Nuus -

Vir hierdie deur is geen sleutels nodig

“Hierso.” Rudolf oorhandig ’n motorsleutel aan ’n bruin leer-sleutelhouertjie aan my. Hy lyk ernstig en amptelik. Ek frons. Ek ken nie die sleutel nie.

“Wie se sleutel is dit, Rudolf?”

“Dis die kombi se sleutel.”

My hart maak ’n ekstra bokspring. “Die kombi s’n! Wat moet ek dáármee doen?”

“Ek weet nie,” sê Rudolf bedruk. “Oom Doepie het dit vir my gegee, en nou gee ek dit vir jou.”

Ek kyk na die sleutel. Dit is die sleutel van ’n kombi wat nooit weer sal ry nie. Die sleutel van ’n kombi wat verfrommel in die noorde van Mosambiek lê. ’n Kombi waarin twee mense hulle lewens verloor het.

Ek hang dit ernstig en amptelik aan die sleutelhaak in my kombuis. ’n Nou nuttelose artikel wat nie meer ’n voertuig nie, maar ’n stuk geskiedenis oopsluit.

Beelde, klanke en reuke stormmy gemoed binne.Vier voertuie agtermekaar, op pad huis toe ná ’n uitreik in Mosambiek. Rudolf se stem oor die radio: “’n Vragmotor binne-in die ryvlak, pasop, geen reflektors of ligte nie…” Dan spat vonke reg voor ons. ’n Stuk wit metaal vlieg deur die lug. Ek rem, trek af. Die voertuig se ligte val in die veld op ’n verwronge, wit wrak. Die kombi. Die kombi met nege mense in…Andri se stem wat roep: “God, help ons…”

Ons vlieg uit die bakkie, hardloop nader.

Oom Doepie strompel die wal uit, roep soos ’n besetene. Ons storm gly-gly by die skuins grondwal af, gryp aan die lang gras om ons balans te hou. “Charlesie, Charlesie!” hoor ons oom Doep gil. In die wrak sit dominee Gerriemet geslote oë. Bloed loop teen sy kop af. Die gas van die lugreëling ontsnap met ’n gesis. Die hele skuifdeur van die kombi is weg. Charles en Hannelie hang by die wrak uit. Roerloos.Ons staan verlam.Verstom.Voel hulle polse. Kyk woordeloos na mekaar.

Dit word ’n nagmerrie-oggend.Mense wat mekaar vashou en huil, wat doelloos rondmaal. Bagasie wat oral verstrooi lê. Ans wat Sonieka se kitaar by die wal uitdra en haar haardroër optel. Annette wat dominee Gerrie se kop regop hou. Chrissie wat benoud vra: “Dominee Gerrie, druk my hand!” Tannie Beryl, met ’n gebreekte bobeen, wat vra: “Druk net ’n kussing onder my in, asseblief.” Oom Doepie wat langbeen teen die bakkie sit, gedisoriënteerd en verslae.

En nou – nou hang die sleutel aan my haak. Twee begrafnisbriewe lê op my spieëlkas.

Dominee Gerrie is nog aan die herstel. Tannie Beryl is geopereer en weer tuis. Oom Doepie is deur hel nadat hy vir etlike dae aangehou en daarna verhoor is. Ons moet almal met ons lewe aangaan, al is daar so ’n groot kloof tussen ons gewone daaglikse lewens en die werklikheid van alles wat in Mosambiek met ons gebeur het.

In Charles en Hannelie se nuwe lewe is daar geen sleutels nie. “Die poorte daarvan (van die nuwe Jerusalem) word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie.” (Openbaring 20:25.) En wanneer hulle mense later by hulle aansluit, sal al die pyn en hartseer ook van die verlede wees: “Hy sal die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar niemeer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Dankie, Here, dat U my hart, my oë en my siel oopgesluit het vir U liefde, dat U ons uitreikgroep in u arms omvou het. Dankie dat U my leer dien het. Help my om die wrak van my ou lewe ver agter te laat; om die sleutel daarvan nie op te hang nie, maar sommer weg te gooi.

Want U maak alles nuut…

(Marietha Malan is ‘n regeelde rubriekskrywer vir die Solidariteit Tydskrif. Hierdie rubriek het ook in Uitgawe 5 van 2011 verskyn.)

  •  
  •  
  •  
  •  
Marietha Malan Deur Marietha Malan


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close