Algemeen, Politiek -

Verval, opbou en skikkings vir 'n nuwe bedeling

Pres. Cyril Ramapohosa se onlangse staatsrede is al bykans vergete, twee weke nadat hy dit gelewer het. Die president en sy regering het immers hul eie geloofwaardigheid so ernstig aangetas dat min mense nog enige van hul beloftes glo. Daar is 'n groeiende gaping tussen die regerende politici se breedsprakige uitsprake en die werklike uitkomste daarvan.

Die vraag is wat nou gedoen moet word. Daar is immers nie 'n politieke oplossing in sig nie, en dinge kan nie net aan 'n wanfunksionele staat oorgelaat word nie. Die goeie nuus is dat 'n land nie net uit sy regering bestaan nie. Talle ander lande het al swak regerings gehad, en tog het hulle tot vandag toe staande gebly. Die Suid-Afrikaanse samelewing is tog veel meer as die regering. Die feit dat die land die Covid-19-pandemie, die harde inperkings en die regering se swak bestuur daarvan goed oorleef, spreek van 'n lewenskragtige samelewing wat ten spyte van die regering presteer.

Terselfdertyd is die privaat sektor en die gemeenskapsektor met 'n opbouproses besig wat grootliks vir die mislukking van die staatsektor vergoed. Die ekonomie beur nog voort, gedryf deur vernuwende ondernemerskap en harde werk van mense in die privaat sektor. Die burgerlike sektor se veerkragtigheid blyk uit die groot rol wat kerke, skole en gemeenskapsorganisies speel om die land aan die gang te hou. Afrikaanse skole is nog van wêreldgehalte en die Solidariteit Beweging se nuwe kampus vir sy Sol-Tech-beroepsopleidingskollege wys dat Afrikaners nog kan saamstaan en groot prestasies oplewer.

Verval en opbou

Die land word dus gekenmerk deur twee teenstellende neigings: 'n proses van staatsverval weens 'n swak regering en 'n opbouproses gedryf deur die privaat sektor en die gemeenskapsektor. Die gevolg hiervan is dat, namate die sentrale regering van bo af misluk, nuwe oplossings van onder af opgebou word. 'n Kenmerk van hierdie opbouproses is dat daar nie op die regering gewag word vir vooraftoestemming om dinge te laat gebeur nie. Die regering het nie 'n ander keuse as om dít wat opgebou word ná die tyd te erken of te aanvaar nie.

Dit is insiggewend dat die ANC se steunbasis al meer die teenstelling tussen die regering se mislukkings en korrupsie aan die een kant,en die gemeenskapsektor se prestasies aan die ander kant begin raaksien. Verskeie swart meningsleiers het die afgelope twee weke gewys op die verskil tussen die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus, wat op tyd en onder begroting voltooi is, en die regering se onvermoë om so iets te doen.

Die kombinasie van die verswakking van die staat en die versterking van die privaat sektor en gemeenskapsektore kan tot die ontwikkeling van 'n nuwe politieke verstandhouding in die land lei. Dit kan selfs 'n informele nuwe “bedeling” wees, waar die regering nie 'n ander keuse gaan hê as om die nuwe werklikhede wat van “onder” af tot stand kom van “bo” af te aanvaar nie. Die uitdaging vir Afrikaners is gevolglik om nie moedeloos te raak oor dít waaraan ons niks kan doen nie, maar om te fokus op dít wat ons kan opbou.

Politieke verhoudinge

Oor die algemeen bestaan daar nog goeie persoonlike verhoudinge tussen mense van verskillende rasse in die land. Politieke verhoudinge is swakker weens die swak regering en die rassewette wat veral op wit mense, maar ook op ander minderhede gemik is. Die gevaar is dat die regering minderhede vir sy eie mislukkings blameer en van wit mense die sondebokke probeer maak in 'n poging om aan die mag vas te klou.

Daarom bly dit belangrik vir minderhede soos Afrikaners om te doen wat ons kan om verhoudinge te verbeter. Hoewel talle lande in krisistye uitgereik het na hul minderhede om saam te werk om die probleme op te los, is daar nog geen betekenisvolle teken daarvan in Suid-Afrika nie. Nogtans is daar wel invloedryke mense en groepe in die swart gemeenskap wat net so bekommerd is oor die toekoms van die land, en wat nie die regering se wanbestuur steun nie. Daarom behoort daarna gestreef te word om beter verhoudinge met hierdie groepe te handhaaf as wat die ANC met hulle het. Ooreenkomste tussen verskillende gemeenskappe wat gegrond is op wedersydse erkenning en respek kan mettertyd uitgebrei word om meer en meer groepe te betrek. Dit kan meer ruimte vir Afrikanergroepe skep om ons regmatigte belange te bevorder, en kan erkenning vir dít wat ons in die praktyk bou makliker te maak.

Ons sal self én saam

Die Solidariteit Beweging voel sterk oor die “Ons sal self”-projek. Ons is egter bereid om ook “Ons sal saam” te sê indien ander gemeenskappe byvoorbeeld wil saamwerk om die verval van munisipale dienste te keer. Die enigste vereiste hiervoor is dat dit 'n tweerigtingproses moet wees waarin ons belange as gemeenskap ook bevorder word. Ons kan nie mense help wat op grond van ras aktief teen ons diskrimineer nie. Ons kan egter met mense werk wat ten spyte van verskille bereid is om met ons saam te werk oor dít waaroor ons saamstem sonder om te verwag dat ons alles wat vir ons belangrik is, moet afstaan. In die proses kan ons baie leer uit die diplomatieke strategie wat ons voorouers gevolg het om vir al meer as 'n eeu lank vrede in suidelike Afrika te bevorder. Ons hoef nie vir die regering te wag om te doen wat gedoen moet word nie. Ons bou aan ons toekoms, en ons bou ook aan goeie verhoudinge.

  •  
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close