Algemeen -

Voor sukses kom sukkel

Ek het 'n paar jaar gelede 'n koppie geklim saam met familie. Dit was 'n gesukkel. Ek kon nie by die res van die groep bly nie en ek het geblaas soos 'n bees toe ek bo kom. Die afklim was ook nie maklik nie. Terug by die huis het ek myself bekyk, besef dat ek in 'n onfatsoenlike vetsak ontaard het en 'n plan gemaak. In die gim het ek nie geweet wat ek doen nie, dus moes ek maar 'n kenner raadpleeg. Nou, seker vier jaar later, klim ek berge met gemak uit. Die proses was moeilik, maar dit was nodig. Die moeilikste was om te begin en om te aanvaar dat ek maar gaan sleg lyk voor ek sal verbeter.

Ook in die ekonomie is dit moeilik om te besef dat 'n land eers moet sukkel voor hy kan uitstyg en suksesvol word. As werkloosheid, soos hier, die groot probleem is, is dit byvoorbeeld sinneloos om dit moeilik te maak om nuwe werk te skep. Die regering is nie bereid om te aanvaar dat mense onder sal moet begin nie. Onder druk van veral die sosialistiese vakbonde stel hulle dan minimum lone in en maak wette wat goed sorg vir almal wat reeds werk het, maar wat dit amper onmoontlik maak om nuwe werk te skep.

Ons regering probeer baie hard om die verkeerde probleme op te los. Dit is baie soos om 'n marathon te probeer draf terwyl dit nog moeilik is om rondom die blok te stap. Al wat jy sal regkry is om jouself te verneder en 'n paar beserings op te doen.

En dit is ook wat met die Suid-Afrikaanse ekonomie gebeur. Ons het al die inflasie, maar sonder die groei. Ons het byvoorbeeld nog steeds nie heeltemal van die pandemie herstel nie. As ons in ag neem dat ons groei van omtrent 2,5% per jaar nodig het net om konstant te bly, het die land eintlik baie ver agteruitgegaan. En wat “beserings” betref, hoef ons nie veel verder te kyk as die jeugwerkloosheidskoers van 75% nie.

Die Suid-Afrikaanse regering moet maar na homself kyk en besef dat hy eintlik die probleme wat hy probeer oplos, vererger. Ek wonder soms of ons regering ooit bewus is van die probleme wat hier aangepak moet word. Probleme kan nie wegreguleer word nie. Ons regering maak graag wette asof hulle 'n ontwikkelde land reguleer. Dit het maar net tot gevolg dat geen ontwikkeling moontlik is nie. Maar dit maak ook nie vir hulle saak nie. Al wat vir die land se twee groot partye tel, is dat die res van die wêreld na ons kyk en ons wette “progressief” noem.

Vir regerings is dit nie eers nodig om kenners te raadpleeg nie. Hulle hoef net te kyk na die lande wat in die afgelope eeu groot vooruitgang gemaak het. Gaan kyk na Japan wat in een geslag gegaan het van 'n nasie van bestaansboere tot een van die wêreld se mees ontwikkelde lande. Dieselfde geld vir Singapoer, Suid-Korea en die Skandinawiese lande. Die begin was in alle gevalle om te sorg dat almal geleenthede het, selfs al was die geleenthede geensins “mooi” nie. Dit was oor die algemeen eentonige fabriekswerke. Daardie fabriekswerkers se kleinkinders is vandag van die rykste mense op aarde.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close