Algemeen, Politiek -

Verlede week in die Nuus: Zuma se laaste wens

Ek is seker oudpresident Jacob Zuma het met 'n hele sak vol wense by Mahlamba Ndlopfu (die voormalige Libertas) ingetrek. Waarvan ek verder oortuig is, is dat baie van hierdie wense waar geword het – soms met die hulp van getroue kamerade soos Schabir Shaik en die Gupta-broers. Alhoewel drome en wense noodsaaklik is, is daar geen twyfel dat Zuma so nou en dan 'n hoek gesny het om dit waar te maak nie. Byvoorbeeld – ons elkeen het die prentjie van ons droomhuis in ons kop, maar vreeslik min van ons gebruik belastingbetalers se geld om ons droomhuise te bou, bloot omdat dit nie so hééltemal eties is nie (sommiges sal selfs sê dat dit krimineel is). Elkeen met kinders het die wens dat hul kinders finansieel onafhanklik sal wees – nie elkeen van ons gebruik ons invloed as staatspresident om ons seun (hier verwys ek spesifiek na Duduzane Zuma) die direkteur van 13 maatskappye te maak nie.

Daar was egter een wens wat Zuma op verskeie geleenthede vreeslik dapper herhaal het – die wens om sy dag in die hof te kry – wat vir my begin lyk het asof dit nie gaan waar word nie. Uiteindelik het dit egter ook waarheid geword met Shaun Abrahams se aankondiging dat die klagtes teen Zuma wat in 2009 deur die destydse hoof van die NVG teruggetrek is, weer ingestel sal word. Hierdie klagtes het nog niks te make met enige van die vele misdrywe wat Zuma vermoedelik tydens sy presidensie gepleeg het nie. Dit is nog net die aanklagtes wat teen hom gebring is in verband met die skaduagtige wapentransaksies waar Schabir Shaik ook betrokke was. Dit is dan ook nie 783 klagtes soos vele politici graag beweer nie, dit is 18 aanklagtes wat verband hou met 783 transaksies. Zuma sal egter net op 16 van die oorspronklike 18 aanklagtes teregstaan. Dit is soos die Engelsman sê: “Be careful what you wish for, lest it comes true.”

Die litigasie wat hierdie aankondiging vooraf gegaan het, het bykans 9 jaar geneem en die staat (lees: belastingbetaler) meer as R15 miljoen gekos. Die DA het hierdie hofsaak gelei en aangevoer dat die besluit om die aanklagtes terug te trek irrasioneel was – hulle het die saak verlede jaar gewen.  Zuma en die NVG het natuurlik appelleer maar uiteindelik erken dat hulle geen saak het nie en die aansoek is geweier. Dit moet 'n jol wees om links en regs teen hofuitsprake te appelleer as mens dit met ander mense se geld doen.

Dit is egter welbekend dat elke silwer randjie 'n donker wolkie het. In hierdie geval kom die donker wolkie aan getoi-toi in die vorm van Carl Niehaus wat namens die MK-veterane hul onwankelbare ondersteuning aan Zuma beloof het. Volgens Niehaus is Zuma se vervolging iets om oor bekommerd te wees en om dop te hou, nie omdat dit dalk 'n blik wurms kan oopmaak wat in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis ongeëwenaar sal wees nie, nee. Die MK-veterane is bekommerd hieroor aangesien almal in die land, dit sluit regters in, die afgelope ruk gebombardeer en beïnvloed sal word deur, wat hy beskryf as “the avalanche of negative publicity, character assassination and kangaroo courts conducted against Comrade Zuma”. Nou wonder ek opreg of Niehaus dink dat hierdie die eerste hofsaak in die geskiedenis van tyd is waar regters nuus lees? Of poleer hy net solank die verhoog se vloer sodat die MK-veterane in geval van 'n skuldigbevinding gereed is om ‘vooroordeel!’ te gil.

  •  
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close