Vyf lesse wat ons uit die Kovsies-aanval leer

Op Dinsdag 21 Mei 2019 het ’n video op sosiale media begin sirkuleer van ’n klomp EFF-studente, in hul rooi gewaad, wat die finansiële hoof van die Universiteit van die Vrystaat eers omring en dan rondstamp.  Deur hierdie hele proses word hy verskeie “keurige woorde” toegesnou.

Die beelde wat vertoon word, pas nie in die 21ste eeu of by ’n universiteit nie; dit is angswekkend en teleurstellend, maar ons kan wel vyf vlugtige lesse daaruit leer.

  1. Die sosialistiese denkwyse het die meeste jeugstrukture in die land oorgeneem.

’n Sosialis weet nie hoe om konstruktief op te bou aan iets nie; alles moet deur stryd, meestal gewelddadige stryd, bekom word.  Getrou aan Karl Marx word geweld die antwoord vir elke probleem, juis omdat dit vrees by jou opponente inboesem.  Al sou jy reeds gratis studeer, leef en eet, die rewolusie moet aangaan.  Hierdie denkwyse het posgevat, en die bestuur van staatsuniversiteite gaan ’n opdraande stryd hê om met hierdie afbrekende denkwyse huis te hou.

  1. Kampusonstuimighede raak effens voorspelbaar.

Ons weet dat eksamens in Suid-Afrika in Junie en in November plaasvind, en sedert 2015 is dit die norm dat ons in Oktober en Mei oproerigheid het.  Is dit toevallig dat oproerigheid net voor die eksamens gebeur?  Miskien.  Hulle wat genoeg tyd op universiteitskampusse deurgebring het, sal wel weet dat enige rede om eksaminering met 'n week uit te stel of laaste inhandigingsdatums opsy te skuif, aangegryp sal word.  Hulle wat beurse sou verloor as gevolg van onderprestasie word dan in sommige gevalle 'n ekstra kans gegee, of ten minste van 'n goeie rede vir hul swak punte voorsien.

  1. Protesaksie is politieke mobilisering

Politieke partye in Suid-Afrika weet baie goed hoe om jongmense te mobiliseer, en dit gaan nie oor beleid of oortuiging nie, maar oor enige krieseltjie diskriminasie of swaarkry wat dalk ervaar mag word, en oor gratis T-hemde en kospakkies.  Die stryd om die jeug se stem word met elke verkiesing meer intens soos wat die meerderheid die tradisionele geel stem vir 'n rooi of blou stem verruil.  Die faksie wat die “grootste impak” op kampus het, word dan as suksesvol beskou, ten minste deur hulself, en wen teoreties gesproke 'n paar stemme.  Loer gerus na partye se leiers se sosialemedia-rekeninge om dinge te sien soos “Ons party het Kovsies se biblioteek heelnag oopgehou; ons baklei vir studente”. In werklikheid het hulle asblikke omgegooi en met sekuriteitswagte baklei, maar wie wil nou die waarheid in die pad van 'n goeie twiet laat staan?

  1. Ons het 'n ernstige probleem met gesag in Suid-Afrika.

Die meeste nugterdenkende mense is dankbaar dat ons samelewing nie meer onderhewig is aan die starre sosiale strukture van die verlede nie.  Platter organisasies, en universiteite waar professore eerder op die naam as die titel genoem wil word, het volgens baie studies 'n goeie effek op die werk- of leeromgewing.  Dit het egter heeltemal te ver gegaan as jongmense dink dat dit aanvaarbaar is om 'n topbestuurslid te lyf te gaan.  Gerugte van onderwysers wat aangeval word, skoolhoofde wat gedreig en skade aangedoen word, en dinge in hierdie lyn, is die harder wordende getik van 'n tydbom.  Ons hele samelewing gaan inmekaar tuimel as verdiende en regverdige respek tot niet gaan.

  1. Universiteite het bang geword.

Dat onstuimighede op kampusse al vir etlike jare in Suid-Afrika plaasvind, weet ons al vir 'n wyle.  Gewoonlik sien 'n mens egter in so 'n video 'n paar groot sekuriteitswagte wat onwettige optrede verhoed, en gewoonlik reik 'n universiteit binne ure na so 'n voorval 'n verklaring uit en belowe dat daar opgetree gaan word teen wetteloosheid.  Na afloop van hierdie spesifieke Kovsies-video kon 'n mens die spreekwoordelike krieke in die agtergrond hoor.  Geen verklaring deur die universiteit nie; geen verskoning aan die bestuurslid nie.

Die slotsom van al hierdie dinge is dit:  As iets lyk soos 'n slang, sis soos 'n slang, voel soos 'n slang en seil soos 'n slang, dan is dit heel moontlik 'n slang.  As studente lyk asof hulle staatsuniversiteite op horings neem, as universiteitsbesture lyk asof hulle te bang is om op te tree teen wetteloosheid, en as optogte lyk asof dit bloot bedoel is om te ontwrig eerder as om 'n ware kwessie te bevorder, is al hierdie dinge moontlik waar.  Kovsies behoort hulself te skaam.  Maar hulle gaan nie.  Miskien as dit iemand anders was wat so geboelie is?  Miskien nie.

  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close