Daar is min dinge by die werk wat so lekker is as om ná die vroegoggendstormloop tydens jou teetyd op te staan en vir ’n rukkie by ’n kollega te gaan ontlaai. Die werkplek kan soms besig en oorweldigend raak met al die spanning en uitdagings wat dit bied, maar dit is die nabyheid van ’n kollega wat jou ervarings deel wat die werksomgewing positief en produktief maak.

Navorsing toon dat vriendskappe wat in die werkplek gevorm word sterker en meer emosioneel ondersteunend is as ander vriendskappe juis omdat gedeelde ervarings betrokke is. Verder toon studies dat werknemers gelukkiger in hul werk is wanneer hulle vriende is met hul kollegas. Danksy vriendskappe onder kollegas vind hulle hul werk lekkerder en meer bevredigend.

Die vraag wat ons onsself egter moet afvra, is of dit ’n goeie idee is om werksvriendskappe te hê. Volgens kenners is die antwoord “ja” en “nee.”

Sekere navorsing toon dat werksvriendskappe positief is omdat kollegas ’n baie sterk sosiale ondersteuningsnetwerk vir mekaar ontwikkel, sowel op persoonlike vlak as op professionele vlak. Verder word ’n werkplek waar vriendskappe met verloop van tyd ontwikkel het as ’n produktiewe werkplek bestempel. Die rede hiervoor is dat daar vertroue en samewerking bestaan asook die feit dat hulle doelwitte deel.

Vriendskappe in die werkplek kan help om spanning te ontlaai omdat ’n mens minder geneig gaan wees om gespanne te wees as jy meer praktiese ondersteuning in spanningsvolle situasies kry.

Die grense tussen om kollegas te wees en om vriende te wees, kan egter in die werkplek vervaag en dit kan aanleiding gee tot die negatiewe sy verbonde aan vriendskappe by die werkplek. Dit kan byvoorbeeld gebeur dat kollegas groter prioriteit aan die vriendskap as aan die werk self gee. Vriendskappe kan belemmer word as jou vriend bo jou bevorder word en jy nou aan hom/haar moet rapporteer. As jou vriend ’n senior posisie het, kan jou kollegas meen jy word voorgetrek wat weer aanleiding kan gee tot bewerings van diskriminasie, vergelding, of selfs onregmatige ontslag.

Oor die algemeen is die ontwikkeling van kantoorvriendskappe gesond en kan dit voordelig wees vir jou ontwikkeling in die werkplek, maar jy moet altyd in gedagte hou dat die vriendskap stadig en natuurlik moet ontwikkel om ’n suksesvolle werksvriendskap te wees.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Wilmarie Brits


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close