Gemeenskappe, Kultuur, Nuus, Politiek -

Vir Afrikaanse onderwys!

Met 'n goeie opvoeding word die toekoms ontsluit waarin elke kind met passie en oorgawe sy roeping sal kan vind en uitleef.

 

Dit is die droom van elke ouer vir sy kind: 'n veilige ruimte waarin hy kaalvoet kan leer; waar hy kan groei en ontwikkel en sy volle potensiaal kan bereik voor hy die veiligheid van kindwees agterlaat om sy plek in die samelewing te gaan volstaan.

 

Dit is dan om hierdie rede dat ons as ouers besonderse aandag skenk aan die skole wat ons  vir ons kinders kies. Ons vorm 'n spesifieke verbintenis met daardie skool en raak deel van die gemeenskap wat tot die behoud en ontwikkeling daarvan bydra – alles met die doel om die beste geleenthede vir ons kinders moontlik te maak.

 

As 'n skoolgemeenskap, en taalgemeenskap, neem ons ons verantwoordelikheid ten opsigte van ons skole ernstig op. Ons ag dit ons plig om betrokke te raak waar ons kan en om nie net ons eie kinders individueel te ondersteun nie, maar binne die groter gemeenskap ook 'n beduidende rol in die vooruitgang van ons skole en onderwys te speel.

 

Ons doel is eenvoudig: gehalte-onderrig en -opvoeding en 'n veilige omgewing waarbinne dit kan plaasvind. 'n Plek vir taal, kultuur en waardes wat oorgedra kan word sonder dat dit bedreig word, sodat holistiese ontwikkeling ongehinderd kan plaasvind.

 

Midde die politieke klimaat wat tans in Suid-Afrika heers, word hierdie ideale daagliks bedreig. Die Departement van Basiese Onderwys het selfs so ver gegaan as om wetgewing voor te stel wat die regte van beheerliggame tot so 'n mate sal ondermyn dat hulle in werklikheid geen seggenskap meer sal hê oor die taal- of toelatingsbeleid van hulle skool nie. Die finale besluit sal nou by die hoof van 'n departement of die LUR self lê.

 

Die praktiese implikasie is dat iemand in 'n politieke aanstelling, soos mnr. Panyaza Lesufi, nou kan dikteer watter taalbeleid 'n skool moet implementeer asook wat die toelatingsvereistes vir daardie skool is. En ek as ouer, wat tans deel vorm van die gemeenskap wat die skool direk dien, en deur middel van die beheerliggaam in die beste belang van my kind se opvoeding optree, se grondwetlike regte word ondermyn.

 

Die regering is duidelik besig om sy werklike pligte, wat die bou van skole en die verskaffing van voldoende hulpbronne is, te versaak, en sy uitweg is eerder om sy onbevoegdheid te gaan afdwing op dit wat werkend is, as wat hy verantwoordelikheid vir sy mislukkings wil aanvaar en bevoegde werknemers aanstel.

 

Die uiteinde: skole wat ver-Engels, kinders wat in hul massas by funksionele skole ingeskryf word ongeag die grootte van 'n klaskamer of die kapasiteit van die skool, en natuurlik 'n onafwendbare verswakking in die kwaliteit van onderrig wat aangebied kan word.

 

Dit is niks minder as die kaping van openbare skole en die terugswaai na staatskole nie. Dit is die staat wat vat waaroor hy net moet toesig hou, en die toeëien van mag wat hom nie toekom nie. Hy wil beheer en dikteer. Hy wil voorsê en die toutjies trek sonder enige gevolge of sonder om verantwoordelikheid te aanvaar. En hy wil uitroei. Hy wil die regte van ons as Afrikaanssprekendes onderdruk en ons dwing om onderwys in ons moedertaal prys te gee.

 

Ons as ouers, ons as onderwysers en ons as Afrikaanse gemeenskap kan dit nie toelaat nie. Ons moet hierdie wysigings teenstaan. Ons moet ons stemme dik maak en ons moet deelneem aan elke proses om hierdie verandering af te wend.

 

Dit is nie net vir die behoud van die kinders wat tans in die skool is nie. Dit is vir die kinders wat nog moet kom. Dit is vir die voortbestaan van kwaliteit-onderrig, van geleenthede, van 'n taal en van 'n kultuur. Dit is vir 'n veilige leeromgewing, 'n toekoms en 'n bestaansreg. Dit is vir Afrikaanse onderwys.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close