Algemeen, Politiek, SNI -

‘Vuka amaZulu’

“Die Grondwet kan verander word. Wetgewing kan gewysig word. Maar dit sal nie die onteiening van ons grond regmaak, of aanvaarbaar maak, of moreel regverdig nie.”

Dit is die woorde van Mangosuthu Buthelezi by die Zoeloe-koning se imbizo oor grondonteiening gewees.

By dieselfde imbizo het die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelethini, gedreig dat KwaZulu-Natal dalk moet afstig as onteiening sonder vergoeding sou voortgaan.

Vir Afrikaners is die ontwaking wat nou op kulturele vlak in Suid-Afrika aan die gebeur is 'n ongelooflike geleentheid.

Kultuur nie ras nie

Suid-Afrika is 'n land van elf kulture; nie een van vier rasse nie. Ten spyte van die ANC se beheptheid met ras, identifiseer die meeste Suid-Afrikaners hulle steeds eerder volgens hul moedertaal en kultuur.

Die kunsmatige rassegroepe waarin die ANC die bevolking verdeel, is besig om stelselmatig te verbrokkel. Met die destydse aanstelling van Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat van Pretoria deur die ANC het die eerste openlike klanke rondom verdeling op kultuurvlak opgeklink. Groot gewag is gemaak van die feit dat sy Zoeloe is, en dat Pretoria tradisioneel 'n Pedi-gebied is.

Hierdie gewelddadige protesoptrede rondom 'n burgemeesterskandidaat was 'n eerste leidraad dat Suid-Afrika inderwaarheid 'n versameling van kulture is wat binne die huidige landsgrense saamgebind is.

Artikels 30 en 31 van die Grondwet maak voorsiening vir organisering van gemeenskappe volgens hul taal en kultuur. Ten spyte van hierdie erkenning wat die Grondwet aan taal en kultuur gee, is die ANC deurentyd besig met verengelsing en rassepolarisasie.

Breë front

In hierdie opsig het pres. Ramaphosa ons almal 'n enorme guns bewys met die hele proses van onteiening sonder vergoeding.

Alhoewel die verbrokkeling op kultuurvlak besig was om stadig en stil-stil te gebeur, het die onteieningsdebat die nodige druk verskaf om dit skielik te laat vlamvat.

Elke tradisionele leier in Suid-Afrika is bekommerd oor die staat wat hul grond gaan vat. Die pogings van die ANC en die EFF om kommunisme as rassisme te bemark, het nie gewerk nie.

Dit het Suid-Afrika gedwing om op kultuurvlak daarteen te begin organiseer.

Vir Afrikaners is dit uitstekende nuus. Waar wit boere uitgesonder was as die groot sondebokke, staan hulle nou nie meer alleen nie. Amper onwetend het Ramaphosa wit boere deel gemaak van 'n breë front wat onteiening teenstaan.

Hoofstroomberigte poog steeds om die onteieningsdebat in eenvoudige wit-swart-terme te skets: wit mense se grond moet afgeneem word, want hulle het dit gesteel en dit moet aan arm, swart mense, van wie dit gesteel is, teruggegee word.

Prakties gesproke is die grondkwessie besig om 'n verdeling in die land teweeg te bring wat egter eenheid op kulturele vlak tot gevolg mag hê. Die Zoeloes is openlik daarteen gekant en dreig met geweld. Dit noodsaak dat die verhaal nou in kultuurterme eerder as in rasseterme vertel word, wat 'n beter weerspieëling van die ware toedrag van sake in Suid-Afrika is.

Kulturele selfbestuur

Solidariteit is tot kulturele selfbestuur, oftewel gemeenskapsfederalisme, verbind. Dit beteken basies dat ons vas glo Zoeloes is die beste bevoeg om besluite te neem as dit gaan oor Zoeloe-sake.

Ons ondersteun die Zoeloe-koning se oproep tot groter mag wat afgewentel moet word na kulturele vlak. Dit maak tog net sin dat politici in grys pakke in die ANC se hoofkantoor nie moet besluit wat 'n Zoeloe-gemeenskap in landelike KwaZulu-Natal nodig het nie. Daardie Zoeloe-gemeenskap se leiers en lede is aansienlik meer bevoeg om oor hulself te besluit.

Kulturele selfbestuur is iets waarvoor Solidariteit homself beywer, spesifiek vir die Afrikanerkultuur en vir die Afrikaanse gemeenskap. Daarom ondersteun ons enige kultuurgemeenskap wat die standpunt huldig dat hy eerder self oor sy sake wil besluit.

Alhoewel Suid-Afrika steeds deur 'n sterk sentrale regering geregeer word, sien ons al hoe meer 'n verbrokkeling of federering van Suid-Afrika en hoe die regering se onvermoë op grondvlak omskep word in kultuurgemeenskappe se onafhanklikheid.

Dit is op kultuurvlak wat ons Suid-Afrika gaan laat werk. Dit is waar ons uiteindelik mekaar as verskillende, dog gelyke kultuurgemeenskappe gaan vind en waar ons gaan saamwerk aan 'n toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan saamleef.

 

  • 70
  •  
  •  
  •  
Connie Mulder Deur Connie Mulder


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close