Algemeen -

Vrouwees en die “geen-aksie-protes”

Deur Johnell Pelser

Ek wou nie saam op die wa spring toe geweld teen kinders en vroue skielik weer op die voorgrond getree het nie. Dit is ’n onderwerp wat ek vanweë persoonlike redes liefs vermy. Maar gister het ek gehoor van iets wat onmiddellik wrewel by my laat ontstaan het. Ek het gevoel hoe verset en kwaad in my opstoot.

Blykbaar sou ’n “geen-aksie-protes” op Woensdag, 11 September 2019, plaasvind. Dit behels dat geen vrou enige iets moet doen nie – nie ’n vinger moet lig of aan enige aktiwiteit moet deelneem nie, glo in meegevoel met slagoffers van die hierdie grusame misdade – ’n soort bewusmakende verset.

Ek verstaan dat ons die aarde moet skud, dat daar daadwerklik en ferm teenoor hierdie misdadigers opgetree moet word, dat ons land (en die wêreld) se weerloses teen hierdie genadelose wreedheid beskerm moet word.

Maar niks doen nie? Vir ’n hele dag? Staak? Sodat mans kan sien hoeveel elke vrou doen en wat haar waarde en rol is? Ek hoef nie my bestaansreg as vrou te verdedig nie. Ek hoef my waarde aan geen ander te bewys nie.

Ek is geen feminis nie, maar teen hierdie beweging maak ek my rug krom. Om te staak sal volgens my absoluut niks vermag nie. Ek sal slegs diegene straf wat my in goedheid ondersteun en beskerm; hulle verontrief. Buitendien, dit is juis as gevolg van hierdie misdade teen vroue wat ek nie kan bekostig om vir ’n dag lank niks te doen nie – ek het kinders en ek is in hierdie stadium al een wat oorgebly het om hulle te versorg.

En dan is daar die niksdoen op sigself wat my kwel. Ek sal nie met my handjies op my skoot gevou kan sit en niks doen en myself aan die saligheid kan oorgee nie, selfs al is dit net vir een dag. Veral omdat ek ’n slagoffer was. Geen skeef aangegroeide ribbebeen of letsel aan my siel sal toelaat dat ek ’n dag lank sit en weier om vrou te wees nie want die kern van my vroulikheid lê juis in die krag wat ek het om te kan aangaan en om te kan voortbeur en om te kan werk. Om te kan sorg en om iets te kan beteken vir my mense en die samelewing.

Ek wil gee … ek kán gee. Ek kan sag en weerloos bly, en ek kan weier dat verbittering my lewe verpletter en my hard en ongenaakbaar maak. Ek kan opstaan. Ek kan veg. Teen alles wat verkeerd is; vir almal wat swak is. Maar ek kan nie niks doen nie. Vir my is dit soos oorgee. Dit is soos aanvaar en toegee dat hy sy sin gekry het. Deur aan te gaan en my werk te doen en my kinders te versorg bring ek hulde aan dié wat met hul lewens moes betaal.

Ek gaan nie aan ’n geen-aksie-dag deelneem nie. Ek gaan aktief wees. Ek gaan my vryheid vier om ’n normale lewe te kan lei – veral namens dié wat nie meer die voorreg het om dit te kan doen nie. Ek gaan my verantwoordelikhede nakom en ek gaan my weerloosheid aanvaar want dit is deel van vrouwees en vrouwees is deel van my.

  • 47
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close