Algemeen, Gemeenskappe -

Waarheen op Werkersdag vir Suid-Afrika se Jeug?

Die eerste Mei is Werkersdag, ‘n dag waar die getroue werker nie werk hoef te doen nie, en ‘n bietjie kan ontspan.  Vir Suid-Afrika se jeug is ‘n dag van geen werk, ongelukkig al hoe meer die normaal.  Om ‘n geheelbeeld te kry van die toestand van jeugwerkloosheid in Suid-Afrika, moet daar maar net vinnig na die statistieke gekyk word.

Jeugwerkloosheid trek oor die 58%, wat beteken dat bykans ses uit elke tien Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 15 en 24 wat wil werk, nie ‘n werk kan vind nie.  Dit is miskien nodeloos om te noem, maar hierdie statistiek is by verre die hoogste ter wêreld.

Die COVID-19 pandemie gaan ook nie help nie.  Baie jongmense is reeds hul werke kwyt, en ons kan verwag dat hierdie jeugwerkloosheid aan die einde van die tweede kwartaal moontlik oor die 60% kerf sal wees, dalk selfs baie ver oor die 60%.  Die vraag is dan: Waarheen nou?

Waarheen nou vir die Jeug van Suid-Afrika, wat werkloos en moedeloos is?  Hierdie vraag kan dalk retories klink vir sommige, maar daar is heelwat goeie, opbouende antwoorde op hierdie vraag.  ‘n Paar opsies om te oorweeg, sluit in:

  1. Hou aan leer, dit is dikwels gratis!

Met gratis internet beskikbaar in verskeie van Suid-Afrika se metropole en selfs in sommige informele nedersettings, bestaan die moontlikheid van aanlyn klasse ewe skielik vir ‘n magdom jong Suid-Afrikaners, vir wie die deure van onderrig vir die grootste deel van hul lewens toe was.  Enigiets van kriptogeld tot ‘n voorgraadse kursus in Sielkunde by Yale universiteit in Amerika, is aanlyn beskikbaar.  Verbeter jouself, en sit ‘n paar lyntjies by op jou CV!

  1. Doen jou eie ding!

Die voordeel van jonk wees is dat jy in baie gevalle nog nie afhanklikes het nie, wat beteken dat jy effens groter risiko’s kan neem as iemand wat ‘n gesin moet onderhou.  Nou is die tyd om daardie besigheidsplan op te stel en befondsing te begin soek, of daardie boek te skryf waarvan jy al sedert jou skooljare droom.  Die idee van groot korporasies en personeelstrukture is in die geskiedenis van die mensdom ‘n redelik nuwe ding.  Meeste mense het tot in die Middeleeue vir hulself gewerk, en deur een of ander vaardigheid dienste of produkte gelewer wat ‘n inkomste beteken het.

  1. Wees voor die golf

Die wêreld van werk is besig om baie vinnig te verander.  Deur vaardighede op te bou, al is dit sonder betaling, wat in die toekoms vir jou van groot waarde kan wees, sal jy jouself voor die golf sit.  Watter vaardighede gaan oor tien jaar nodig wees?  Daar is ‘n magdom artikels en boeke oor die onderwerp, en deur maar net een of twee van hierdie artikels te lees, sal jy jouself gereed maak vir die volgende golf van geleenthede.

Deur deel te word van Solidariteit Jeug, die enigste gilde vir jongmense op pad werkplek toe, kan jy ook beter ingelig wees, en nuwe tendense eerste raaksien.

Uiteindelik kan ons op Werkersdag maar net een van twee dinge doen: In sak en as gaan sit en iemand anders blameer, of aan die werk spring, en nou begin bou aan ‘n toekoms en ‘n loopbaan wat jou vorentoe sal neem.

  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close