Algemeen -

Vryheid – Die belangrikste waarde vir enige samelewing

Op 23 Maart 1775 in Virginia, lewer Patrick Henry 'n toespraak waarin hy sê: “give me liberty or give me death.” Die gevolg is dat die VSA tot vandag toe nog die vryste land in die wêreld is. As ek een ding in ons samelewing kon verander dan sou dit wees om meer vryheid te hê: vryheid om te kies watse taal ek wil praat; om my kultuur uit te oefen soos ek wil; om te kan assosieer met wie ook al ek wil en om te vermy wie ook al ek wil; ek wil hê besighede moet kan hul sake bestuur nes hul wil. Al wat ek soek is die vryheid om te kan kies ongeag hoe ander oor my keuses voel, en verder dat almal die gevolge van hul keuses sal dra.

 

Natuurlik is dit so dat jou vryheid beperk word deur die regte van ander mense. Dit is onseker wie presies die stelling gemaak het, maar my ideale siening van regte word soos volg saamgevat: “my right to swing my fist ends where another man’s nose begins.” Met ander woorde, solank as wat my beoefening van my reg nie enige van jou regte oortree nie, dan is ek vry om te maak soos ek wil.

 

Derhalwe, al is iemand krities oor die idee van Afrikaanse onderrig op universiteite, regverdig dit steeds nie die wegneem van die universiteit se vryheid om daarvoor te kies nie. As jy nie hou van godsdiens op skool nie dan is dit een ding, maar behoort skole nie ten minste hul eie keuse te kan maak nie?

 

Die onderliggende waardes van al hierdie debatte is inderdaad belangrik, maar die kritiese element is die beginsel van vrye keuse. Mense behoort te kan kies hoe hul lewens en dié van hul kinders bestuur moet word. Ongeag of iemand anders daarmee saamstem of nie. Ek het geen probleem met Engelse universiteite nie, nog met sekulêre skole maar dit moet altyd die mense se eie keuse wees en solank mens nog kan alternatiewe skep en kies.

 

'n Suksesvolle samelewing is nie noodwendig een waarin almal presies dieselfde voel oor alles nie. Dit is nie eers een waar verskille met mekaar versoen moet word nie. Ons mag almal anders wees en anders dink. Ons het ook 'n reg om te kies om slegs met mense te assosieer wat wel soos ons dink.

 

Ons benodig nie 'n regering met die regte waardes wat almal gaan regruk nie. Ons benodig 'n regering en 'n politiese milieu waar die staat uit mense se lewens bly en hul toelaat om hul eie lewens te bestuur, of ander daarvan hou of nie. Moet ook nie aanvaar dat dit goed sal wees as jou waardes op ander geforseer word nie. Vryheid beteken vryheid vir almal.

  •  
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close