Algemeen -

Vergif of vergeef

Die laaste twee jaar word gekenmerk deur striemende rassespanning, gewetenlose geweldmisdade, korrupsie en staatskaping in Suid-Afrika. Moedverloor se vlakte lê deesdae al nader op die horison. Party mense onttrek hulself omdat hulle daardie vlak reeds bereik het.  Dit voel of alles net meer vergiftig word en alles meer kompleks en kwesbaar geraak het. Mense praat verby mekaar en bo-oor mekaar.

Iemand vra my nou die dag of hierdie dinge sal verander. In alle eerlikheid kon ek nie die vraag beantwoord nie. Al wat ek kon sê was dat mense mekaar weer moet vertrou, gemeenskappe moet weer omsien na mekaar en self 'n toekoms verseker, want ons kan allermins wag vir politici om dit vir ons te doen. Die mense wat onttrek het, moet nader getrek word. Die mense wat reeds moed verloor het, moet hoop gegee word, en diegene wat kies om nie meer te luister nie, moet oorreed word.

Om dit te laat gebeur moet daar eers vergeef word in stede van vergiftig word.

Gif bring steurnisse en wanbalans. Gif is dodelik. Gif vloei uit bottels en bokse, maar ook uit harte en monde. Die gif versprei en gaan plak oral vas. Hierdie gif kom in baie vorms voor. Ons sien dit in ons media, op konferensies wat gepak is met media asook in sosiale debatte. Dit is gif wat van die een na die ander oorgedra word. Gif wat dikker aangemaak word en verder versprei word. Hierdie gif moet verhoed word en geneutraliseer word. Dit is deesdae makliker om die gif te versprei sonder om na enige werkbare oplossings of neutraliseerders te kyk.

Die ander spektrum is vergifnis.

Vergifnis is 'n voortdurende proses. 'n Mens moet oor en oor kies om te vergewe. Vergifnis verg moed en geduld. Dinge in die verlede sal moet vergewe word sodat die gif kan verdwyn. Vergifnis is moeilik, maar dalk die gemene deler om te neutraliseer. Om te vergewe moet die verlede se mure afgebreek word, moet daar verstaan word en moet daar in gesprek getree word.

Is daar dalk hoop?

Ek kan nie anders as om te dink dat daar moet wees nie.

 

  •  
  •  
  •  
Juran van den Heever Deur Juran van den Heever


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close