Algemeen -

Vooroordeel verskuil as empatie

Stel jou voor – dis die boksgeveg van die dekade. Mense het miljoene dollar betaal vir sitplekke om die kryt en het van oor die wêreld gevlieg om daar te wees. Pietie en Jannie slinger maande voor die geveg uitdagende en soms selfs beledigende stellings oor mekaar op sosiale media. Als 'n foefie om meer kaartjies te verkoop, maar dit gryp die wêreld se aandag aan. Op die aand van die geveg sit die wêreld vasgenael voor skerms en kyk hoe Pietie en Jannie in die eerste ronde appels swaai. Die geveg is op 'n mespunt gebalanseer, maar dan kry Pietie die oorhand. Jannie se fut is uit en hy kry skaars 'n hou in. Hy val, maar staan elke keer op. “Prysenswaardig,” sê die kommentators, wanneer hulle nie besig is om Pietie se harde houe wat die een na die ander land, te prys nie. Later wonder hulle hoekom Jannie nog probeer, want hy kan tog nie terugslaan nie en op punte is hy so ver agter dat dit geen doel dien om aan te gaan nie. Net toe die klok die einde van die geveg aankondig, hardloop 'n man na die kryt, klim deur die toue en fluister iets in die skeidsregter se oor. Al die spanning is oor en die gehoor wag dat die skeidsregter Pietie se vuis omhoog lig en hom as wenner kroon. Maar nee! Jannie se vuis word gelig en hy word as wenner gekroon, want sien, die man wat opgetrippel het, is die ekwiteitsbeampte. Jannie het 'n moeilike lewe as enigste kind in 'n enkelouergesin aan die verkeerde kant van die spoor gehad. Die feit dat hy daar is, is 'n oorwinning op sigself.

Dit is belaglik, maar dit is die soort uitsprake wat ons elke dag teëkom – nie net in sport nie, maar in die wêreld oor die algemeen. Selfs by die Olimpiese Spele sien ons dit. In die 100 m-uitdunne is 'n atleet van Angola gediskwalifiseer oor hy uit sy blokke opgestaan het sonder om sy hand op te steek. “Maar het hy dit geweet?” wou die kommentators weet. Wil hulle regtig weet of 'n Olimpiese atleet die reëls van sy sport ken? Of dink hulle dat iemand uit Afrika, 'n swart man, te dom is om vir sy oortreding aanspreeklik gehou te word? So 'n aanname is tog rassisme van die ergste graad. Maar die kommentators sê dit met 'n empatiese “Shame, the poor guy …” op dieselfde manier as waarmee 'n mens oor 'n kleuter wat 'n kaktus met sy handjies probeer pluk, sou praat.

Van die sportveld af sien ons die verskynsel ongelukkig ook elke dag. Volgens Marxistiese retoriek wat deesdae die meeste akademici en meningsvormers se denke oorheers, behoort ons almal tot onveranderbare klasse. Ongelukkig is klas nie iets wat 'n mens sommer net so kan sien nie. Daarom vervul Kritiese Rasteorie, 'n onderafdeling van Kritiese Teorie, wat weer 'n onderafdeling van Marxisme is, 'n belangrike rol hier. Ras neem die plek in van klas en kom rofweg daarop neer dat jy 'n groter slagoffer is hoe donkerder jou vel. Hoe ligter jou vel, hoe groter oortreder is jy. Met ander woorde, as ek te voet by die Spar aankom om melk te koop, en ek moet uit die pad spring vir 'n swart man in sy blink Maserati, bly ek die oortreder en hy die slagoffer, want my mense is die skurke in die geskiedenis.

Dit word so ver gevoer dat party van die grootste uitbuiters van hierdie sotlikheid 'n argument sou aanvoer soos dat ek, bloot deur my teenwoordigheid in die parkeerterrein, 'n Afrikaan se reg op vrye beweging in Afrika belemmer het. Snert, as ek nou al ooit snert gesien het. Maar dit is eintlik nie so ver weg van die nonsens wat EFF-leiers, biskoppe van die Anglikaanse kerk, politieke wetenskaplikes van Port Elizabeth en jeugdiges met 'n onverklaarbare skuldgevoel dikwels kwytraak nie. Snaaks genoeg het Steve Biko self destyds daarteen gewaarsku dat “wit liberale,” juis aan swart mense se kant is omdat hulle nie glo dat swart mense daartoe in staat is om hulself sonder wit hulp te bevry nie. Rassisme, dus. Ongelukkig het deesdae se empatiese onderdrukkers nog nooit na hul eie uitsprake gekyk en besef wat hulle regtig deur hul meerderwaardige glimlaggies sê nie.

Elke swart prestasie is 'n wonderwerk en elke wit een 'n misdaad, of so klink dit deesdae. Afgesien daarvan dat hierdie soort denke mense van hul welverdiende prestasie ontneem, laat dit mense wonder of hulle regtig tot enigiets in staat is sonder ander mense wat namens hulle die klippe uit hul pad rol. Dit gebeur tot so 'n mate dat baie jongmense, wit en swart, dikwels wonder of dit nog alles die moeite werd is, want die hele wêreld voer 'n komplot teen hulle, asof die feit dat harde werk, ongeag wie dit verrig, altyd op die ou end beloon word.

Ja, dit is 'n feit dat die geskiedenis party mense bevoordeel het en dat huidige regulasies ander weer benadeel, maar in die geskiedenis het niks iemand nog so erg benadeel soos om nooit eers te probeer nie. Die sleutel tot sukses lê altyd by die individu wat besluit waar hy in die lewe wil wees, en wat dan ondanks alle teenkanting en hindernisse aanhou om uiteindelik daarby uit te kom. Die mense wat jou aan hindernisse en teenkanting herinner, dra dalk jou beste belange op die hart, maar eintlik word hulle self ook hindernisse.

Foto bron: Skitterphoto | Pexels

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close