Hierdie week het ‘n paar artikels in die koerante vir my uitgestaan. In elke geval is dit tieners wat in die verskriklikste geweldsmisdade betrokke was. Die hofsaak van ‘n meisie en haar broer wat hulle ouers vermoor het is hervat en in nog ‘n geval is ‘n jong meisie is in ‘n bedenklike toestand in die hospitaal nadat vier jongmense (drie van hulle is tieners) haar in ‘n oënskynlike satanistiese ritueel aan die brand gesteek het. Waar kom al die aggressie vandaan? Verskeie studies probeer antwoorde bied: Een so studie wat in die VSA gedoen is beweer dat tieners wat baie gaskoeldrank drink meer geneig is tot geweld terwyl nog ‘n artikel die gevloekery op TV blameer. Hoewel ek nou nie ‘n studie onderneem het om dit te bewys nie, is ek meer geneig om aan te voer dat kinders se aggressie as gevolg van ‘n gebrek aan opvoeding en betrokkenheid by die huis veroorsaak word.Ek kon binne vyf minute aan ‘n hele rits redes vir hedendaagse tieners se rebelsheid en aggressie dink en ek is seker die lesers van die blog sal nog talle kan byvoeg:

  • Kinders wat in ouerhuise grootword waar Christelike waardes afwesig is, of net lippetaal bly, kweek kinders sonder ‘n kompas wat reg en verkeerd aandui.
  • Ekonomiese omstandighede wat druk, noodsaak in die meeste huisgesinne dat albei ouers moet werk. Dit opsigself veroorsaak nie aggressiewe kinders nie, maar ouers wat nie moeite doen om  nou betrokke te wees in hulle kinders se lewe nie, sukkel dikwels met kinders wat op negatiewe maniere hulle aandag probeer trek.
  • Ouers wat geen grense of reëls stel nie, of wat nie die reëls wat hulle stel konsekwent toepas nie, skep kinders wat glo dat hulle met enigiets kan wegkom.
  • Ouers wat nie saamstaan in hulle kinders se opvoeding nie veroorsaak dat kinders die een ouer teen die ander afspeel en vaardige manupileerders word.
  • Kinders wat nooit vir enigiets moet werk nie en alles kry wat hulle harte begeer (dikwels omdat ouers skuldig voel omdat hulle nie baie by die kind betrokke is nie), dink die wêreld skuld hulle iets. Wanneer hulle die teendeel ervaar, tree hulle aggressief op.
  • Kinders wat mishandel word en nooit hulp kry nie, probeer hulleself beskerm deur aggressiewe gedrag.
  • Kinders wat in enkel-ouerhuise grootword en verwerping deur minstens een ouer ervaar, tree dikwels aggressief op.

Ja, ek is seker dat ‘n oormaat suiker uit gaskoeldrank en die aggressiewe wêreld wat op TV, rekenaarspeletjies en die internet uitgebeeld word ook  bydraende faktore kan wees, maar ek glo dat tieners wat aggressief optree, eintlik maar net ‘n simptoom van ‘n groter probleem in die betrokke huisgesin is.

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close