Algemeen, Politiek -

Verlede week in die nuus: Ons nuwe ministers

As mens polonie buite rekening laat, was ons nuwe stel ministers beslis die grootste nuusmakers van verlede week – nie nét omdat hulle nuut is en dit 'n mens (en veral die media) maar 'n rukkie neem om aan nuwe dinge gewoond te raak nie, maar ook omdat hulle ongelukkig soms vinniger praat as wat hulle dink. Of moontlik dink hulle presies wat hulle sê. In daardie geval moet ons bekommerd wees – erg bekommerd.

Ek (selfs al is ek in skeptisisme ontvang en gebore) sal wel erken dat die staatsdiens heelwat beter lyk sedert president Ramaphosa aan die hoof daarvan staan. Dit is ook miskien juis hoekom die afgelope week 'n besonder moeilike week vir drie ministers was. Twee van hulle, Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini, is net soos die ander groot nuusmaker van die week – wat met geprosesseerde vleis te make het – geherprosesseer. Die derde minister, Bheki Cele, is egter 'n nuwe besem.

Bathabile Dlamini mag wel nie meer die minister van maatskaplike ontwikkeling wees nie, maar dit beteken nie dat alles in dié ministerie nou skielik glad verloop nie. Dit beteken hopelik ook nie dat sy kwytgestel gaan wees van die chaos wat steeds daar heers en waarvan sy die oorsaak is nie. As jy nog die Sassa-debakel van Maart 2017 kan onthou, dan weet jy  ook wat die Sassa-debakel van Maart 2018 basies gaan behels. In hooftrekke lui die storie so dat Sassa hul erewoord gegee het dat hulle gereed sal wees om alle betalings van toelae oor te neem en nou per abuis nie heeltemal gereed is daarvoor nie. Daarom moet 'n deel van die kontrak met hul huidige diensverskaffer, wat reeds in 2014 onwettig bevind is, vir 'n tweede keer hernu word.

Sassa het in hul hofaansoek aangedui dat hulle nie gereed is om die kontantuitbetaling van toelae oor te neem nie en dat sou die konstitusionele hof nie toelaat dat die huidige kontrak verleng word nie 2,8 miljoen ontvangers van toelae nie hul toelaag sal kan ontvang nie. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het tereg opgemerk dat Sassa die land se hoogste hof weereens as gyselaar hou.  Alhoewel my simpatie steeds by die hof lê, moet 'n mens tog wonder waarom nóg die hof, nóg die spesialispaneel of die interministeriële komitee, wat tussen Maart verlede jaar en nou oor die proses moes toesig hou, nie eerder enige iets omtrent die situasie gedoen het nie.

Alhoewel Dlamini deur haar aksies toon dat sy regtig nie arm mense se menseregte belangrik ag nie, sê minister Cele dit sommer prontuit wanneer dit kom by verdagtes in kriminele sake. Cele het by Razzmetazz as minister van polisie oorgeneem en het sommer pas ná sy aanstelling gesê hy dink nie misdadigers het menseregte nie. Alhoewel dit opsigself reeds 'n problematiese stelling is om te maak, vererger dit wanneer 'n mens die res van sy toespraak lees. Sy uitsprake verwys nie na misdadigers wat skuldig bevind en ná 'n verhoor gevonnis is nie. Dit verwys na iemand wat jy vermoed 'n kriminele daad gaan pleeg. Vry vertaal het minister Cele gesê dat menseregte vir mense is en nie vir monsters en bullebakke nie en dat as jy 'n geweer neem en beplan om 'n polisieman wat nie aan diens is nie te gaan skiet, dan is jy nie 'n mens nie. Dit is hard – kliphard.  En nie heeltemal wat 'n mens wil hoor van die minister van polisie in 'n land wat nog al té goed kan onthou hoe dit is as polisielede hul mag misbruik nie. Alhoewel ek Cele alles van die beste in sy nuwe pos toewens, hoop ek dat nie eers een polisielid hom ernstig sal opneem as hy sulke dinge kwytraak nie.

Minister Gigaba is die laaste, maar beslis nie die minste uit die drie ministers wat 'n moeilike week agter die rug het nie. Hy is pas terug in sy ou pos as minister van binnelandse sake, of hy maak al weer groot amok. Daar heers opnuut verwarring oor die Guptas se burgerskapstatus nadat Gigaba by 'n perskonferensie verduidelik het dat Atul en Ajay Gupta nie Suid-Afrikaanse burgers is nie. Aangesien ons 'n vrye media het en Twitter vrylik tot ons beskikking het, kon ons redelik gou vasstel dat Atul wel 'n burger is. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie se webwerf bevestig dit ook. Gigaba het daarna gesê dat hy per abuis na Atul en Ajay in dieselfde asem verwys het.

Gigaba het laas Woensdag ook nie vir 'n vraag-en-antwoord-sessie in die parlement opgedaag nie in weerwil daarvan dat sy bywoning twee keer dié dag bevestig is. Blykbaar kon hy dit nie bywoon nie omdat hy skielik begin sleg voel het en hom na die dokter moes haas. Alhoewel ons steeds nie weet wat met die Guptas aangaan nie, dink ek 'n veel belangriker vraag is of mens cholesterolprobleme kan opdoen as jy so baie spekskiet soos Gigaba.

  •  
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close