

Dit is in die beste belang van die regering om nie sensuur toe te pas nie omdat deursigtigheid vertroue by burgers kweek en die media 'n belangrike rol speel om toe te sien dat die regering deursigtig te werk gaan met aangeleenthede wat betrekking het op die welstand en toekoms van burgers en die land in die geheel. Dit is danksy die media en joernaliste wat hard werk, en soms selfs hul lewens in gevaar stel, dat belangrike gebeure ontbloot word wat daartoe lei dat geregtigheid geskied. Suid-Afrika het 'n paar joernaliste van hierdie kaliber opgelewer.

In talle demokratiese lande oor die wêreld heen ontvang groot dele van die plaaslike bevolking onbevooroordeelde nuus wat die werklike omstandighede van die burgers, die regering en die land weerspieël. Daar is egter lande wat voorgee dat hulle mediavryheid ondersteun, maar in werklikheid word die media onderdruk en word die uiterste sensuur daar toegepas.

Hoewel daar steeds lande is waar dit gebeur dat joernaliste in die tronk gegooi word omdat hulle die waarheid wil praat en die regering ten alle koste probeer verhoed dat hulle dit doen, bestaan daar 'n ander gevaar waar die media pogings moet weerstaan om hul onafhanklikheid te verloor. Dit sluit in gevalle waar die regering koerante, radiostasies asook televisiestasies besit en waar die regering dan die finale sê het oor die nuus wat gedek word. Die regering het ook die mag om regulatoriese veranderinge te maak wat die media se taak uitdagend maak.

Die impak van sosiale media op die tradisionele media

Die rol van en manier waarop ons nuus en inligting absorbeer, het verander en met sosiale media wat deesdae 'n rol in bykans alle mense se daaglikse lewe speel, kry die meerderheid mense deesdae hul nuus en inligting aanlyn. Die tradisionele media, soos koerante, is vir die eerste keer nie meer al medium waardeur die media met hul lesers kon kommunikeer nie. Diegene wat in die nuus belangstel, het vandag die geleentheid om deel te wees van die gesprek waar hulle ook deelneem en die nuus beïnvloed. Nuus is ook vinniger beskikbaar en word nie net deur 'n gedrukte koerant gekommunikeer wat onderworpe is aan daaglikse spertye nie, want dit kan nou oombliklik met lesers of kykers gedeel word.

Sosiale media het die tradisionele vorm van die media vervang en dit kan ook gebruik word om tendense te identifiseer en voorspellings te maak wat gebaseer is op gesprekke tussen mense – iets wat voorheen slegs gedoen kon word deur baie tyd en geld aan intensiewe studies of opnames te bestee. Danksy die internet en sosiale media het die raklewe van artikels en inligting die hoogte ingeskiet omdat dit permanent op die internet beskikbaar is en nie soos gister se koerant in die asblik beland nie.

Die gebruik van sosialemediaplatforms soos Twitter en Facebook gee 'n groter stem aan burgers en politici omdat hulle 'n boodskap aan 'n groter gehoor kan verkondig. Hoewel dit 'n voordeel is en as sodanig gesien moet word, bestaan die risiko dat dié platforms vir persoonlike doeleindes misbruik kan word. Vryheid van spraak is uiteraard 'n goeie en nodige beginsel om die demokratiese beginsels van 'n land na te streef, maar die vraag ontstaan deesdae waar 'n mens die streep moet trek.

Die voormalige president van die VSA, Donald Trump, is van sowel Twitter as Facebook verban nadat hy in Januarie vanjaar sy ondersteuners aangehits het om Washington te bestorm as deel van 'n poging om die uitslae waarvolgens Trump die nasionale verkiesing verloor het, omver te werp.

Twitter, Facebook asook YouTube het 'n video wat deur Trump geplaas is, verwyder. In dié video het hy die oproeriges gevra om huis toe te gaan, maar hy het terselfdertyd beweer dat die verkiesing nie regverdig was nie. Sowel Facebook as Twitter het reeds vir 'n geruime tyd reëls wat verhoed dat verbruikers van die platforms gebruik maak om geweld aan te hits. Selfs gedurende Trump se presidentskap het albei platforms geweier om sy profiel te verbied of op te skort, ten spyte daarvan dat talle verbruikers dit wel versoek het.

Trump is ook nie die eerste of laaste politikuspersoon wat in die moeilikheid beland het oor sy uitlatings nie. In die mees onlangse geval het Twitter 'n twiet van die president van Nigerië, Muhammadu Buhari, verwyder. Dit het soos volg gelui:

“Many of those misbehaving today are too young to be aware of the destruction and loss of lives that occurred during the Nigerian Civil War. Those of us in the fields for 30 months, who went through the war, will treat them in the language they understand.” Sommiges het 'n bedekte dreigement van volksmoord op die Igbo- etniese groep, wat die grootste deel van die bevolking in die suidooste van Nigerië uitmaak, daarin gelees. Volgens Twitter oortree Buhari se twiet sy beleid oor beledigende gedrag.

Daarna het die Nigeriese regering Twitter in die land geblok. Die bykans 39 miljoen Twitter-verbruikers in die land het woedend gereageer en het hul verontwaardiging oor die blokkering teenoor die regering laat blyk. Talle van die verbruikers het egter wel die blokkering omseil deur gebruik te maak van privaat virtuele netwerke om toegang tot die Twitter te verkry wat vrae laat ontstaan oor hoe effektief die verbod sal wees.

Met die drastiese stap van die Nigeriese regering het die vryheid van die media én die burgers se vryheid in gedrang gekom omdat sosialemediaplatforms deur sowel die media as die burgers van die land gebruik word om hul misnoeë teen die regering te verwoord – 'n reg wat in 'n demokratiese land bestaan en uitgeoefen moet word. Indien hulle verhoed word om dit te doen, kom die vryheid wat die media moet hê in gedrang en is die demokrasie besig om uit te rafel wat daartoe kan lei dat burgers minder vryhede geniet en wat deur 'n vals skyn- demokratiese regering uitgebuit kan word.

Mediavryheid in die Ooste

Daar bestaan tans groot rede tot kommer in lande in die Ooste wat tradisioneel minder demokraties is en meer geneig is om kommunistiese of sosialistiese beheerstelsels te volg soos in China. Hongkong se mees uitgesproke pro-demokratiese koerant, Apple Daily, het onlangs sy laaste uitgawe gepubliseer nadat die koerant 'n jaar beleef het waarin die polisie op hom toegeslaan het en die koerant se eienaar en van die personeel in hegtenis geneem is ingevolge 'n nuwe nasionale veiligheidswet wat deur die regering geïmplementeer is.

Die koerant wat werklik in 'n enorme kopseer vir die Chinese regering ontaard het, het diegene met mag ondersoek en het in die 26 jaar van sy bestaan op verskeie tone getrap toe die waarheid ontbloot is.

Hongkong bestaan as 'n spesiale administratiewe streek wat deur die Chinese regering beheer word en geniet sy eie outonomie soos in die  wetgewing omskryf word. Die beginsel van “een land, twee stelsels” maak voorsiening vir die gesamentlike bestaan van sosialisme en kapitalisme in een land wat die vasteland van China is.

Hongkong, wat sy eie geldeenheid, paspoorte en immigrasie-kanale het en oor 'n eie regstelsel beskik, is inderdaad 'n moderne stad, maar die ketting waarmee hy aan China gekoppel is, lei steeds terug na Beijing waar mediavryheid nie geduld word nie.

Die einde van die Hongkongse koerant wat deur die sosialistiese Chinese regering veroorsaak is, kan moontlik die einde van mediavryheid in China beteken.

Hoe lyk mediavryheid in Suid-Afrika?

Die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm vryheid en die land is in 'n bevoorregte posisie waar joernaliste steeds die vryheid het om ondersoekende werk te kan doen. Daar behoort egter groter waardering vir Suid-Afrikaanse joernaliste te wees omdat hulle dikwels 'n deurslaggewende rol speel in die oopvlekking van die ware omvang van sake waarin die staat, korrupte individue en entiteite betrokke is. Joernaliste wat hierdie onthullings maak, word dikwels geïntimideer of aangeval en dit terwyl hulle bloot hul pligte uitvoer.

Die organisasie, Reporters without Borders, het onlangs die 2021 World Press Freedom Index gepubliseer wat as 'n barometer vir die stand van mediavryheid reg oor die wêreld dien.

Volgens die verslag beklee Suid-Afrika wat mediavryheid betref die 32ste plek uit 180 lande. Die indeks beskryf die toestand van mediavryheid in Suid-Afrika as gewaarborg maar broos.

Die organisasie het wel bevind dat daar in 'n aantal lande 'n algemene afname in die publiek se toegang tot inligting was en dat die hindernisse vir nuusdekking toegeneem het.

Die verslag maak ook daarvan melding dat die joernalistiek in 73 lande ernstig belemmer word en dat dit in 59 lande beperk is.

Daar is ook bevind dat Covid-19 beperkings gebruik is om media-aktiwiteit op verskeie plekke te beperk en dat mediavryheid tydens die Covid19-pandemie agteruitgegaan het.

Hoewel Suid-Afrika en die wêreld op hul hoede moet wees vir onderdrukking vanaf die staat teenoor die media moet daar ook erken word dat die media soms hul eie grootste vyand kan wees.

Die media se geloofwaardigheid is besig om af te neem omdat die media té eenvormig geraak het. Nate Silver, 'n Amerikaanse statistikus, het dit mooi verwoord. Volgens hom is “politieke kundiges” nie 'n baie uiteenlopende groep nie en is hulle geneig om baie vertroue in die opinies van ander kundiges en ander lede van die politieke instelling te plaas.

Die impak van die ideologiese eenvormigheid wat in verslaggewing gesien word, is dalk in sommige gevalle baie subtiel, maar dit is tog sigbaar. Dit lei egter daartoe dat die media hul eie lesers, kykers of luisteraars in die proses verloor omdat byna elke komponent van die media met dieselfde oog na die nuus kyk en op 'n byna identiese wyse daaroor verslag doen.

Die verbruiker – hetsy die leser, kyker of luisteraar – is op soek na intellektuele diversiteit en opinies en menings vanuit verskillende oorde waarby hy of sy kan baat om hul eie opinie te vorm. Indien die media in die VSA slegs die politieke nuus vanuit 'n Republikeinse oogpunt of slegs vanuit 'n Demokratiese oogpunt dek, is die kanse goed dat baie van die verskillende afdelings van die media hul verbruikers sal verloor. Dieselfde geld ook vir Suid-Afrika, alhoewel die politieke spektrum heelwat meer ingewikkeld is as in die van die VSA omdat daar hier nie net twee politieke kante van die spektrum is nie. Die media se werk is nie om hul eie opinie op mense af te dwing nie, maar om in te lig sodat mense juis vir hulself kan besluit.

In Suid-Afrika het ons ook onlangs gelees van die “eksklusiewe” berig deur die Independent Media Group se Pretoria News en IOL oor die klaarblyklike ouerpaar van Thembisa wat kwansuis die ouers van 'n tienling geword het. Daar is egter nie net plaaslik hieroor berig nie en die aangeleentheid het selfs die aandag van die internasionale media getrek. Daar is eers later bevind dat die babas nooit gebore is nie en dat die ma hieroor gejok het. Hoewel die joernalistiek nie alleen hiervoor blameer kan word nie, het dit egter groot gevolge ingehou vir die media en hul vertrouensverhouding met die publiek.

Waar die media die waghond van die regering is en hom tot verantwoording roep, is dit die rol van die mense wat die media gebruik, met ander woorde die lesers, kykers en luisteraars, om te verseker dat die media verantwoordelik optree en hom nie skuldig maak aan die einste dinge waaraan die regering hom skuldig maak nie.

Die media en die staat

Die media en die staat is nie met mekaar versoenbaar nie en geen regering behoort enigsins 'n sê te hê oor hoe die media te werk gaan om sy pligte na te kom nie. Die media moet 'n onafhanklike buffer wees tussen die staat en 'n land se burgers. Wanneer die regering deur wetgewing by die media inmeng, soos wat in China die geval is, is die media nie meer onafhanklik nie en word dit inteendeel deur die staat beheer. Mediavryheid gaan dan ten gronde, gevolg deur die demokrasie wat verruil word vir geslote deure in 'n kommunistiese stelsel waar burgers min tot geen regte het.

Behou die media en die vryheid wat daardeur geskep word en hou die staat op sy tone, maar roep ook die media tot verantwoording sodat 'n hoë standaard van verslaggewing en integriteit behou kan word.

 

Bronne:

Nigeria Bans Twitter After President’s Tweet Is Deleted – https://www.nytimes.com/2021/06/05/world/africa/nigeria-twitter-president.html

Facebook and Twitter Finally Locked Donald Trump’s Accounts. Will They Ban Him Permanently? – https://time.com/5927398/facebook-twitter-trump-suspension-capitol/

How Social Media Has Changed Traditional Media – https://www.shiftcomm.com/insights/social-media-changed-traditional-media/

How Nigeria’s Twitter ban stands to impact people, businesses – https://www.aljazeera.com/economy/2021/6/7/nigerian-twitter-ban-how-government-restriction-affects-people

China dismisses concern for Hong Kong freedom after tabloid closure – https://www.reuters.com/world/asia-pacific/emotions-run-high-hong-kong-residents-snap-up-final-edition-apple-daily-2021-06-24/

Media Freedom: A Downward Spiral – https://freedomhouse.org/report/freedom-and-media/2019/media-freedom-downward-spiral

Cyril Ramaphosa | Let’s work together to safeguard media freedom – https://www.news24.com/news24/columnists/cyrilramaphosa/cyril-ramaphosa-lets-work-together-to-safeguard-media-freedom-20210503

Hong Kong pro-democracy paper Apple Daily to print last edition on Thursday – https://www.reuters.com/world/asia-pacific/hong-kong-police-arrest-apple-daily-columnist-under-security-law-media-2021-06-23/

The Media is its Own Worst Enemy – https://www.hudson.org/research/14580-the-media-is-its-own-worst-enemy

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close