Algemeen, Kultuur -

Vroue – die maatstaf vir ons samelewing

Deur Reon Janse van Rensburg

Heldinne. Kan jy nog die name van die heldinne uit die geskiedenis van wie jy op skool geleer het, onthou? Die name van gewone vroue wat buitengewone dinge met dapperheid aangepak het ter wille van oorlewing, en die heel belangrikste, uit liefde – liefde vir haar man en kinders, maar ook vir haar medemens en land.

Maria Koopmans-De Wet, Emily Hobhouse, Johanna van der Merwe, Susanna Smit, om slegs 'n paar bekende name te noem. Ander name kan ook by die lys gevoeg word. Die name van jou eie ma, asook haar voorgeslagte van moeders. Net soos die liefde van 'n ma vir haar kinders nie een kind bo 'n ander uitsonder nie, word geen heldin bo 'n ander uitgesonder nie. Helde of heldinne word nie gemaak of gebore nie. 'n Held of heldin is enige mens wat gehoor gee aan iemand wat om hulp roep.

Het jy al die roepstem van 'n vrou gehoor?

Op Woensdag 4 Augustus 1915 het duisende Afrikanervroue, Helpmekaar-verteenwoordigers van 65 000 vroue vanuit al die provinsies landswyd, na Pretoria opgeruk om 'n petisie vir die vrylating van alle aangehoude Rebelle en die opheffing van hul vonnisse aan die goewerneur-generaal van die Unie, burggraaf Sydney Charles Buxton, by die Uniegebou te oorhandig. In wese het die petisie daaroor gehandel dat genl. Christiaan de Wet en sy mede-aangehoudenes vrygelaat word en dat alle opgelegde vonnisse opgehef word ter wille van vrede, die toekoms en onderlinge verdraagsaamheid in die land.

Met Mev. Joubert, een van die organiseerders van die optog, aan die spits en duisende vroue wat haar aanspoor, is die versoekskrif aan die skare voorgelees, waarna dit deur al die aanwesiges deur die opsteek van hande goedgekeur is. Die skare het toe na die Uniegebou opgeruk het vir die vergadering met Buxton. Botha en Smuts was woedend. Hierdie einste vroue wat geen stemreg of regstatus in die gemeenskap gehad het nie, het eise aan die regering gestel. (Stemreg is eers in 1930 deur die toedoen van generaal J.B.M. Hertzog by wyse van wetgewing aan vroue toegeken.) In sy konteks gesien, het dié optog plaasgevind in 'n tydperk toe die vrou haar plek moes ken – die kombuis of die kinderkamer.

Die Vrystaatse joernalis, W. Postma, het destyds geskryf: “Aan hierdie oproep is op eg vrouwelike wijse gehoor gegee, sonder redeneer, sonder versuim, sonder berekening van koste of moeite. Die liefde het geroep, die liefde het gehoorsaam.”

Hierdie vroueoptog het 'n duidelike stempel op die Suid-Afrikaanse geskiedenis en ook op die Afrikaner se geskiedenis afgedruk en hierdie vroue kon na hul huise terugkeer met 'n gevoel van trots omdat hulle deel kon wees van die eerste massa-optog van vroue wat protes aangeteken het teen onbillikheid. Vir die eerste keer het vroue getoon dat 'n chauvinistiese stelsel ook met hulle rekening moes hou en dat hulle ook as landsburgers beskou moes word. Die vrou is die stem wat nie meer geïgnoreer kon word nie. Haar naam is meer as net vrou en moeder!

Hoe klop 'n vrou se hart?

Die bekende dr. Theal het in Maart 1900 in 'n onderhoud met die Manchester Guardian gesê dat die Engelse die gees van die Boere hopeloos verkeerd interpreteer. “Onthou, dat anders as in 'n Europese oorlog, die vroue die grootste voorstanders van 'n oorlog tot die bitter einde is.”

'n Vrou se hart is lojaal teenoor haar geliefdes. Sy het goeie intuïsie en 'n simpatieke luistervermoë. Deur haar word ons gevorm en geskaaf, maar op 'n sagte manier weer op die lewenspad gestoot as ons daarvan afdwaal. Voordat sy enigiets anders is, is sy 'n vrou. 'n Vrou het wonderlike idees, droom ook, het haar eie gevoelens en is haar eie mens. Met 'n kruisie kan sy 'n keuse maak, maar sy kan nie daarmee vervang word nie. Met 'n kruisie kan sy 'n toekoms bepaal; sonder die kruisie, is sy daar ook haar eie mens Met 'n drukkie kan sy die las ligter maak en met woorde uit haar hart kan sy jou bemoedig om op te staan, aan te hou en nie op te gee nie. ‘n Vrou stel haar kinders eerste en sit haarself laaste op die lys.

Die geloof en dapperheid van die Boerevroue en -kinders in die tye toe hulle gely het, het die respek van vriende sowel as vyande afgedwing. Hulle het alles vir die behoud van vryheid opgeoffer.Talle van hulle het die hoogste prys betaal- hulle het gesterf.

Susanna Catharina Smit was die Voortrekkervrou wat aan die Engelse offisier gesê het dat die Voortrekkers eerder kaalvoet terug oor die Drakensberge sal stap as om onder Engelse gesag te staan “Ons trek eerder kaalvoet oor die Drakensberge” (as om weer verkneg te word).

“Die Kaalvoetvrou”, ’n een-en-’n-half maal lewensgrootte standbeeld deur Alfonso Smuts van ’n Voortrekkervrou staan vandag naby Bergville en is verseker 'n besoek werd.

Vandag is die Afrikanervrou steeds die kaalvoetvrou al dra sy soms rooi hakskoene. Sy is steeds die sterk vrou wat hand bysit om dinge te laat werk. Sy is die werkende ma wat soggens vroeg opstaan om haar kinders se skoolklere reg te sit en kosblikke te pak en wat vanaand, ná 'n lang dag by die werk, met huiswerk help, want sy stel die voorbeeld van harde werk en sukses en dra dit oor aan haar eie.

Tydens die onthulling van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein op 16 Desember 1913 het president M.T. Steyn gesê dat die monument nie opgerig word as teken van haat of ewigdurende verwyt nie, maar eerder om die liefde te bevorder. Dit is presies wat die hart van 'n moeder is – 'n hart sonder verwyt, wat liefde bevorder en vergewe.

Wanneer vroue nie meer liefde bevorder nie, nie meer vergewe nie en nie meer in staat is om ons te bemoedig in tye van swaarkry nie, is daar 'n groot probleem. Vroue is die maatstaf vir liefde en aansporing in ons gemeenskap. Daar is kenmerke van die kaalvoetvrou in al die vroue van Suid-Afrika.

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close