Algemeen -

Verlig of verkramp – ons gaan eerder 'n universiteit bou

Wat 'n vreemde debat! 'n Handvol kommentators het besluit om 1966 se verlig-verkramp-logika van wyle dr. Willem de Klerk weer af te stof. Vir die kommentators is die regses, ou idioom en idees, wat eintlik nie meer deel van die groter diskoers is nie, die groot gevaar. Hulle blaas nuwe lewe in 'n ou debat.

 

Die Afrikaner-gemeenskap word gedwing om tussen hul blokkies te kies, maar die normaalkurwe van Afrikaners is ver verwyder van hul idees oor verlig wees.

 

Afrikaners staan eintlik buite die debat, want die verlig-verkramp-logika is nie meer nie. Die groot middelgrond voel nie tuis in een van die twee blokkies nie.

 

Daar is egter 'n lewe anderkant die verlig-verkramp-debat. By Solidariteit soek ons na daardie lewe – 'n lewe wat daartoe sal lei dat ons 'n toekoms hier sal skep waarin ons kinders en hul kinders vry, veilig en voorspoedig sal wees. Dit is 'n lewe van respek en erkenning; van omgee en uitreik.

 

Dit is 'n lewe waar ons nie van die staat afhanklik wil wees nie, maar waar ons selfstandig wil wees. Dit is 'n lewe van meer sélf en minder stáát. Dit is 'n lewe van gemeenskappe en respek vir die individu binne die gemeenskap.

 

Dit is ’n lewe waar ons in Suid-Afrika gaan bly, maar nie gaan stilbly nie. Dit is 'n lewe wat regte gun, maar ook opneem. Dit is 'n lewe waarbinne ek trots Afrikaner, Afrikaanse, Suid-Afrikaner en kind van Afrika kan wees.

 

Dit is 'n lewe waarvoor ons sal stry. Dit is 'n lewe waarbinne ons glo dat die grondwetlike demokrasie van jou verwag om grondwetlike regte op te neem; 'n lewe waarbinne ons burgers, en nie onderdane nie, sal wees. Ons glo dat dit juis patrioties is om 'n staat uit te daag wat grondwetlike waardes en sy grondwetlike plig ondermyn.

 

Dit is egter veral 'n lewe waarvoor ons sal bou. Ons glo dat ons self die verantwoordelikheid moet neem. Ons glo nie dat die toekoms met ons gaan gebeur nie. Ons wil help om ons toekoms te skryf. Ons wil die toekoms skryf deur te bou.

 

As ons bekommerd is oor die toekoms; die staat sien verval; gedurig moet hoor van misdaad; moet toekyk hoe die parlement in 'n sirkus ontaard en die gevolge van 'n afwesige president beleef, dan is ons reaksie – ons gaan 'n universiteit bou!

 

En ons het. Akademia bestaan reeds en dit word nou uitgebou tot 'n volwaardige, nuwe private Afrikaanse universiteit. Hiermee sê ons dat daar nog 'n lang toekoms vir ons in Suid-Afrika voorlê. Ons bou egter nie net om te oorleef nie; ons bou 'n universiteit, want ons beplan dat ons jongmense in die toekoms aan die hoë ordes van die ekonomie gaan deelneem.

 

Ons bou dus met selfvertroue. Ons bou 'n tegniese kollege, Sol-Tech, met duisend jongmense wat daar in skaars- en kritieke vaardighede opgelei word. Ons skep die vaardighede nie vir onsself nie, maar vir die mark en vir ekonomiese groei.

 

Ons bou 'n studiefonds wat verlede jaar sowat R16 miljoen uitbetaal het en binne enkele jare tot R100 miljoen gaan groei en wat jaarliks aan verdienstelike studente uitbetaal gaan word.

 

Deur die Solidariteit Helpende Hand bou ons Afrikaanse lees- en wiskundetoepassings; ons bou Afrikaanse wiskunde-klubs by skole en vestig verenigings vir onderwysers. Ons gee skooltassies aan behoeftige graadeens en bedryf ondersteuningsprogramme vir behoeftige kleuters. Ons glo dat armoede deur opleiding voorkom moet word.

 

Ons belê in ons jongmense en ons opbrengs is 'n toekoms.

 

Solidariteit handhaaf 'n goeie balans tussen veg en bou, maar die hoop lê in die bou.

 

Ons verlig en verkramp nie meer nie; die ou debatte van die verlede verveel ons.

 

Ons glo dat as jy aan die toekoms twyfel, dan moet jy dit self bou – ons gaan net hier bly.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close