Algemeen -

Vriendskappe wat die tyd deurstaan het

Vandag sit ek en dink aan goeie vriende wat ek langs die pad verloor het.

Afstand speel seker maar die grootste rol. Die spreekwoord lui nie verniet: Uit die oog, uit die hart, nie.

Wanneer jy ver is van jou vriende, is dit moeilik om net vinnig in te loer, ‘n koppie tee te drink en te gesels oor die lewe se wel en weë.

Dit is sleg wanneer mens 'n vriend verloor. Dit is hartseer dat iemand wat eens só 'n groot rol in my lewe gespeel het, net nêrens meer “is” nie. Ons het in verskillende rigtings beweeg en gegroei. Los van mekaar.

Soms sal ek nog probeer kontak maak, maar dit is net nie meer dieselfde as wat dit was nie. Die lewe het 'n manier om mense te verander.

Tóg sal ek altyd nostalgies terugdink aan die tye toe ons vriende was!

Ek is bly oor al die nuwe vriende wat bygekom het. Vriende wat naby is en saam met wie ons gereeld tyd kan spandeer.

Ek is ook dankbaar vir die vriende wat ek behou het ten spyte van die geskarrel van dagtake en verpligtinge. Ten spyte van afstand. Daardie vriende wat ek net dan en wan sien, maar met die weersiens, gaan ons net aan waar ons die vorige keer opgehou het. Dit is lekker om weer op te vang. Geen ongemaklike stiltes nie. Steeds op dieselfde golflengte. Dit voel of niks verander het nie.

Ware vriendskap moet die tyd kan deurstaan. Hoe ouer ‘n mens word, hoe meer besef jy hoe kosbaar die vriende uit jou jeug is: vriende wat deur dik en dun by jou gestaan het, vriende wat vandag nog daar is vir jou wanneer jy hulle nodig het, vriende wat jou só goed verstaan dat julle ook sonder woorde kan kommunikeer – Nina Smit.

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close