Algemeen -

Vriendskap

Om goeie vriende te hê, is ‘n groot voorreg. Dit is lekker om die lief en leed van die lewe te deel met iemand wat vir jou omgee. Dit is lekker om te gesels met 'n vriend wat jou verstaan en aanvaar vir wie jy is.

By ‘n vriend kan ek eerlik wees, voor hom kan ek hardop dink. Teenoor hom kan ek opreg en spontaan optree, kan ek wees net soos ek in werklikheid is – Ralph Waldo Emerson.

‘n Italiaanse spreekwoord lui: Drie dinge is nodig om ‘n vriend te behou: respekteer hom in sy teenwoordigheid, prys hom in sy afwesigheid en help hom in sy nood.

Dit is baie belangrik om tyd vir jou vriende te maak. Om hulle belange op die hart te dra. Om daar te wees as hulle jou nodig het. Om self ook ‘n ware vriend te wees.

Vertroue, liefde en lojaliteit is die belangrikste kenmerke van ware vriendskap. As jy iemand gevind het met wie jy jou diepste geheime, jou vrese en bekommernisse met vertroue kan deel, dan het jy ware vriendskap gevind. Vriende voor wie jy emosioneel ontbloot kan staan, moet gekoester word – Ansie du Plessis.

Vriendskap is gee en neem. Luister, deel, doen, help, vertroos, lag.

‘n Ware vriend praat vryelik, adviseer regverdig, onderskraag geredelik, verdedig dapper en verander nie – William Penn.

Dit is so lekker as mens na ‘n lang tyd by 'n vriend kuier en net kan aangaan waar jy die vorige keer opgehou het – al het daar heelwat tyd verloop. Die lewe se gejaag óf veranderinge wat plaasvind, kan maak dat mens nie meer so gereeld by mekaar uitkom nie. As dit egter ware vriendskap is, maak tyd en afstand geen verskil nie.

Ware vriende stap saggies en versigtig in ‘n mens se lewe in en laat jou sonder woorde weet dat hulle daar is om te bly deur al die seisoene van jou lewe – Floris Knouwds.

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close