Nuus, Politiek -

Verlede week in die nuus:

Ek sien die Suid-Afrikaanse gemeenskap in Brisbane het Sondag 'n groot optog gehou om “thank you” te sê aan die Australiese minister van binnelandse sake. Hulle sê natuurlik “thank you” omdat hy bereid was om in die openbaar te sê dat daar gekyk moet word of Suid-Afrikaanse boere nie dalk deur Australië ingeneem kan word as deel van hul vlugtelingprogram nie. (Hy ontken egter ten sterkste dat hy ooit die woorde “fast track” gebruik het). Terwyl Suid-Afrikaners in Brisbane aan 'n optog deelgeneem het, het ek na die Proteas se skouspelagtige oorwinning oor die Ausies gesit en kyk. Ek sien iemand twiet dat jy ná daardie kolfbeurt sommer 'n gratis visum kan kry as jy kan krieket speel.

Selfs as ek 'n visum gratis kon kry, is daar steeds 'n paar uitdagings vir my daaraan verbonde om na Doer Onder te trek. Dit is ander tipe uitdagings as dié waarvan ek hierdie week in die media gelees het – alhoewel dit beslis so is dat baie Suid-Afrikaners sal sukkel weens die gebrek aan goedkoop arbeid en die hoë grondpryse.

Heel boaan my lys is my voorliefde daarvoor om met hout te braai. Ek sal maar sukkel om daaraan gewoond te raak om met gas of houtskool te braai. Selfs as ek aan houtskool of gas gewoond sou raak, is ek nie 'n groot aanhanger van vis en ander seekos nie. Miskien so nou en dan, byvoorbeeld as dit die laaste ding op aarde is om te eet nadat die zombies oorgeneem het of so iets. Maar ek sal maar moeilik my Karoo-skaaptjoppie of Bosveld-elandfillet vir 'n paar garnale inruil.

Wat egter selfs 'n groter probleem is, is dat ek maar sukkel-sukkel regkom met Ingels. En selfs al klink dit heeltemal anders as wanneer die koningin dit praat, praat die Ausies haar taal Doer Onder. Daar is 'n liedjie waarop ons volkspele gedoen het toe ek op hoërskool was wat verduidelik hoe 'n jongman voel as hy met die nooi wat hy in die oog het wil gesels. (Ek kan ongelukkig nie die liedjie se naam onthou nie.) Die jongman verduidelik dan aan die nooi “my taal verstom en my mond word droog en my hart klop in my keel.” Dit beskryf hoe ek voel elke keer as ek moet Engels praat. Minstens kan ek hier nog met 'n kollega of vyf Afrikaans praat en kan ek my borrelgom-melkskommel in Afrikaans by 'n hele paar restourante in Pretoria bestel. En selfs in 'n omgewing wat nie so Afrikaans is nie verstaan almal die woorde “lekker”, “bakkie” en “braai” (en selfs nog 'n paar wat ek nie in fatsoenlike geselskap sal gebruik nie.) 'n Mens kan ook maar die Afrikaanse woord gebruik as jy nie op die Engelse woord kan kom nie – iemand sal genoeg Afrikaans verstaan om te kan uithelp. Die Ausies is egter so Brits dat daar tot 'n Union Jack op hul vlag pryk en hoe sal 'n Afrikanerhart nou aan so iets kan gewoond raak?

Asof dit nie genoeg is nie, moet 'n mens in gedagte hou dat jy in een of ander stadium jou aangenome land se sportspanne sal moet begin ondersteun – en as dit nie jy is nie, dan gaan jou kinders dit doen. Vir my is die keuse tussen Steve Smith en Faf du Plessis, of Cameron Bancroft en Aiden Markram ná verlede week se kriekettoets nie 'n vreeslik moeilike keuse om te maak nie.

Ek is seker die meeste mense het veel ernstiger lysies van wat hul uitdagings hier in Suid-Afrika is. Die siening wat ek hier uitspreek, is sommer net 'n tong-in-die-kies-kykie na die alledaagse en vanselfsprekende goedjies wat 'n mens prysgee as jy na 'n ander land verhuis. Dit is nie sommer net 'n kwessie van 'n ‘fast tracked’ visum kry en 'n vliegtuigkaartjie koop nie.

  •  
  •  
  •  
  •  
Estella Boshoff Deur Estella Boshoff


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close