Algemeen, Godsdiens -

Vir Wie werk ek? Kom ons praat 'n bietjie oor die Christelik-Westerse Wêreldbeskouing.

Roeping, plig, geld, invloed, roem – waarom doen ons wat ons doen?

Elke mens het 'n sekere wêreldbeskouing. Dit wil sê 'n sekere manier hoe jy die wêreld sien. Eenvoudiger gestel, jy het altyd 'n wêreldbeskouing. 'n Wêreldbeskouing bestaan op sy eenvoudigste uit drie elemente. Ten eerste gaan dit oor wat om jou aangaan en hoe jy daaroor dink; dit wat goed is aan die gebeure rondom jou, maar veral dit wat sleg is daarvan. Tweedens gaan dit oor die gebeure wat volgens jou veronderstel is om aan te gaan – dit is dus jou idee van wat die perfekte wêreld of samelewing is, en derdens gaan 'n wêreldbeskouing oor hoe om by hierdie idee (die tweede punt) uit te kom.

In meeste gevalle het 'n mens se wêreldbeskouing verskeie fasette wat alles inderwaarheid vanuit een oorhoofse wêreldbeskouing vloei. Alhoewel jy dan eintlik net een wêreldbeskouing het, is dit heeltemal moontlik dat een mens kan glo dat die ekonomie ten volle sonder regulasie moet funksioneer, en dat vraag en aanbod dus die mark sal lei, produksie sal dikteer, en tot groei sal lei. Daardie selfde mens kan dan ook vas glo dat kinders gelowig grootgemaak moet word en dat 'n huisgesin weekliks in die kerk moet kom, omdat dit is wat God van gelowiges verwag. Daardie spesifieke mens kan verder dan ook glo dat die mens nie veronderstel is om enige voedsel in te neem wat kunsmatige hormone of byprodukte bevat nie, of selfs dat 'n mens géén diere byprodukte moet gebruik nie. Sou ons dan argumenteer dat hierdie persoon skisofrenies is? Nie sommer nie – juis omdat hierdie velde eintlik redelik min met mekaar te doen het, maar een mens op een slag 'n ekonomiese-, gelowige-, en verbruiksbeskouing kan hê, terwyl daar eintlik een oorhoofse wêreldbeskouing by so 'n persoon heers.

Met dit in ag genome kom ons by vandag se vraag: Vir Wie werk ek? Die hoofletter “W” behoort reeds vir jou 'n idee te gee oor wat die beantwoordingslyn gaan wees, maar 'n wyer draai ter verduideliking vir die antwoord sal eers gemaak moet word:

Enige persoon wat langer as 'n dag in 'n gegewe werkplek is sal besef wat kommuniste oor die wêreld heen tot hul eie ontnugtering op 'n stadium besef: Alle mense is nie dieselfde nie. Party werk vinniger, party werk slimmer, party werk net die nodige, en party stel vir hulself onbereikbare teikens, juis sodat hulle konstant uitgedaag voel.

Dit kan dan gebeur dat sommige werkers voel dat hulle meer waarde tot die maatskappy toevoeg as ander, en erkenning daarvoor wil kry, in een of ander vorm. Hierdie benadering is nie inherent verkeerd nie. Inteendeel, dit is net regverdig dat hulle wat meer doen beter vergoed sal word. Suid-Afrika se bevorderingsbeleid wat op politiese redes eerder as verdienste funksioneer vind die beloning van meriete soms minder belangrik as wat gesond sou wees vir die ekonomie, maar hier word na 'n meer logiese beskouing van die wêreld verwys. Met ander woorde, dit gaan hier egter meer oor die persoon se beskouing van werk. Om die werk wat jy doen net te beskou as 'n uitdaging wat jy oorkom in ruil vir vergoeding is redelik sterk in kontras daarmee om die werk wat jy doen te beskou as jou roeping, en 'n geleentheid vir jou om die Here te dien deur jou talente ter uitbouing van sy Koninkryk aan te wend.

Dit is dus duidelik dat daar verskillende wêreldbeskouings is.

Om die werk wat aan jou toevertrou is as jou roeping te beskou, en om harder te werk as almal anders in die kantoor, nie omdat jy bevorder wil word nie, maar omdat dit deur jou wêreldbeskouing dikteer word, is tipies van die Christelik-Westerse Wêreldbeskouing, maar wat beteken dit, waar kom dit vandaan, en wat doen dit in Afrika?

Kom ons kyk eerste na die laaste vraag:

Waarom is hierdie wêreldbeskouing in Afrika?

Toe die eerste Vryburgers in die 17de eeu hul rug op Europa en die vestingspos in die Kaap gedraai het, en verder in Afrika opbeweeg het en vir hulself 'n nuwe werklikheid begin vestig het was die Christelik-Westerse Wêreldbeskouing reeds ten volle deel van hul wese. Hierdie wêreldbeskouing is nooit op ander gemeenskappe in Suid-Afrika afgeforseer nie. Hulle is grootgemaak met streng Protestantse waardes, en was vas oortuig dat hulle reis op in Afrika sonder die genade van God 'n verlore stryd van dag een af sou wees. Hulle het daarom aangehou om daagliks streng te hou by hul Bybelstudie- en gebedsgewoontes, en hulle het die werk wat hulle op 'n daaglikse basis moes doen beskou soos wat hulle in Europa geleer is om werk te beskou. Dit bring ons by ons tweede vraag:

Waar kom hierdie wêreldbeskouing vandaan?

Tot en met 312 n.C. was Christene in die Romeinse ryk vir hul geloof vervolg. In 313 n.C. het die Keiser Konstantyn, na sy bekering in 312 n.C. met 'n Edik verklaar dat Christendom in die Romeinse Ryk wettig is, en verdra moes word. In 380 n.C. is Christendom as die enigste geloof van die Romeinse Ryk verklaar – Christelike waardes soos wat die Bybel dit leer het die samelewing mettertyd omvorm. In 1517, met die begin van die Protestantse Reformasie in Europa het 'n verdere verdieping en verskerping in die wêreldbeskouing by die weste van Europa plaasgevind. Die vereistes van die Bybel is herbevestig as vereistes wat verhewe is bo die vereistes van die staat, in so 'n tyd of plek waar dié vereistes van mekaar verskil. Waar vereistes van die staat die Bybel nie geopponeer het nie is dit streng nagevolg, omdat Protestante die mag van die staat as mag van God beskou het, en steeds doen. Ook die kerk van die tyd, wat uitsprake gemaak het, wat met die Bybel verskil het, is deur hierdie reformasie as veragtelik beskryf.

Wat behels die Christelik-Westerse Wêreldbeskouing dan in praktyk?

Soos wat ons reeds bepaal het, is daar by die Christelik-Westerse Wêreldbeskouing 'n groot gehoorsaamheid aan die staat, waar die staat in lyn met God se woord optree. Hierdie beskouing kom vanuit die vyfde gebod, wat voorhou dat gesag gerespekteer moet word, sowel as die gedagte dat alle mag van God af kom.

In die werkplek het die Christelik-Westerse Wêreldbeskouing 'n massiewe impak op die mens se werksetiek. Johannes Calvyn, een van die eerste Protestante, het aangevoer dat alle werk makliker word, selfs swaar werk, wanneer die doener van die werk verstaan dat God hom of haar tot hierdie werk roep. Martin Luther, die eerste hervormer, het aangevoer dat die mens nie vir die koning of die maatskappy werk nie, maar vir God. Ek gee dus nie om of ek harder of meer as ander mense in die besigheid moet werk nie, want ek werk nie vir die besigheid nie, maar vir God.

Daar is natuurlik, veral in Wes-Europa (maar ook elders), baie mense wat nie gelowig is nie, maar hulle benadering tot die werkplek is egter steeds gevestig in 'n kultuur wat aan Christelike waardes 'n ereplek reserveer. Die wêreldbeskouing van die Weste is 'n Christelike wêreldbeskouing, juis omdat die beginsels daarvan uit die Christelike geloof spruit.

As samevatting kan ons dus ons eie wêreldbeskouing as volg opsom: Arbeid is adel, ons moet dit in dankbaarheid en nederigheid aanpak. Ons werk nie vir roem, of eer, of geld nie. Ons werk omdat dit ons roeping en ons verantwoordelikheid is om hierdie berg so goed as moontlik, met integriteit en ywer uit te klim.

  • 21
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close