Algemeen, Kultuur -

Vryheidsdag 2020: Was die jong Afrikaner al ooit minder vry?

Vandag, 27 April, is Vryheidsdag.  Die dag waarop die Republiek van Suid-Afrika vryheid vier, op die dag toe die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in ons land plaasgevind het.  Die ironie drup egter soos heuning van hierdie term “Vryheidsdag” af, want van die erkenning van die Afrikaanse taal op 8 Mei 1925 erken is, was die jong Afrikaner nog nooit minder vry as op hierdie einste oomblik nie.  Vryheid is kompleks, en bestaan in verskillende vorme.  Die hartseer punt is dat meer en meer van hierdie vryhede, of vorms van vryheid, die jong Afrikaner vandag op laagtepunte is.

  1. Fisiese vryheid

Ondanks die gehoorsaamheid van 99% van landsburgers, is die toestand van inperking in Suid-Afrika, as amptelike reaksie op die COVID-19 pandemie, besig om absurde mates te bereik.  Daar is natuurlik ruimte vir logiese inperkings, maar waar die regering veronderstel is om so veel van ons vryheid as moontlik te behou, kom dit voor asof hulle soveel moontlik daarvan wil inperk.  Kompleet soos ‘n toneel uit V for Vendetta of The Hunger Games, is daar nou vir Suid-Afrikaners ‘n klokreël ingestel.  As jy na 20:00 saans buite jou huis is, wag daar vir jou moeilikheid.  Ooglopend moet die magsvergryp van die Suid-Afrikaanse regering gekritiseer word, dit is vir enige mens duidelik dat ‘n intelligente burgery nie soos skape hanteer moet word nie, en dat die voordeel van hierdie skuif weglaatbaar min is, juis omdat daar reeds beperkings op bewegings gestel is.  Hierdie is ‘n magsvertoon, en ‘n magsvergryp.  In terme van vryheid, moet ek erken dat ek in my lewe nog nooit in hierdie manier ingeperk is nie, en dit is so vir baie ouer mense in Suid-Afrika ook.  Dus, eerste tipe vryheid, fisiese vryheid – baie laag vir die jong Afrikaner, en vir al sy mede-landsburgers.

  1. Ekonomiese vryheid

Waar die klokreël se belaglikheid vir almal ‘n ergernis is, is daar vir die jong Afrikaner nog verskeie ander inperkings op sy vryheid, inperkings wat nie vir almal in Suid-Afrika geld nie.  Ekonomiese vryheid kan gesien word as jou vryheid om toe te tree tot en deel te neem aan die ekonomie.  Jong Afrikaners word deur middel van Swart Ekonomiese Bemagtiging of SEB, wat meer bekend in sy Engelse vorm, BEE, is, aktief verbied om deel te neem aan die ekonomie.  Vir ‘n maatskappy om werk met die regering of met groot maatskappye te doen, moet hy aktief kan aantoon dat hy stappe geneem het om minder witmense aangestel het as vantevore.  As ‘n mens jouself toelaat om emosioneel hieroor te raak is ‘n goeie vraag hoe op aarde so iets moreel regverdigbaar is, om afgestudeerdes, wat van apartheid niks geweet het nie, wie se ouers in baie gevalle afgelê of benadeel is op grond van hul ras, dan nou nog voor die voet uit die ekonomie te druk.  Dit klink soos ‘n simpel grap, maar dit is nie.  Selfs na die Anglo-Boereoorlog, toe baie boere niks gehad het nie, kon hulle hulself uit die verderf uit werk, en besighede stig, en as hulle goed genoeg is, besigheid met enigiemand doen.  Te wit vir ‘n werk is ‘n werklikheid vir die jong Afrikaner.  In die lig van die huidige inperking, en met al hierdie SEB maatreëls in ag geneem, is ons bitterlik ingeperk.

  1. Vryheid van spraak

Een van die sleutels tot ‘n samelewing se vryheid van onderdrukking, is sy vryheid van spraak.  Die vryheid van ‘n volk om in koerante te skryf en op plakkate uit te druk dat die besluite van die heerser onaanvaarbaar is – dit is vryheid van spraak.  Die vryheid om inligting aan die mense te gee oor die wandade en vergrype van die regering, dit is vryheid van spraak.  Suid-Afrika, met sy wet op Crimen Injuria, gee die regering die mag om mense toe te sluit vir woorde wat hulle gepraat het.  Dit behoort natuurlik onwettig te wees om mense tot geweld op te sweep, maar om uit te druk dat ek dink ‘n amptenaar is ‘n sot, behoort my nie in die tronk te laat beland nie.  In ander lande sal dit ook nie, dit is slegs Suid-Afrika wat hierdie wet in plek het.  Ook wat vryheid van spraak betref, vier inperking van vryhede tans hooggety.

Ten slotte

Die Amerikaanse President Ronald Reagan het dit mooi gestel: “Vryheid is nooit meer as een generasie weg van uitsterf af nie.  Ons het dit nie aan ons kinders oorgegee in ons bloedlyn nie.  Dit moet beskerm word, en voor baklei word, en aan hulle oorhandig word om dieselfde mee te doen”.

Vir die Suid-Afrikaanse regering, wat openlik op Sosialistiese beginsels geskoei is, en konstant probeer om die vryheid van elke individu te verminder met wetgewing oor vryheid om eiendom te besit, vryheid van spraak, en vryheid om jouself te handhaaf, is Vryheidsdag niks minder nie as ‘n fasade, ‘n klug.

Wat staan ons dan nou te doen?  Vir ons vryhede moet ons opstaan, maar ons moet ook al hoe meer tot die besef kom dat die gemeenskap op homself aangewese is.  Fisiese vryheid sal in die korttermyn bereik word deur die regering by sy eie doeldatums te hou, en kapsie te maak teen magsvergryp.  Ekonomiese vryheid sal bewerk word deur rasbehepte SEB-wetgewing konstant te bevraagteken, en ons ongelukkigheid daarmee op elke platform, plaaslik en internasionaal, te uiter.  Ook deur ‘n netwerk van werk te ondersteun waar jongmense om die regering se giftige poel van rasse uitsluiting kan kom, en werk deur ‘n beroepsgilde kan bekom, is ‘n noodsaaklike oplossing, wat vryhede sal uitbou.  Laastens sal ons vryheid van spraak slegs behou deur aktief, en gedurig daarop aanspraak te maak, en deur ons nie stil te laat maak nie.

Sluit vandag nog aan by Solidariteit Jeug, ons het jou nodig! Besoek www.jeug.co.za en registreer gratis.

  • 20
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close