Algemeen, Ekonomie, Politiek -

Verlede week in die nuus: Die begrotingsrede

In hierdie begroting is daar geen goeie inkomstegroep om in te wees nie, maar ek is beslis in een van die beteres! Hoe ryker jy was, hoe armer is jy ná verlede week se begrotingsrede – maar dit is ongelukkig nie waar dat hoe armer jy was, hoe ryker jy ná die begrotingsrede is nie.

Seker die grootste verandering is die verhoging in BTW met 'n enkele persentasie. 'n Groot gros kommentators het daaruit afgelei dat dit 'n anti-arm begroting is. Moet egter nie vrees nie – ons regering sal nie sommer iets doen wat anti-arm is as dit nie eksponensieel meer anti-ryk is nie. Die rykste 30% van huishoudings dra 85% tot die Ontvanger se BTW-inkomste by – dit sal dus beslis die armstes onder die armes erg benadeel, maar dit maak nie die rykes immuun teen hierdie verhoging nie. Waarskynlik meer rampspoedig vir enige ekonomie wat hoofsaaklik op vragmotorvervoer staatmaak, het die brandstofbelasting met 52c gestyg. Dié aankondiging het my na die bottel laat gryp. Dit was ongelukkig 'n waterbottel, want nadat ek die verhoging in mediesefondstariewe, versekering, BTW en brandstof geabsorbeer het, het ek nie meer geld gehad om tussen 6 en 10% meer vir my drankie te betaal nie.

Dit alles inaggenome dink ek ons is dalk té ondankbaar. Hoeveel van ons se voorneme was dit nie om van 1 Januarie af gesonder te leef nie? Die meeste van ons het dit waarskynlik van 1 Januarie na ons eerste werksdag toe uitgestel en toe na die eerste skooldag en nou is Februarie al amper iets van die verlede en jy het nog steeds nie daarby uitgekom om meer groente en minder koekies te eet nie. En hier, net voor moedverloor se vlakte, gee minister Gigaba vir ons die oplossing – maak alles wat lekker is duurder sodat mense vrugte en groente móét eet. As die mense nie koek kan bekostig nie, gee hulle dan bruinbrood (oftewel gee hulle belasting af op bruinbrood).

Ek wonder of Esau vandag nog sy eersgeboortereg sou verruil vir 'n pot lensiesop? As ek hy was, sou ek darem dink my eersgeboortereg is 'n belastingdraende produk werd. Miskien 'n tenk vol petrol, want dít dra darem nou lekker baie belasting.

Verder het Gigaba ons darem die guns gedoen om te verduidelik waarom belastingverhogings benodig word, en dit is gaaf. Ekonomiese ongemaklikheid, sê Gigaba, is nodig om openbare finansies te beskerm. Dit is natuurlik een manier om die verhouding tussen belastingbetaler en staat te sien. Ek, daarenteen, beskou die staat as die beskermer van die belastingbetaler. My belasting betaal iewers minstens 'n deel van 'n polisievoertuig, maar des te meer – my belasting betaal heel moontlik ook 'n deel van 'n salaris van 'n beleidmaker iewers in die Uniegebou of in die parlement wat veronderstel is om ook my beste belange op die hart te dra.

Ek is egter nie té ontsteld oor Gigaba se uitgangspunt nie. 'n Lid van die publiek skryf aan Gigaba dat die regering moet verseker dat die jeug met genoegsame vaardighede toegerus word om besighede te begin. As die kiesers in 'n land begin glo dat hulle van die regering afhanklik is om iets te bereik, is dit billik van die regering om te verwag dat hul finansies deur hierdie mense beskerm moet word.

  • 37
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close